Staatsbesteding in Suid-Afrika groei vinniger as die inflasiekoers, maar betreklik min van daardie geld word gebruik om geleenthede vir ekonomiese groei te skep.
Die jaarlikse staatsbegroting wat op 22 Februarie deur die Minister van Finansies in die Parlement ter tafel gelê is, bevestig dat Suid-Afrika stadig maar seker op die pad van kruipende sosialisme is, ten spyte van sekere kommentators se mooi woorde. Die belasting op die inkomste op individue (veral hoërinkomstegroepe) en ondernemings (veral mediumgroot ondernemings en boerderye) is aansienlik verhoog. Dit is ’n neiging wat in die jongste aantal jare aan die gang is. Dit het veral versnel sedert mnr. Trevor Manuel nie meer Minister van Finansies was nie.
Uiteindelik het die risiko’s van ’n kredietafgradering omdat staatskuld te vinnig groei die neiging effens laat briek aandraai. (Onthou, mnr. Pravin Gordhan was vantevore ook Minister van Finansies met Jacob Zuma as President.)
Die projeksies in die begrotingsdokumentasie dui daarop dat Gordhan die neiging hoofsaaklik weens die risiko’s van ’n kredietafgradering wil omkeer.
Die groot risiko is natuurlik dat Zuma sy planne deurvoer om van sy handperde aan te stel as die nuwe Minister en Adjunkminister van Finansies sodat hy groter beheer oor die staatskas kry. As Zuma die staatsbesteding weer wil laat weghol, kan Suid-Afrika op ’n ander pad geplaas word wat noodwendig KORTOM
■ Die groei in staatsbesteding groei vinniger as die groei in die inkomste wat met belasting ingesamel word. ■ Bykans 85% van die begroting word aan die staatsdiens en maatskaplike dienste bestee. ■ Die rente op staatskuld is sowat R146 miljard per jaar teenoor die landboubegroting van R26 miljard.
tot ’n kredietafgradering gaan lei.
STAATSBESTEDING GROEI
Staatsbesteding onder Zuma as President het in die meeste jare vinniger gegroei as die algemene inflasiekoers, wat beteken dat die rol van die staat aan die bestedingkant al hoe groter geraak het.
Die verwagting is steeds dat staatsbesteding in die volgende drie jaar met sowat 7,9% per jaar gaan groei.
Die neiging en die projeksies vir die volgende drie jaar word in GRAFIEK 1 getoon. Dit toon duidelik hoe staatsbesteding groei en dat die groei meer is as die inkomste wat met belastings ingesamel word.
Die ander aspek is dat betreklik min geld doeltreffend bestee word aan ekonomiese groei-inisiatiewe en dienste, wat vir die volgende drie jaar slegs sowat 15,3% van staatsbesteding gaan uitmaak. Anders as wat ’n mens in ’n kapitalisties georiënteerde ekonomie verwag, word staatsgeld dus nie gebruik om fondamente vir ekonomiese groei te skep nie.
Ruim 84,7% van die begroting word aan staats- en maatskaplike dienste bestee. Onderwys en opleiding vat verreweg die grootste hap deurdat dit sowat 17,5% van staatsbesteding uitmaak. Almal weet hoe ondoeltreffend daardie geld bestee word, maar die siening is dat dit besteding in die toekomstige groei van die arbeidsmag is en dat dit ekonomiese groei sal stimuleer.
Voeg daarby dat die begrotingsitem vir maatskaplike toelaes in die volgende jaar vanaf R165 miljard tot R180 miljard per jaar styg. Hierdie uitgawe gaan oor die volgende drie jaar met 8,2% per jaar toeneem.
Die troos wat boere het, is dat sekerlik sowat die helfte van daardie geld wat die armer mense met maatskaplike toelaes kry, aan landbouprodukte bestee word. Dit kan dus beskou word as ’n onregstreekse subsidie aan boere deurdat hul plaaslike mark groei.
Ten spyte van die euwels van maatskaplike toelaes sou die landbou daarsonder in groter moeilikheid gewees het omdat die toelaes die plaaslike mark vir landbouprodukte stut.
In GRAFIEK 2 word vanjaar en die volgende drie jaar se belasting en besteding as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) aangedui. Die grafiek toon dat staatsbesteding steeds aansienlik hoër as die belastinginkom-