NUWE BENADERING WIL GROND GESONDER AS OOIT MAAK
Hoekom praat ons van volhoubare landbou? Hoekom wil ons afgetakelde grond in stand hou?
Só vra mnr. Gabe Brown, veeboer en dekgewas-pionier van die Amerikaanse deelstaat Noord-Dakota.
Hy is deel van ’n toenemende beweging wat die term herlewingslandbou (regenerative agriculture) verkies – ’n verwysing na praktyke wat nie bloot daarop gemik is om die agteruitgang van grondgesondheid te keer nie, maar om dit tot hoër as historiese vlakke te laat herleef.
Die doelwit is om landbougrond se produksiepotensiaal nie net in stand te hou nie, maar om dit te verhoog deur die koolstofinhoud toenemend aan te vul.
Dít word terselfdertyd as een van ons belangrikste wapens teen aardverwarming beskou omdat herlewingsboerderypraktyke deur die normale natuursiklusse verseker dat die kweekhuisgas koolstofdioksied uit die atmosfeer onttrek en as koolstof in landbougrond vasgelê word.
Talle organisasies wat hulle daarop toespits, is in die afgelope paar jaar gestig.
Een van die jongstes is die Staatsuniversiteit van Kalifornië se inisiatief vir herlewingslandbou wat wetenskaplikes uit verskillende bedrywe en velde saamsnoer om ’n nuwe navorsingsnetwerk te vorm.
“Ons doelwit is nie net om koolstof in die grond terug te sit nie, maar om in party gevalle grond tot hoër vlakke van vrugbaarheid (koolstof) op te bou as wat hulle histories gehad het,” sê dr. Tim LaSalle, een van die spanlede.
“Navorsing wys ál duideliker hoeveel skade bewerking, die toediening van chemiese middels en sintetiese kunsmis, en die myn van koolstof aan grond aanrig.
“Met herlewingslandbou word die mag van fotosintese in plante ingespan om die koolstofsiklus te sluit, en grondgesondheid, gewasveerkragtigheid en die toeganklikheid van voedingstowwe