TRUMP SE AGOA-KAARTE NOG STYF TEEN SY BORS
Pres. Donald Trump se onlangse onttrekking van Amerika aan die Trans-Pasifiese vennootskap (TPP) laat ’n mens wonder wat sy planne vir handel met Suid-Afrika en Afrika is. CARIEN KRUGER het twee handelskenners daaroor gevra.
TOT dusver het pres. Donald Trump nog geen ferm standpunt oor die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) ingeneem nie, sê mnr. Christopher Wood, ’n ekonoom by die nie-regeringorganisasie Trade and Industrial Policy Strategies (Tips).
Die wet is in 2015 vir nog tien jaar hernieu – iets wat volgens Wood op sigself ’n wesenlik gunstige ontwikkeling is – en bied aan bepaalde lande in Afrika suid van die Sahara voorkeurhandelstariewe op die Amerikaanse mark.
Suid-Afrika se motorbedryf trek groot voordeel daaruit, en vir die landbou is daar ook groot moontlikhede.
Een van die min kere dat Agoa van Trump se kant af geopper is, is in vrae wat Trump se oorgangspan in Januarie luidens ’n New York Times-berig aan staatsamptenare gerig het: “Die meeste Agoa-invoer is petroleumprodukte, met die voordele wat na nasionale oliemaatskappye gaan. Hoekom ondersteun ons daardie massiewe voordeel aan korrupte regimes?”
Wood sê die toon van die vraag klink skepties, maar dit kan ook dui op ’n gebrek aan begrip vir die dinamika van wie regtig uit die wet voordeel trek. “Ons sal meer voorkomende pogings moet aanwend om aan dié talmende vrae aandag te gee, voor dit algemener teenkanting teen die wet word,” sê hy.
SKERP VERSKUIWING
Mnr. Tinashe Kapuya, hoof van internasionale handels- en beleggingsinligting by die landbousakekamer Agbiz, sê Trump se onttrekking uit die Trans-Pasifiese vennootskap (TPP) skep onsekerheid. Dit is omdat die TPP na verwagting ’n voorbeeld kon wees vir ’n vryehandelsooreenkoms om Agoa op te volg.
Die TPP weerspieël volgens hom Amerika se “hoërvlak”-ambisies, wat “nuwegenerasiekwessies” insluit. Laasgenoemde behels onder meer intellektuele eiendomsreg, regeringsverkryging en sanitêre en fitosanitêre maatreëls (SFS) wat wyer strek as die Wêreldhandelsorganisasie se SFS-ooreenkoms.
“Die onttrekking uit die TPP is dus ’n skerp verskuiwing in Amerikaanse beleid, wat waarskynlik aandui dat Amerika nie meer ’n ambisieuse hoërvlakooreenkoms met Afrika suid van die Sahara sal nastreef nie.”
Kapuya sê dit sou in elk geval vir Afrika-ekonomieë, met hul laer vlak van ontwikkeling, moeilik gewees het om hulle tot sulke hoërvlakambisies te verbind sonder om hul eie agenda vir nywerheidsontwikkeling in die gevaar te stel.
BILATERAAL
Trump se voorkeur vir bilaterale handelsreëlings pleks van mega-streeksooreenkomste kan volgens Kapuya verder belangrike gevolge inhou rakende hoe Amerika Afrika benader.
Hy sê dit is moontlik dat die Trump-administrasie Agoa kan gebruik om handelsambisies met die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) deur sy verhouding met Suid-Afrika na te streef, pleks van ’n mega-streeksooreenkoms wat verskeie Afrikalande insluit.
“Dit kan meebring dat Amerika sy belange op die vasteland kan toespits op Suid-Afrika of die Sadu pleks van ander dele
HERSIENING
Intussen, terwyl Agoa in werking is, kan Suid-Afrika en ander Agoa-begunstigde lande te eniger tyd hul voordele verloor weens wysigings aan die wet wat reeds in oudpres. Barack Obama se ampstermyn gemaak is.
Amerikaanse drukgroepe en maatskappye kan protes aanteken indien hulle ongelukkig is met hul behandeling in ’n Agoa-begunstigde land, wat dan tot die hersiening van ’n land se geskiktheid kan lei.
Wood sê die koste van Agoadeelname kan dus vir lande hoër raak omdat hulle genoop is om aan Amerikaanse bekommernisse aandag te gee.
REAKSIE ONVOORSPELBAAR
Gegewe Trump se proteksionistiese aanslag ontstaan die vraag of Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer ’n kwessie kan word. Kapuya sê dit verteenwoordig egter slegs sowat 4% van Suid-Afrika se totale uitvoer na Amerika en sal dus waarskynlik nie soveel aandag trek nie.
Hy sê dit is ook so dat SuidAfrika se sitrusproduksie, byvoorbeeld, in ’n ander seisoen as Amerika s’n plaasvind en dus nie ’n bedreiging vir sitrusboere daar inhou nie. Sou Amerikaanse belanghebbendes egter ’n landbouverwante klag oor Suid-Afrika en Agoa indien, sal dit moeilik wees om die reaksie te voorspel.
POTENSIAAL
Wood sê dit is nou noodsaaklik dat Agoa-begunstigde lande hul aandag daarop toespits om die beskikbare voordele beter te benut. In die jongste Agoa is daar reëls wat dit makliker maak om voordeel daaruit te trek indien produksiemiddele uit naburige Afrika-lande verkry word. Dit kan help om die voordele van die wet na kleiner lande uit te brei, wat histories gesukkel het om daaruit voordeel te trek.
“Agoa gee ons ’n vlak van toegang tot die Amerikaanse mark wat noodsaaklike strategiese bedrywe ’n mededingende voordeel kan gee bo ondernemings van elders ter wêreld. As ons nie steun aan nuwe uitvoerders bied nie, gaan die potensiaal van die ooreenkoms nie verwesenlik word nie.”
VERSPERRINGS
Wood sê Suid-Afrika se benadering behoort te wees om aan sy verhouding met Amerika ná Agoa te werk. Om dit te kan doen, moet hy seker maak dat die grondbeginsels van sy uitvoerekonomie (soos produktiwiteit en die doeltreffendheid van logistieke netwerke) en sy handelsverhouding (billike voedselveiligheidsregulasies en begrip van mekaar se reëls) gesond is.
“Ons moet nou met Amerika saamwerk om nie-tariefversperrings, veral oor voedselveiligheid, te bowe te kom. Amerika het ’n groot klomp sanitêre en fitosanitêre standaarde.
Slegs 44 lande voldoen byvoorbeeld aan Amerika se standaarde wat hulle toelaat om vleis soontoe uit te voer, en slegs een land, Kanada, kan alle hoofsoorte vleis soontoe uitvoer.
“Amerika het hom daartoe verbind om groter voorrang aan Suid-Afrika se bekommernisse te gee as deel van die ooreenkoms wat oor die uitvoer van hul hoender na Suid-Afrika bereik is. Ons moet seker maak dat ons die voordeel daarvan benut,” sê Wood.
“Uiteindelik is Amerika steeds die grootste uitvoermark ter wêreld en die verhouding tussen Amerika en Suid-Afrika is vir albei lande wedersyds voordelig. Enige reaksie op die nuwe administrasie in die nabye toekoms moet die strategiese belangrikheid van die verhouding op lang termyn in ag neem.”