‘As jy met perde werk, werk jy met mense’
By haar perdryskool buite Durbanville leer Leanne Taylor kinders om veilig en bedagsaam met perde te werk. Daarby is sy ook ’n geregistreerde valkenier wat gereeld beseerde roofvoëls rehabiliteer.
Hoe verloop ’n kind se eerste perdryles? Ons kyk eers na veiligheid ten opsigte van die perd – hoe om die perd se lyftaal te lees, hoekom jy nie reg agter hom loop nie, hoe om hom af te keer en te vang. Dan leer ons hulle hoe om ’n perd te borsel en op te saal, en gaan arena toe om te leer stap, stop en stuur. Ons is baie versigtig – as jou eerste les skeefloop, is dit ’n groot struikelblok.
Watter beginsels is vir jou die belangrikste?
As ’n perd nie doen wat jy vra nie, moenie dadelik die lat uitruk nie. Soek die onderliggende probleem. Ons probeer van die eerste dag af die kinders leer dat elke perd anders is. Ons het ook ’n vrywilligerprogram sodat kinders ná lestyd praktiese ondervinding kan opdoen deur te help om perde te versorg. Hulle is by alles betrokke: perde voer, stalle skoonmaak, perde vang, opsaal, help in ander lesse, ens.
Wat is jou raad aan mense wat ’n loopbaan met perde oorweeg?
Ek kom baie jong mense teë wat deur die Suid-Afrikaanse Ruiterkunsfederasie (Sanef) studeer en sê hulle wil met perde werk, nie mense nie. Perde kom egter maar altyd met mense saam. Ek was aanvanklik baie skaam, maar jy moet leer om met selfvertroue met kinders en ouers te werk. Bou ook eers ’n stewige kliëntebasis voordat jy jou eie ryskool stig – ek het jare lank by ander stalle klasgegee voordat ek die skuif gemaak het.
Het jy al as waagkunstenaar in flieks met perde gewerk?
Ja, ek beoog om vanjaar meer sulke werk te doen. Die mees onlangse fliek waarby ek betrokke was, is The Roar, wat deur Frans Cronjé gemaak is en vanjaar uitgereik word.
Watter werk doen jy met roofvoëls?
Ek is lid van die Kaapse Valkenierklub, wat onder meer voëls rehabiliteer wat mense optel nadat hulle vergiftig, raakgery of met ’n windbuks geskiet is. Ons kry veral swartsper- wers, edelvalkies en rooiborsjakkalsvoëls. Ons moet dan besluit – gaan die voël goed genoeg genees om in die wildernis te oorleef of kan hy in aanhouding vir opvoeding gebruik word? As hul kondisie 100% is, voer ons hulle vet, vet, vet . . . en laat hulle weer gaan.
Watter voëlsoort sien jy die gereeldste?
Die gevlekte ooruil, want die voëls maak op die grond nes en mense weet nie dat hulle die klein uiltjies moet uitlos wanneer hulle begin rondskarrel nie. Hulle jag eintlik net sprinkane en sulke dinge, maar dan probeer mense hulle optel en self grootmaak. Roofvoëls is nie troeteldiere nie – hulle word nie mak soos ’n papegaai of ’n hoender nie.
Watter toekomsplanne het jy?
Die ryskool is net mooi vier jaar oud. Ons het onlangs na Durbanville geskuif waar ons grond huur. Daar is nog baie werk aan die nuwe stalle – ons het eers nou die dag ’n nuwe arena laat maak.
Ons wil meer terapiewerk met die perde doen – dit is fantasties om te sien watter verskil perde gedurende ’n sessie aan gestremde kinders kan maak. Ons beoog om ’n borg te kry sodat ons gratis sessies kan aanbied en ook na kinders toe kan gaan met Hercules, ons miniatuur-perd.
Bou eers ’n stewige kliëntebasis voordat jy jou eie ryskool stig – ek het jare lank by ander stalle klasgegee voordat ek die skuif gemaak het.