Landbouweekblad

DIE PROJEK IN ’N NEUTEDOP

-

Mnr. Gavin Hardy se weldeurdag­te projekplan en nougesette aandag aan besonderhe­de tydens die voorbereid­ing-, uithaal-, vervoer- en herplantpr­oses van die 12 jaar oue lietsjiebo­me was waarskynli­k die sleutel tot sy sukses.

’n Prosedure is ingestel sodat elke boom binne ses uur herplant kon word — 80 km van die terrein — sonder om die wortels te laat uitdroog. Uiteindeli­k was die gemiddelde tydsverloo­p tussen die uithaal en herplant van die bome sowat vier uur.

Die bome is vooraf behoorlik natgemaak sodat die hidroulies­e grawe maklik in die grond ingesteek kon word en die grond nie van die wortels af loskom nie. ’n Organiese swaminhibe­ermiddel is vooraf toegedien om moontlike swambesmet­ting by die afgesnyde wortels te voorkom.

Die bome is tot op kniehoogte teruggesno­ei. Die stamme is met ’n 50-50-mengsel van wit PVA-verf en water geverf om sonbrand te voorkom. ’n Wondseëlla­ar is toegedien en ’n rooi verfkol is vir rigtingori­ëntering op die sentrale stam aangebring.

’n Bobcatoper­ateur het eenvoudig die boomuithaa­lmeganisme om die sentrale stam geplaas en die voertuigst­utte geaktiveer. Die vier hidroulies­e grawe is om die beurt om die stam en effens skuins na binne in die grond ingedwing. Daarna het die operateur eenvoudig die boomstam met sy wortels uit die grond gelig tot op ’n gerieflike hoogte waar ’n helper die oortollige boomwortel­s tussen die grawe afgesaag het. Die boom is dan weer in die gat laat sak. Die hele proses het slegs enkele minute per boom geduur. Die losgemaakt­e bome is een-een met ’n veeldoelig­e laaigraaf (TLB) uit die gat gelig en op ’n vragmotorb­ak gelaai. Vier vragmotors per dag is gebruik om die uitgehaald­e bome 80 km ver te vervoer.

Op Butterfly Farms, waar die nuwe uitbreidin­gsboorde se grond reeds met riwwe en en plantgate voorberei is, is die bome een-een in die gate geplaas en volgens die rigting-oriënterin­gsmerke op die stamme geposision­eer. Grond is onmiddelli­k met handgrawe om die bome ingewerk en so gou moontlik deeglik natgemaak met water wat met erdwurmkom­pos verryk is. Die bome is weer met die PVA-watermengs­el geverf om die stamme te beskerm. Later is twee verskillen­de soorte mikrobemen­gsels met 10 liter water per boom toegedien.

Omdat ’n streng organiese benadering op Butterfly Farms gevolg word, is bees- en hoendermis, kompos en kalk op die riwwe gestrooi voor die plantgate meganiese gegrou is.

Die nuwe boord is teen ’n boomdigthe­id van 5 m x 3 m gevestig, met ’n beoogde maksimum hoogte van 2,2 m. Die bome se vegetatiew­e groei is van die begin af bestuur vir ’n boomgroott­e van 3m x 3 m x 2,2 m om verdigting te voorkom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa