Skoksyfers oor onkruid in Australië
’n Verslag uit Australië beraam die verlies aan inkomste vanweë laer graanopbrengste en besteding aan onkruidbestryding by graan op A$3,3 miljard (sowat R33 miljard) per jaar.
Amerika, gevolg deur Australië, het die meeste onkruidsoorte wat weerstand teen onkruiddoders het, maar niemand het al meer planne as die Australiërs bedink om dié landbouprobleem op te los nie. Ten spyte van al dié planne bestee Australiese graanboere ’n beraamde A$2 573 miljoen (meer as R25,7 miljard) aan onkruidbestryding, luidens ’n verslag wat verlede jaar vir die Australiese graannavorsing-en-ontwikkelingskorporasie (GRDC) opgestel is. Die verlies aan opbrengs weens onkruid kos hulle ’n verdere A$745 miljoen (meer as R7 miljard). Dié boere verloor sowat 2,76 miljoen ton graan per jaar weens probleme met onkruid.
Die verslag, Impact of weeds on Australian grain production: The cost of weeds to Australian grain growers and the adoption of weed management and tillage practices, bespreek die uitslag van ’n opname onder 600 boere in ál die land se graanstreke. Dié boere verbou koring, hawer, gars, kanola, peulgewasse en graansorghum op 2 miljoen hektaar saaigrond.
Die verslag toon dat onkruid een van die
grootste kostefaktore vir graanboere is en een van die belangrikste faktore is wat bepaal hoe gewasvertakkings bestuur word.
Die koste wat onkruid vir graanproduksie inhou, hang af van die verlies aan graanopbrengs weens onkruid, die koste om graan skoon te maak, boetes vir besmette graan en die chemiese en ander uitgawes om onkruid te bestry. Die opname toon dat dit gemiddeld A$113 (sowat R1 130) per hektaar kos om onkruid te bestry.
Die duurste onkruide om te bestry wat totale opbrengsverlies betref, is raaigras, ramenas en wildehawer. Borseltjiegras is die belangrikste nuwe probleemonkruid. Raaigras staan ook voor in die ry wanneer dit kom by uitgawes weens onkruiddoderweerstand. Terloops, die uitgawes weens onkruiddoderweerstand by raaigras is hoër as die totaal weens alle ander vorme van weerstand.
Die opstellers van die verslag skat die koste van onkruiddoderweerstand op A$187 miljoen (sowat R1,87 miljard) wat betref onkruiddoders bykomend tot die geld wat aan geïntegreerde onkruidbestuurspraktyke bestee word.
Een van die skokkendste bevindinge van die opname is dat die meeste van die 600 boere wat deelgeneem het, “verwag” dat ’n nuwe selektiewe of uitklop-onkruiddoder teen onkruide wat weerstand teen bestaande onkruiddoders het, in die komende dekade beskikbaar gestel sal word. Dít terwyl landbouchemiese maatskappy sê daar is nie nuwe middels op pad nie.
VERSKEIE METODES
Luidens die verslag is die toediening van onkruiddoders gedurende die groeityd die algemeenste manier om onkruide te probeer bestry. Ander metodes wat ook gebruik word, is:
■ Bewerking.
■ Die brand van stoppels.
■ Bruin- of groenbemesting.
■ Skaarploegbewerkings om onkruidsaad te begrawe. ■ ’n Vertraagde planttyd met nie-selektiewe vooropkomsonkruiddoders (die knockdown-praktyk).
■ Dubbele uitklophoue (double knockdown) deur twee onkruiddoders uit verskillende groepe kort ná mekaar voor planttyd toe te dien.
■ Die laat toediening van onkruiddoders om te voorkom dat onkruid saad vorm (crop-topping).
■ Die toediening van onkruiddoder in weidings wanneer grasse begin blom om saadvorming te keer (pasture spray-topping of hay freezing).
■ Die gebruik van kafkarre agter stropers om kaf wat onkruidsade bevat, op te vang.
■ Die baal van oesreste.
■ Die brand van smal windrye.
■ Die konsentrasie van kaf in spore, soos gebruik by beheerde spoorverkeer (chaff tramlining).
■ Die Harrington-saadverwoester (’n masjien wat onkruidsade agter die stroper stukkend slaan). Bewerking as ’n manier om onkruid te bestry, het dramaties afgeneem sedert die vorige sodanige verslag in 2000. Ander praktyke, soos die laat toediening van onkruiddoders om te voorkom dat onkruid saadskiet, twee toedienings van nie-selektiewe onkruiddoders voor planttyd en die brand van smal windrye, het toegeneem, veral in Wes-Australië. Onkruid is die belangrikste rede waarom Australiese graanboere lande bewerk of brand.
