Koring: Dink goed voor jy plant
Daar is min faktore wat daarop dui dat die koringprys vanjaar gaan styg. Inteendeel, die verwagting is dat dit kan daal. Boere moet dus hul somme deeglik maak.
Boere moet begin besluit oor die nuwe wintergraan-produksiejaar te midde van die mielieprys wat skerp daal in afwagting op ’n taamlik goeie oes.
Die dilemma met mielies, byvoorbeeld, is dat die prys kan wissel tussen die invoerprys (tans sowat R3 000/ton met Randfontein as grondslag) en die uitvoerprys van sowat R2 000/ton. Alles hang af van hoe groot die Suid-Afrikaanse oes is. Die mielieboer moet dus probeer om sy opbrengs en kostestruktuur só te kry dat hy in ’n goeie jaar (uitvoerjaar) teen die laer prys, maar met ’n goeie opbrengs, sy uitgawes kan dek. Boonop is die prys taamlik wisselvallig oor verskillende jare heen, na gelang van die oesgrootte
Die koringboer se situasie is effens anders, met Suid-Afrika wat die afgelope sowat twee dekades ’n netto invoerder van koring is. Die prys is dus invoergedrewe. Die kans is bitter klein dat die land se boere in die afsienbare toekoms ’n surplus koring gaan verbou.
Verder is daar groot wisselinge in die gehalte van koring. Wat meulenaars of bakkers doen, is om ’n mengsel van koring waarvan die gehalte verskil, te gebruik om hul bakprosesse te bestuur. Daarom word koring van ’n wye verskeidenheid lande ingevoer. Dié koring is meestal van ’n laer gehalte as die Amerikaanse harde, rooi winterkoring waarop Suid-Afrika se invoertarief gegrond is.
’n Verdere probleem vir plaaslike koringboere is dat die ontwikkeling van nuwe kultivars met ’n hoër opbrengspotensiaal die afgelope dekade of twee gestagneer het, terwyl mielie- en sojaboonopbrengste skerp gestyg het danksy die gebruik van GM-tegnologie. Daar is wel wêreldwyd stadig maar seker besig om ’n ommeswaai in die teling van koringkultivars plaas te vind. Onthou net, dit bevoordeel alle koringboere, dus ook dié in lande van waar Suid-Afrika invoer.
Wat is die faktore wat in die volgende jaar die grootste invloed op die mark gaan hê?
INTERNASIONALE MARK
Koringproduksie styg voortdurend en, anmalige
ders as by byvoorbeeld mielies, is Amerika nie meer die oorheersende verskaffer van koring in die wêreld nie.
GRAFIEK 1 toon die produksie en eindvoorraad van koring in die wêreld, asook die prysaanwyser in Amerikaanse dollar. Die neiging is duidelik dat produksie en voorraad bly groei en dat die dollarpryse daal. Wat Suid-Afrika sedert 2012 teen dié dalende prys beskerm het, is die swakker rand en natuurlik die invoertariefformule (wat, soos vroeër genoem, op duur Amerikaanse harde, rooi winterkoring gegrond is en waarin die rand ook ’n sleutelrol speel).
Een van die groot veranderinge wat tans wêreldwyd in die produksie en aanbod van koring plaasvind, is dat Rusland en die voor-
Sowjet-lande sterk groei as uitvoerders van koring. Daar word groot beleggings in infrastruktuur gemaak. Hul pryse is mededingend en heewat laer as die Amerikaanse prys. Die koste om koring per skip van daar af na byvoorbeeld Afrika toe te vervoer, is ook laer as uit Amerika.
Rusland, Kazakstan en die Oekraïne gaan na verwagting vanjaar saam sowat 53 miljoen ton koring uitvoer, teenoor Amerika se verwagte 26 miljoen ton en die Europese Unie se sowat 25 miljoen ton. Produksie in die Swartseegebied en uitvoer van daar af gaan na verwagting in die volgende paar jaar verder toeneem en oorheersend raak.
Die TABEL toon dat verreweg die meeste van Suid-Afrika se ingevoerde koring in die bemarkingsjaar 2015-’16 uit Rusland, die Oosblok-lande en Europa kom. Daar is bitter min uit Amerika.
INVOERTARIEFDILEMMA
’n Probleem vir die Suid-Afrikaanse koringbedryf is dat die koring uit Rusland en die Oosblok-lande goedkoper is as Amerikaanse harde, rooi winterkoring. GRAFIEK 2 toon die styging in die invoertarief namate die dollarprys gedaal het. Die bedoeling is dat dit groter beskerming aan plaaslike boere gee ten tye van internasionale prysdalings en sodoende Suid-Afrika se produksie stabiliseer en selfs aanmoedig. Onthou, die land voer jaarliks
bykans die helfte van sy benodigde koring in.
Die invoertarief is tans R1 591/ton. Die probleem is hoewel die tarief geld vir alle ingevoerde koring, is die Oos-Europese koring baie goedkoper as Amerikaanse koring. Eersgenoemde koring is dus steeds betreklik goedkoop om in te voer, ten spyte van die tarief.
Grafiek 2 toon dat die Safex-prys heelwat laer as die Amerikaanse invoerpariteitsprys is.
Die Regering het onlangs aangekondig dat die tarief hersien gaan word. Die huidige tarief geld tot Maart. Hoe die tariefstruk- tuur gaan verander, is nog nie duidelik nie. Volgens gerugte gaan dit verlaag word, maar dit sal afhang van die formule wat gebruik word. Graan SA sal sekerlik sterk standpunt inneem en namens boere onderhandel om die beskerming te behou, maar boere moet nogtans verwag dat die tarief in die nuwe produksiejaar laer kan wees.
PLAASLIKE PRODUKSIE
In die afgelope paar jaar het Suid-Afrika se koringproduksie al hoe meer na die WesKaap verskuif, soos GRAFIEK 3 toon. In die afgelope produksiejaar het die Wes-Kaap sowat 1 miljoen ton koring gelewer van die totaal van 1,89 miljoen ton. Ten spyte van ’n goeie oes, sal daar steeds vanjaar bykans 1,5 miljoen ton koring ingevoer moet word om in die plaaslike vraag te voorsien.
TEN SLOTTE
Dit bring ’n mens by die gewraakte liggingsdifferensiaal, wat tans R500/ton tot R600/ ton vir Wes-Kaapse boere is. Dié boere kry dus heelwat minder vir hul koring as die Safex-prys van sowat R4 000/ton.
Die probleem is dat slegs sowat die helfte van die Wes-Kaapse koring in die Wes-Kaap verbruik word. Die res moet na binnelandse meulens vervoer word. Baie boere meen egter daar is nie genoeg mededinging in die meulenaars- en bakbedryf nie.
Die slotsom is dat daar betreklik min faktore is wat op ’n sterk styging in die nuwe produksiejaar se koringpryse dui, veral gegewe die sterker wordende rand. Inteendeel, pryse neig laer. Koringboere moet dit deeglik in ag neem wanneer hulle oor vanjaar se bemarking- en prysstrategieë besluit.