As ’n monster van ’n brand jou plaas verteer . . .
Jean du Preez, ’n voormalige redakteur van Landbouweekblad, se familieplaashuis en dié van sy suster is onlangs in’ n alles verwoestende brand buite Riversdal vernietig.
Die nuus het al drie dae voor die tragedie gekom: Daar’s ’n brand agter Spogtersgat, maar die suidoos waai, hy dryf hom weswaarts, weg van ons af. Dit was die Sondag. Teen die Dinsdag was die vuur al weer amper vergete, die enigste tekens daarvan ligte rookwolke ver agter die lae berg oorkant die rivier waarteen ons plaas grens, en nou en dan melding op die radio van die brand tussen Stilbaai en Riversdal.
Maar dié aand, ná kykNET-nuus, wys die weervoorspelling hoe ’n laagdruksel om die Kaap en af na die Suid-Kaap gaan beweeg, met baie warm toestande.
Dit dring egter nie tot ons deur nie: In die Suid-Kaap bring ’n laagdruksel eers noordwestewind, en dan swaai hy om na suidwes.
Ons plaas, Windsor, aan die Goukourivier tussen Riversdal en Stilbaai, behoort aan my en my suster, Tobea Brink. Ek bly in Durbanville, sy in Franschhoek, en ons ry net elke tweede week of wat plaas toe. My broer, Jacques, boer ons grond saam met sy plaas, Heuningfontein, net langsaan. Albei plase is familiegrond.
Die Dinsdagaand praat ek en Jacques nog per telefoon oor ’n draadheining wat hy onder naby die rivier herstel, maar hy sê hy twyfel of hy daarby gaan uitkom – hulle voorspel 40 °C vir die volgende dag en dit sal net te warm wees.
Die volgende oggend halfnege bel hy my: “Jong, die wind het omgeswaai noordwes toe. Daar staan swart wolke agter die berg op. Moet ek nie maar brandbane gaan ploeg op die lande onder by die rivier nie?” Ons besluit hy sal die situasie dophou. ’n Driekwartier later stuur Roelie Wentzel, ons opsigter op die plaas, vir my ’n WhatsApp-foto: Die vuur begin oor die berg se kruin lek.
’n Halfuur later kom nog ’n foto. Nou lyk dit soos ’n linie brullende drake wat vuur spoeg so ver jy kan sien; bokant dit malende, pikswart wolke wat die son reeds verduister het.
Ek merk op die foto ’n onheilspellende skadu hang oor die hele gebied . . .
BRANDBANE NIE MANS GENOEG
Dalk keer die rivier hom nog, dink ek by myself terwyl ek verstom na die foto’s kyk. Maar ’n paar minute later bel Jacques weer: “Hy’t by die eiland oor die rivier gespring. Ek en Adam (Adam van Rheede, sy getroue regterhand op die plaas) gaan nou brandbane ploeg.”
En toe raak die fone stil. Ek bel Jacques, ek bel Roelie, maar kry g’n antwoord nie.
’n Halfuur later bel Jacques. Ek hoor hoe brul die vuur en wind op die agtergrond. Ek kan hom skaars hoor . . . Hy praat iets van ’n inferno, die vlamme is onderdeur die trekker, hulle jaag nou teen die heuwel op, weg van die rivier af, om dit bo by die populierbos se land te gaan probeer stuit. En weer raak alles stil, hierdie keer vir ’n paar uur.
Die chaos wat toe daar losgebars het, sou eers die volgende dag in besonderhede ontvou.
G’n brandbaan sou hierdie siedende vuur en wind kon keer nie, maar tog begin Adam heldhaftig op ’n land verder die heuwel op weer ’n brandbaan ploeg. Maar ook hier haal die vuur hom in. Hy spring van die trekker af en begin hardloop. En verdwyn agter die rookwolke . . .
Nou bars alle hel los. Die vlamme begin brullend opjaag in elke beboste kloof op die plaas. Jy kan skaars 10 treë voor jou sien. Jacques en nog ’n boer soek paniekbevange in die chaos na Adam. Hulle toet en roep gillend na hom. Maar kan hom nie kry nie.
Eers ’n halfuur later sou my broer se seun, Tobie, hom vind waar hy verdwaas in die pad aangestap kom. Die vuur was letterlik bo-oor hom. Dat hy dit oorleef het, is niks anders as ’n bestiering nie.