GEÏNTEGREERDE ONKRUIDBEKAMPING
Geïntegreerde onkruidbekampingspraktyke is ontwikkel omdat soveel onkruide weerstand teen onkruiddoders begin ontwikkel het. Dié praktyke maak A$475 miljoen (18%) uit van die algehele bedrag wat boere aan onkruidbestryding bestee. Die praktyke kan in drie groepe verdeel word:
■ Die bestryding van onkruidsaailinge. Dit sluit in bewerking voor planttyd of in die oorlêtyd of die toediening van een of twee nie-selektiewe onkruiddoders voor planttyd. Dié metodes word gebruik deur 40% tot 60% van die boere wat aan die opname deelgeneem het. Boere bestee die meeste aan dié metodes, byvoorbeeld bewerking (A$110 miljoen) en nie-selektiewe onkruiddoders (een toediening, A$99 miljoen; twee toedienings, A$97 miljoen).
■ Die vermindering van onkruidsaad tydens of ná oestyd. Kafkarre om onkruidsaad van die land te verwyder, die regstreekse baal van oesreste, die brand van smal windrye, die konsentrasie van kaf in spore en die Harrington-saadverwoester word nie algemeen gebruik nie. Dié metodes raak wel gewilder.
■ Ander maniere om saadbanke te verklein.
Dit sluit in stoppels brand, die bruin- of groenbemesting van ’n gewas wat hoofsaaklik vir onkruidbekamping aangeplant is, die laat toediening van onkruiddoders om te voorkom dat onkruid saad vorm, die toediening van onkruiddoder in weidings wanneer grasse begin blom om saadvorming te voorkom en skaarploegbewerkings om onkruidsaad te begrawe. Die verslag meld ook dat onkruid se impak veelvlakkig is en in alle seisoene ’n uitwerking op opbrengs en bestuur het. Dit kan ook soms gewaspryse raak. Aangesien die probleem boonop gedurig verander namate onkruidtipes se eienskappe verander, moet boere hul bestuurspraktyke aanhoudend aanpas.
KAAPSE BOERE ‘SIT OP TYDBOM’
Onlangse syfers oor die impak van onkruid op die Suid-Afrikaanse graanbedryf is nie bereken nie, maar dit kan miljarde rande beloop.
Volgens mnr. Org Lötter, bestuurder van die landbouchemiese maatskappy Bayer in die Swartland, is raaigras (Lolium spp.), wildehawer (Avena fatua) en predikantsluis
(Bromus diandrus) die grootste probleemonkruide in die Wes-Kaapse graangebiede. Chemiese metodes is steeds die belangrikste manier om onkruid te bestry.
Hoewel boere se bewustheid van die gevaar van onkruiddoderweerstand in die afgelope tien jaar baie verbeter het, waarsku Org dat Wes-Kaapse graanboere op ’n onkruidtydbom sit, veral ten opsigte van raaigras. “Daar is deesdae boere wat sukkel om raaigras by breëblaargewasse, soos medics of kanola, te bestry.” Sy wenke aan boere is die volgende: ■ Wissel gras- en breëblaargewasse af sodat jy verskillende onkruiddoders kan gebruik.
■ Wissel onkruiddoders of mengsels van onkruiddoders af. “Moenie onkruidmiddels wat werk, droog melk nie. As jy ’n middel het wat werk, moet dit nie langer as twee jaar agtereenvolgens gebruik nie. Breek weg en gebruik iets anders.”
SOMERSAAIGEBIEDE
In die somersaaigebiede is die voorste probleemonkruide dubbeltjies (Tribulus terrestris), olieboom (Datura stramonium en D.
ferox), Kaapse dubbeltjie (Emex australis), wandelende jood (Commelina benghalen
sis), purperwinde (Ipomoea purpurea )en porselein (Portulaca oleracea), sê dr. Elbé Hugo, onkruidwetenskaplike by die Landbounavorsingsraad in Potchefstroom. “Onkruide, soos die skraalhanse (Conyza spp.), radiatorbossie (Senecio consanguineus) en witblom-bloudissel (Argemone
ochroleuca) wat in die winter opkom, raak ook nou groot probleme.”
Ook dáár is chemiese bestryding die belangrikste manier van onkruidbestryding, veral waar bewaringsboerdery toegepas word. Chemiese bestryding word ook saam met bewerking toegepas.
Elbé se wenke vir doeltreffende onkruidbestryding is soos volg:
■ Identifiseer onkruide korrek.
■ Spuit net goeie produkte.
■ Maak seker dat spuittoerusting in ’n uitstekende, werkende toestand is.
■ Dien voor- en na-opkomsmiddels betyds toe.
■ Hou by die dosisse soos op die onkruiddoder se etiket aangedui is en wees versigtig vir mengsels (cocktails). Elbé waarsku die misbruik van onkruidmiddels verhoog die risiko om weerstandige onkruidbevolkings te vestig. “Ons het al 12 gevalle in Suid-Afrika geïdentifiseer.”
Volgens haar is boere veral versigtig vir weerstand teen glifosaat by Conyza-spesies. “’n Mens moet egter versigtig wees. Wat na weerstand teen ’n onkruidmiddel lyk, kan ook ’n groeistadiumeffek wees. Hoe kleiner onkruide is, hoe beter word dit bestry. Boere laat soms die onkruide te groot word voor hulle spuit. As hulle dan nie bekamping kry nie, gee hulle weerstand die skuld.”