’n Boek vol lekker kos en lekker stories
Annatjie Melck van Muratie-wynlandgoed is nie net ’n uithalerkok wat die digter D.J. Opperman geïnspireer nie, sy het ook Oom Samie se Winkel op Stellenbosch bekend gemaak. Haar boek, Koljander, koljander so deur die Bosch, is nou beskikbaar.
Jou liefde vir kos het tydens jou sorgvrye grootwordjare in die Karoo ontstaan. Is daar ’n gereg uit die kontrei wat jou altyd sal bybly? Brood en vet en goue stroop om vieruur die middag. Op Sondae, die reuk van skaapboud en groente. My ma het die lekkerste tamatiesop gemaak wat ek nog geëet het. Ek sukkel nou nog om daardie smaak reg te kry. Ek is amper daar, maar nog nie heeltemal nie.
Jy was baie lief vir jou ma, vir wie julle “Moeder” genoem het. Die resepte in die boek word ook toegelig met “My ma het gesê”. Wat is die kosbaarste les wat jy by haar geleer het? Sy het my geleer om nooit ’n bed raak te sien nie. Met ander woorde as dinge verkeerd loop, is dit baiekeer maklik om te gaan lê. Jy doen dit nie. Jy loop om die huis, jy loop om die huis – as jy terugkom, gaan dinge beter wees.
Jy besit ook Oom Samie se Winkel, die algemene handelaar wat ’n instelling op Stellenbosch geraak het. Hoekom bly die winkel so gewild? Watter hoogtepunte het jy oor die jare daar ervaar? Ons hou ’n besoekersboek by Oom Samie se Winkel en as ek die magdom mense sien wat die winkel besoek, is ek verstom daaroor. As ek marknavorsing doen, kom dit uiteindelik maar neer op die nostalgie. Ek wou die winkel aanbied soos in die ou dae. Hy het ’n reuk. Jy kan koffie ruik. Jy kan bokkoms ruik. Ek dink dis hoekom die winkel gelief bly. Vandag se winkels is klinies. Hoogtepunte? Die feit dat die winkel 110 jaar oud was in Mei 2014. Dit is die oudste winkel op Stellenbosch wat ons lewendig hou, wat nog op dieselfde plek handel dryf, net soos hy was, soos oom Samie hom begin het.
Die bekende digter D.J. Opperman was jul buurman op Stellenbosch. Hoe het jy hom geïnspireer om weer te begin skryf ná ’n lang siekbed? Hy was so siek, hy was so bitterlik siek. Toe sê Marié (sy vrou) vir my hy skryf weer. Ek was die voorsitter van die Fynproewersgilde en ons wou ’n boek maak: ’n Resepteboek, ’n geskenkboek, So eet ons in Stellenbosch. Alles was reg, maar ek het iets nodig gehad. Toe gaan sit ek by Dirk en ek sê: “Hoekom skryf jy nie oor dit waarvan jy hou om te eet nie? Iets oor elke seisoen?” Dirk sê toe: “Gee vir my woorde.”
Ek bel toe die komitee. Die volgende oggend is hy klaar. Ek weet Ronnie (my man) het daardie reël gegee oor die reuk van die aarde.
Jy moet onthou, hy het gewerk aan Komas uit ’n bamboesstok. Hy was vasgevang in daardie donker tonnels. Hy sê toe ek hom vra om oor kos te skryf, toe lig ek hom uit daardie tonnels uit.
Wat is, volgens jou, die geheim vir lekker eet? Goeie geselskap.
Wat is jou allergunsteling-kos? As ek nog een, allerlaaste maal kon eet? Ronnie en ek het altyd die speletjie gespeel. Dan vra ons die gaste. Ek? Lammerstertjie wat nou net afgesny is. Onthou, daar is ’n verskil tussen lammerstertjie en skaapstert. Merinostertjie. Gooi hom in die asbos. As die asbos uitgebrand het, dan krap jy in die as, haal die stertjie uit en trek die wol af. Dit is koningskos.