SA MOET ROF SPEEL
MET ’n goed gebalanseerde regulatoriese omgewing sal Suid-Afrika nie hoendervleis hoef in te voer nie. Die vernaamste rede vir die huidige krisis in die plaaslike hoenderbedryf is weens die invoer van hoendervleis uit die Europese Unie (EU).
Só het mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gesê.
Die land verloor 1 069 regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede vir elke 10 000 ton hoendervleis wat hy minder lewer. Sonder ingevoerde hoendervleis kan 50 000 werksgeleenthede geskep word.
Die oorlewing van die bedryf, die land se voedselsekerheid, die landelike ekonomie, asook 130 000 werkers en hul gesinne is nou grootliks in die hand van die Regering. Lovell het werksverliese wat reeds aan die lig gekom het, uiteengesit. Rainbow Chickens, deel van RCL Foods, het in Januarie 1 350 werkers en bestuurders afgelê. Country Bird gaan sy abattoir in Mahikeng sluit, wat tot die verlies van 939 regstreekse en 1 605 onregstreekse werksgeleenthede gaan lei. Mike’s Chicken, ’n bemagtigingsplaas in Limpopo, is in sakeredding. Daybreak, die eerste betekenisvolle produsent in swart besit, is in groot moeilikheid. Ander maatskappye verminder produksie. Meer as ’n dosyn maatskappye het in die jongste paar jaar gesluit.
STORT TERUG
“’n Dieetprobleem vir die rykes het ’n ekonomiese probleem vir die armes geword,” het Lovell gesê oor die EU se storting van hoenderstukke aan die been.
Wes-Europeërs is so lief vir hoenderborsvleis dat hoenderstukke aan die been ’n “neweproduk” is waarvan ontslae geraak moet word. Europa se mark is so verwring dat hy borsvleis moet invoer. Selfs al eet die Europeërs die hele hoender, sal daar steeds ’n ooraanbod wees, want hulle lewer meer hoendervleis as wat daar ’n aanvraag voor is. Boonop is die EU se produksiekoste hoër as in die res van die wêreld.
“Hulle lewer te veel, eet nie alles nie en maak dit die arm mense se probleem.”
Daarop het me. Rosina Semenya, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, hardop gewonder waarom Suid-Afrika nie hoenderborsvleis in die EU stort nie. “Ons wil wêreldwye spelers wees en enige span het altyd rowwe spelers. Waarom stort ons nie terug nie? Ons moet hoender stort tot hulle huil.”
Lovell het gesê ’n gunstige regulatoriese raamwerk wat groei en volhoubaarheid in die plaaslike bedryf steun, en terselfdertyd buitensporige subsidiëring en die storting van hoendervleis uit ontwikkelde lande ontmoedig, kan die bedryf red.
Dit kan bewerkstellig word deur te vereis dat maatskappye wat hoendervleis na Suid-Afrika uitvoer, die vleis spesifiek vir die land lewer sodat hulle nie net hier van hul oorskot ontslae raak nie.
Invoer moet ook op die nasionale vraag gegrond wees, en nie op invoerders se gierigheid nie. Dit moet ook met ten minste die helfte verminder word.
“Ons hoef nie hoendervleis in te voer nie. Ons kan elke stuk hoendervleis lewer wat Suid-Afrikaners wil eet.
“Maar ons sal dan byvoorbeeld nie kalkoenvleis of ander kleiner produkte kan lewer nie. As ons ’n goed gebalanseerde reguleringsregime gehad het, sou daar bitter min invoer gewees het en die bedryf sou gegroei het.” –
‘Die oorlewing van die bedryf, die land se voedselsekerheid, die landelike ekonomie, asook 130 000 werkers en hul gesinne is nou grootliks in die hand van die Regering.’