SONDER HOENDER-INVOER SAL DIE VOERBEDRYF GROEI
AS verlede jaar se ingevoerde hoendervleis eerder plaaslik geproduseer was, sou die plaaslike voermark 1,5 miljoen ton hoendervoer ter waarde van R8,2 miljard kon verkoop, sê die Dierevoervervaardigersvereniging van Suid-Afrika (Afma).
Mnr. De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van Afma, sê die invoer plaas ’n groot demper op die plaaslike voerbedryf.
Afma-lede se totale voerproduksie, vir alle diersoorte, was 7 183 107 ton met ’n beraamde bruto omsetwaarde van R31 miljard. Daarvoor is 3,5 miljoen ton mielies en mielieprodukte en 1,2 miljoen ton sojaboonmeel as hoofbestanddele gebruik.
Altesame 3 323 278 ton braai- hoendervoer is gelewer, met ’n beraamde omsetwaarde van R17,6 miljard en ’n nasionale markaandeel van 46% van alle produkte. Altesame 11,7 miljoen ton voer met ’n bruto omsetwaarde van sowat R50 miljard is in die boekjaar 2015-’16 in Suid-Afrika gelewer.
Afma-lede, wat die formele sektor verteenwoordig, het sowat 61% daarvan by 71 vervaardigingsaanlegte landwyd gelewer, met ’n gemiddelde produksie van 98 000 ton per jaar per voermeule.
STUKKE AAN BEEN
As ’n mens net na hoenderstukke aan die been kyk, is die hoeveelheid wat in 2016 ingevoer is, gelykstaande aan 378 miljoen braaihoenders.
Boshoff sê as dit na braaihoendervoer omgeskakel word, verteenwoordig dié invoer 620 000 ton voer. “’n Styging van 620 000 ton in verkope van braaihoendervoer sal nasionale voerverkope tot 12 356 817 ton laat styg. (Sien GRAFIEKE .) Dit sal die groei in voerverkope met 5,3% laat styg, wat beduidend meer is as die 0,7%-groei wat in die boekjaar 2015-’16 behaal is.”
Stukke aan die been verteenwoordig 42% van die totale invoervolume en meganies ontbeende vleis 40%.
Boshoff sê as die Regering en die bedryf kan ooreenkom oor strategiese kwessies rakende ekonomiese transformasie en belegging tot voordeel van nuwe toetreders, kan plaaslik geproduseerde, meganies ontbeende vleis in die toekoms ’n strategiese groeigebied wees.
Volumegroei sal vir voermeulens beter kosteverhaling meebring en vir pluimveeprodusente laer voerpryse. Ander ekonomiese voordele sluit in hoër omset, belegging en herbelegging, ekonomiese groei en uiteindelik werkskepping.
Boshoff sê groter voervolume, en dus ’n groter vraag na grane, sal beslis die hele graanwaardeketting bevoordeel.
As die Regering invoer met die beskikbare maatreëls kragtens die Wêreldhandelsorganisasie se reëls beperk, kan hy op dié manier vordering maak met sy doelwitte vir ekonomiese groei, werkskepping, versnelde ekonomiese transformasie en voedselsekerheid op grondvlak.
–