LANDBOU SUIG AAN DIE AGTERSPEEN
DIE landbou moet meer doen om te verseker dat die bedryf voordeel trek uit vryhandelsooreenkomste, en dié ooreenkomste moet beter gemoniteer word.
Só het mnr. Jannie de Villiers uitvoerende hoof van Graan SA, op Agri SA se jaarlikse bedryfskonferensie op Somerset-Wes gesê. Die landbou staan altyd agter in die ry as handelsooreenkomste met ander lande beding word. Boonop bring vryhandelsooreenkomste nuwe markte, maar ook nuwe mededingers, wat die plaaslike landboubedryf dikwels miskyk.
Hy het ook gewaarsku dat die proteksionisme wat moontlik die Trump-era gaan kenmerk, nog nie verdiskonteer is nie.
“Gaan lande hoër tariefmure bou en gaan handel moeiliker word? Dít is die risiko’s wat ons moet ondersoek.”
Die sektor moet ook bewus wees van die fyn druk in handelsooreenkomste, soos kwotas en oorsprongreëls by sekere ooreenkomste, en seker maak dat iemand dit monitor.
De Villiers het gewonder of die Suid-Afrikaanse Regering die politieke wil het om Suid-Afrikaanse produsente te beskerm of om lande wat hul grense sluit, te konfronteer. “Kos is ’n politieke kwessie in Afrika, en ander Afrika-lande sluit hul grense om geen goeie rede nie. Ons Regering wil nie daarteen optree nie.”
POLITIEKE WIL
van bioveiligheidstandaarde nie by die Wêreldhandelsorganisasie aangemeld word nie. Hy wonder hoe Suid-Afrika se landbou in sulke omstandighede teen plae, soos kommandowurm, beskerm kan word. De Villiers het die afgevaardigdes aangemoedig om te verseker dat die landbou meer voordeel trek uit vryhandelsooreenkomste wat Suid-Afrika sluit. “As jy kyk na ons vryhandelsooreenkomste met Botswana, Lesotho, Namibië, Swaziland en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, is dit oneweredig in hul guns.
“Ons het ál ons verpligtinge nagekom, maar baie van dié lande het nie. Baie van hulle het nie eens wetgewing waarop hulle hul besluitneming kan grond nie.”
In die ooreenkoms met die Europese Unie staan die landbou ook agter in die ry. “Toe ons die eerste ooreenkoms aangegaan het, was 64% van ons produkte op hul lys van produkte wat ons kon uitvoer, maar 89% van ons tarieflyne is oop vir hul produkte. Ja, miskien het die motor- en chemiese bedrywe baat gevind, maar die landbou het nie.
“Die ooreenkomste wat gesluit is om Suid-Afrika se internasionale markte te laat groei, is ongunstig vir die landbou.”
Hy sê meer navorsing moet oor nuwe groeimarkte gedoen word en dan moet die Regering versoek word om met dié lande te onderhandel. “As ons produksie wil verhoog, moet ons weet waar daar afsetgebiede vir die produkte is.” –