‘EK HET SLEGTE NUUS, OOM’
Nou jaag boere en werkers na Tobea se huis – hy’s volgende in die vlammesee se pad. Daar’s baie mense wat probeer keer, van ver en naby. ’n Buurman en ’n grondverskuiwingskontrakteur se mense daag op met ’n watertenkwa. Roelie is met ’n tuinslang op die rietdak, ondanks ’n gespalkte hand. Adam is terug en klim ook op, maar as hulle
’n vlam hier dood het, slaan een agter hulle op die dak uit.
Steeds weet ek niks nie. Totdat Tobie my hortend bel. Heel eerste hoor ek daardie onheilspellende gedoef-doef-doef van die Huey-helikopters se lemme. “Ek het slegte nuus, Oom. Tannie Tobea se huis is aan die brand. Ons kan hom nie keer nie. Dis iets verskrikliks, Oom. Die vuur jaag kole van die populierbos en die spaansrietbos op tot hier.”
En my huis? wil ek beangs weet. “Daar’s mense daar, Oom, die helikopters ook.”
En toe raak die foon weer stil. Ek sê vir my vrou, Amanda, ek gaan nou ry. Ek móét net daar wees, al gaan ek eers drie uur later daar aankom. Ek gryp ’n paar kledingstukke en spring in my bakkie, maar nog voor ek op die N1 is, bel Tobie weer: “Ek het slegte nuus, Oom. Oom se huis het ook afgebrand.”
Verdwaas ry ek verder. By die Wynland-vulstasie trek ek af en bel Amanda. “Albei huise is weg. Die hele plaas brand af. Die hele distrik brand,” sê ek.
Geskok besluit ons albei ek moet omdraai. Dis donker as ek daar aankom en ek kan niks doen nie. En boonop wil sy saamgaan; sy wil eerstehands ervaar watter tragedie hom daar afgespeel het.
BEGRAFNISATMOSFEER
Ons vertrek die volgende oggend vroeg. Ons ry in stilte; ons praat miskien ’n sin of twee in ’n uur. Dis soos om na ’n begrafnis te ry, dink ek by myself. Al die herinneringe doem in jou gedagtes op, maar netnou, as jy by die oop graf staan, gaan die werklikheid jou tref: ’n Geliefde is weg, vir ewig.
Nou begin my selfoon lui: Die Burger bel vir inligting, RSG wil ’n bydrae hê vir Spektrum . . . tot uit Namibië simpatiseer mense en wil weet wat aangaan.
Soos ek nader aan Riversdal kom, is dit asof ’n strop om my keel ál stywer trek. By die Stilbaai-afdraaipad sien ons die vuur het reeds oor die teerpad gespring en woed nou in die rigting van Albertinia. Agter hom lê ’n bykans onherkenbare, verskroeide landskap.
Ons het al voorheen brande op Windsor gehad, maar niks kon my voorberei op hierdie monster se vernietigingspoor nie. Toe ons oor Langhoogte op ons plaaspad kom en daardie kalkrant-wêreld met heuwels en klowe vou voor ons oop, hou ons verstom stil: Dit lyk soos ’n maanlandskap, asof ’n atoombom hier ontplof het. Daar is niks, nie ’n krieseltjie plantegroei oor nie, net as en kalkklip. Hoe verder ons gaan, hoe erger lyk dit. En dan, af teen die heuwel na ons valleitjie, staan die verwese geraamte van wat tot eergister nog ons plaashuis was.
Die windpomp by die huis draai steeds dapper, die populier is nog daar, maar toring nou swart en kaalgeskroei die hemel in.
‘KRY NET ÉÉN AANDENKING’
Ons stap die murasie in waar die woonkamer se skuifdeur was. Die binnemure het omtrent almal ingetuimel. Die huis waar ek, Jacques, Mariette en Tobea grootgeword het, is bykans onherkenbaar. Ons skuifel versigtig oor die puin en werk uit waar wat eens was: Hier’s die geel kamer, daar die rotnes (my oorlede pa het dit so gedoop toe ons kinders en maatjies kleintyd ingepak langs mekaar daar geslaap het), hier’s die portaal waar my ma se volgepakte boekrak was en waar ons kinders biblioteek gespeel het, daar is ons kamer . . .
