CHARLES BACK VEREER OP SA SE 358STE PARS
MOENIE ’n sukkelende plaas aan werkers verkoop nie, maar soek maniere om werkers binne bestaande, suksesvolle ondernemings te bemagtig.
Dit was die boodskap van mnr. Charles Back, eienaar van onder meer Fairview en Spice Route in die Paarl, tydens die oorhandiging van die wynbedryf se gesogte 1659-erepenning.
Die erepenning word sedert 1974 oorhandig aan mense wat ’n belangrike rol in die wynbedryf speel. Dit word elke jaar op 2 Februarie, die datum in 1659 waarop die eerste wyn aan die Kaap gemaak is en wat as die amptelike geboorte van die Suid-Afrikaanse wynbedryf beskou word, oorhandig. Vorige ontvangers sluit in mnre. Danie de Wet van De Wetshof, Lourens Jonker van Weltevrede en oudpres. Nelson Mandela.
“Ek is nogal winties hieroor, baie dankie!” het Charles gesê toe hy die erepenning ontvang het. Hy is die tweede Back wat die eer te beurt val. Sy oom, Sydney Back van Backsberg, is ook só vereer.
“Die eerbewys bring vir my bykomende verantwoordelikheid, want ek neem dit nie ligtelik op nie,” het hy gesê.
MAATSKAPLIKE OPHEFFING
Maatskaplike opheffing is een van die sake wat hom al sedert sy pa, Cyril, se tyd op die plaas na aan die hart lê. Plaaswerkerhuise wat Cyril 40 jaar gelede gebou het, is onlangs in ’n tydskrif voorgehouas’ n toonbeeld van hoe plaas werkerbehuising behoort te lyk. Cyril was ook, sover Charles weet, in 1978 die eerste wynboer wat ’n anderskleurige as plaasbestuurder aangestel het.
Vandag behoort 10% van Charles se onderneming aan sy bestuur, waarvan die helfte swart mense is.
“Ek het ’n spesifieke siening oor grondhervorming. Grondhervorming is noodsaaklik vir vooruitgang, maar dit moenie ’n manier wees vir ’n eienaar om ’n sukkelende plaas aan sy werkers te verkoop nie. Bemagtig eerder die werkers binne ’n bestaande, suksesvolle onderneming.”
Op Fairview besit en bestuur plaaswerkers’ n wasgoed onderneming wat die ondernemings e wasgoed was. Dit het Fairview voorheen R1 miljoen per jaar uit die sak gejaag. Hulle het ook ’n taxidiens met een voertuig begin, maar nou loop daar vyf taxi’s wat
aan ’n afgetrede plaaswerker behoort. Plaaswerkers lewer groente aan die restaurante op die plaas en sekuriteit word van binne die onderneming verkry.
“Dit is die dinge wat ’n betekenisvolle verskil kan maak en dis eintlik baie maklik om dit te doen. Dit kan ook tot groter dinge lei.”
BOER SAAM MET OMGEWING
Charles maak ook erns met die omgewing. Alle indringerplantegroei wat teen die berghange bo Fairview groei, is uitgeroei.
“Pleks van ’n wingerdwoestyn aan die onderpunt van die plaas het ons groen gordels geskep waar wild kan leef. Daar is nou visarende op die plaas, wat ons lank nie gesien het nie.”
Met waterprobleme in gedagte vestig Charles hoofsaaklik droogteverdraagsame kultivars op die plaas, soos Grenache.
“’n Groot debat vir die toekoms is of ons nie eerder wingerde in droëlandgebiede moet plant en die besproeiingsgebiede vir kosproduksie moet hou nie.”
GESONDE WERKERSKORPS
Hy beskou sy werkers se gesondheid ook in ’n ernstige lig. Nadat hy ’n opname gedoen het oor wat werkers eet voordat hulle werk toe kom, het hy met ’n skok agtergekom dis gewoonlik ’n pak slaptjips en twee liter gaskoeldrank wat hulle op die stasie koop.
“Ons het gesien hoe vetsug, diabetes en hoë bloeddruk al hoe meer voorkom.”
Sedertdien word mense se gesondheid vrywilliglik gemonitor en hulle word met dieetplanne en wenke oor gesonde kos bygestaan.