Plaastoerisme kan SA platteland stu
Landboutoerisme kom in vele gedaantes en kan ’n lekker inspuiting vir enige plaas se inkomste wees. Nou is daar ’n nuwe liggaam wat boere help om plaastoerisme aan te pak.
Dikwels is daar op plase grond wat nie gebruik word nie, daar is werkers wat nie werk het nie en selfs boere het op sommige tye van die jaar ’n bietjie ekstra tyd beskikbaar. Me. Jacqui Taylor is ’n plaaskind van Elgin wat nou op Stellenbosch woon en ’n suksesvolle loopbaan in bemarking volg. Sy het gaan nadink oor hoe dié drie aspekte ’n bydrae kan lewer tot die welstand van die platteland en sommer ook die maatskaplik-ekonomiese probleme daar kan verlig. Die oplossing was voor die hand liggend, sê sy: Landboutoerisme.
“Italië het die suksesvolste landboutoerismebedryf ter wêreld. Dit het ontstaan omdat boerderye gesukkel het om kop bo water te hou. Boere het hulle na landboutoerisme gewend om meer winsgewend te wees. As mense na Toskane reis en in ’n villa gaan bly, is die kans goed die huis is in ’n olyfboord op ’n plaas. Kanada en Amerika is net sulke goeie voorbeelde van lande waar landboutoerisme die geld laat inrol,” vertel Jacqui, wat verlede jaar die Suid-Afrikaanse vereniging vir landboutoerisme (ASAA) op die been gebring het.
Dié organisasie sonder winsbejag beywer hom vir die bevordering van landboutoerisme op elke vlak van Suid-Afrikaanse boerderye, ook onder opkomende boere.
Landboutoerisme behels nie net oornaggeriewe nie, sê Jacqui. Die een voorvereiste is wel dat daar op die plaas geboer moet word (’n working farm). “Landboutoerismeprodukte en -dienste sluit in vaste aantreklikhede, soos historiese plase, aktiwiteite en gebeurtenisse en verblyf.”
Volgens haar is daar ’n groeiende belangstelling in landboutoerisme namate stedelinge nuwe ervarings op die platteland soek. Jan en San Publiek is ook al hoe meer besorg oor waar hul kos vandaan kom en wil graag die bron besoek.
MEER GELD AS UIT BOERDERY
Daar is ’n klompie Suid-Afrikaanse boere wat dit reeds met welslae regkry. Sommige van hulle verdien ’n groter inkomste uit hul toerismebedrywighede as uit enige ander boerderyvertakking.
“Ek sê altyd landboutoerismeprojekte is suksesvol wanneer ’n boer en sy vrou albei daarby betrokke is. Mnr. Julian Melck van Kersefontein naby Hopefield is baie goed daarmee. Wanneer besoekers op die plaas aankom, verwelkom hy hulle self en wys hulle ’n bietjie rond. Nou, hy’s ’n boer en hy’s besig. Hy verskoon hom dus kort daarna, maar nie voor hy die besoekers vir aandete by sy huis genooi het nie. Voor ete geniet die gaste ’n drankie in sy kroeg en hy vertel hulle alles wat hy op die plaas doen. Dit is dus ’n opvoedingsproses, want hulle leer van skaapboerdery én hulle geniet aandete
met die boer. Dit is waarom hy lank vooruit volbespreek is – Europeërs wil ’n regte Suid-Afrikaanse ervaring hê.”
In die Suid-Kaap is dit mnr. Neels Uys van die plaas Skeiding, Heidelberg, wat haar beindruk. “Neels laai jou kinders op sy bakkie
en vat hulle saam as hy gaan skape bymekaarmaak. Môreoggend staan almal 06:00 op en die Duitsers, Engelse en Suid-Afrikaners ry saam met hom op sy bakkie, wat soos ’n wildbesigtigingsvoertuig aangepas is. Daar word drie uur lank goed gedoen, soos om volstruiseiers te versamel en kalwers te brandmerk, voor hy jou terugneem huis toe.
“Daar staan sy vrou reg met ontbyt. Sy wys hulle hoe om ’n volstruiseier oop te maak en gaar te maak. Die gaste kry elkeen ’n sertifikaat wat aandui watter pligte hulle op die plaas uitgevoer het. Die mense is dol daaroor,” sê Jacqui.
Die deur van geleenthede staan ook wawyd oop om plaaswerkers te bemagtig of vir opkomende boere om by landboutoerisme betrokke te raak.“Boere kan byvoorbeeld plaaswerkers se vroue wat nie werk nie, help deur te belê in ’n oond waarin hulle brood kan bak om aan die toeriste te verkoop. Mnr. André Cloete van Greyton (verlede jaar se wenner van Toyota se Nuwe Oes van die Jaar-prys) het by die vereniging aangesluit. Ons help hom nou met gratis opleiding van toergidse (deur die Suid-Afrikaanse vereniging vir toerismedienste).”
Die ASAA kan boere in aanraking bring met onder meer diensverskaffers en bemarkers. Die vereniging lewer ook ander dienste, soos om op sy webwerf gelys te word, bemarking deur sosiale media en toerismeskoue, konsultasiedienste aan opkomende boere en landelike gemeenskappe en die ontwikkeling van landboutoerismeroetes.
SAMEWERKING NODIG
Ongelukkig werk boere meestal individueel en is samewerking nie iets wat jy aldag in die landbou sien nie, sê Jacqui. In die plaastoerismesektor gaan dit nie werk nie.
“Die syfers wat ek altyd gebruik om boere wakker te skud, is die geraamde R380 miljard wat die toerismebedryf vanjaar vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan inbring. Die Regering het maar R2 miljard begroot om toerisme te bevorder. Daarvan is ’n baie klein persentasie, indien enigiets, geoormerk om boere te bevoordeel.”
Daar is jaar ná jaar werksverliese in die landbou – ’n neiging wat deur landboutoerisme op sy kop gekeer kan word as dit met mening gepak word.
Haar navorsing het ook getoon dat toeriste nie weet waar om aan te klop as hulle landbou-ervarings wil hê nie. Op sommige klein dorpies is daar tot vyf organisasies wat elk
hul eie agenda bevorder. Dit is verwarrend en bemoeilik toeriste se taak.
“Dit is hoekom dit nodig is om ’n inligtingsentrum te skep wat plaastoerisme-ervarings oor Suid-Afrika heen sal bevorder. Só sal plaaslike en buitelandse toeriste sonder moeite plaasbesoeke en landboutoerisme deel van hul reisplanne kan maak,” vertel sy oor waarom die ASAA ’n bestaansreg het.
Aanvanklik sal die ASAA op die WesKaap, KwaZulu-Natal en Gauteng konsentreer voor hy sy bemarking na die res van Suid-Afrika uitbrei.
Sy praat tans ook met landboumaatskappye en koöperatiewe liggame om hul lede deel te maak van die ASAA.