In die woonkamer werk Amanda uit waar my oorlede ma se vertoonkas met haar spesiale goedjies gestaan het. Sy kry ’n stuk pyp in die hande en begin in die as krap. En wragtag, hier kry sy ’n keramiekdingetjie wat die hel oorleef het, daar ’n pottebakkersbeeldjie of wat.
Ek dra dit toegevou in albei hande buite toe. My dogter het gesê ons móét aandenkings vind van dit wat was, al is dit net een dingetjie.
Teen die enkele binnemure wat oor is, werk ons uit waar watter portretrame gehang het. Van die een met saamgestelde foto’s wat ons ná my pa se dood gemaak het en
wat bokant die vuurherd gehang het, is net ’n hopie gesmelte glas oor. Die skilderye wat wyle Arch van Rensburg (hy’t naby ons geboer) spesiaal vir my ma en pa gemaak het, het in die as verdwyn.
In die kombuis lê die verwronge staalgeraamtes van wat ’n stoof, yskaste, stoele en tafel was – die een waar my ma daagliks met ’n verslete woordeboek blokkiesraaisels ingevul het.
“Haai, hier’s jou ma se platboompot nog,” roep Amanda my nader. “En hier’s nog een van haar outydse koppies!”
Ek dra die louwarm pot buitentoe, maar merk die bars aan die kant op. Dis gemaak vir hitte, maar nie vir hierdie inferno nie.
Later stap ek af na die fontein en die dam sowat 100 m van die huis. Hierdie oase is omring met oer-melkhoutbome, van hulle maklik 1 000 jaar oud. Genadiglik het die meeste taamlik gespaar gebly, maar by die grootste van hul almal, die ou reus wie se wortels die fontein as’t ware omvou, smeul dit steeds om sy enorme stam. Ek draai om en begin huis toe draf om ’n emmer te gaan haal om die kole te blus, maar vyf treë verder besef ek: Daar is nie meer ’n huis nie.
Kort ná ons kom Tobea, haar man, Chris, en hul seun, Peter, ook op die plaas aan. Ons omhels mekaar woordeloos en met nat wange.
STOMGESLAAN DEUR PUIN EN AS
Later ry ons op na die boonste werf, na Tobea se huis. Dit was die ou opstal, meer as honderd jaar oud. Daar het ons ouma haar lewe lank gebly, daar het my pa en sy twee broers grootgeword – almal nou al oorlede.
Die statige gewels staan bleek en weerloos afgeëts teen die blou lug – soos ’n geraamte wat dekades in die son gelê het.
En ook hier herhaal dieselfde tonele hom: Jy stap stomgeslaan deur puin en as en probeer sin maak van herinneringe en sentiment wat in ’n oogwink deur vlamme verswelg is.
Later ry ek en Amanda terug na ons huis. Terwyl sy weer binne rondkrap in die as, gaan sit ek onder ’n boom. Ek kyk na die melkhout-reuse om my, die olienhoutbome, die fontein wat al eeue lank hier oerwater uit die aarde se maag laat borrel.
Dis laatmiddag, die wind het gaan lê en die bekende rustigheid wat ons nog altyd soos ’n magneet na hierdie plek getrek het, begin oor die valleitjie spoel. Alles voel so bekend. Ek hoor duiwe koer. Onder by die fontein roep ’n waterfiskaal na sy maat.
Maar dan ruk die werklikheid jou terug. Hier in die puin agter my lê ’n leeftyd se lief en leed begrawe onder warm as. Om my sug die kalkrante asbleek en nakend in die laatmiddagson. En jy besef: Dié barre landskap en sy mense gaan nog dekades hul brandwonde lek. Jy worstel in jou gemoed daarmee. Dis alles so onwerklik, onverstaanbaar.
Dan begin jy egter jou terugslae in die weegskaal gooi, en jy besef: Daar’s altyd mense wat meer getroef word as jyself.
Die lewe gaan aan. Windsor sal herrys uit die as. Die bosbokke, fisante en skilpaaie sal terugkom. Uit gerestoureerde huise sal weer ’n gelag opklink. Die kiekies is dalk weg, maar die herinneringe sal voortleef.
Teen die winter sal die werf groen uitslaan en oor ’n dekade sal die kalkrante weer sy fynbos-jas dra.
So is die ritme van die natuur: Misterieus, soms verbluffend mooi, soms verwoestend. Hy gee en hy vat. Net soos jy dink jy verstaan hom, kom keer hy jou wêreld in ’n oogwink op sy kop.