Landbouweekblad

Die liefde weet wanneer om ‘nee’ te sê en wanneer om ‘ja’ te sê.

-

Die woord wat waarskynli­k die meeste misbruik word, is “liefde”. Dis moeilik om te beskryf hoe groot daardie misbruik is. Dit gaan nie net oor mense se optrede tenoor mekaar nie, maar dit raak ook mense se verstaan van die liefde wat God vir ons het, en hoe Hy dit toepas in ons daaglikse lewe.

Ons vind ’n skokkende voorbeeld van menslike misbruik van die liefde in die tragiese verhaal van Amnon, wat onder die skyn van liefde sy halfsuster Tamar verkrag. Die feit dat hy haar onmiddelli­k ná sy afskuwelik­e daad wegjaag, is genoegsame bewys dat dit beslis nie liefde was wat hom gedryf het nie (2 Sam. 13).

Ware liefde sal nooit só maak nie. Dit tree altyd beskermend op teenoor die belange van die ander party. Die liefde weet wanneer om “nee” te sê en wanneer om “ja” te sê. Ware liefde kan nie deur die Kwaad in ’n verkeerde rigting gestuur word nie, maar dit staan eerder in die pad van die Kwaad. Veral in die sin van God se liefde.

Soms verwar mense swakheid met liefde. Só gesien, wil liefde nie teenstand bied nie. Niks is verder van die waarheid nie, want God se liefde werk dikwels op so ’n wyse dat dit dwars in die pad van die verdwaalde kom staan. Wat was Christus se liefde aan die kruis op Golgota dan anders as juis ’n dwars-in-die-pad-staan om te keer dat alles in ’n chaos verval?

Ja, soms kan God se liefde ontstig. Dink net aan die volgende toneeltjie: ’n Alkoholver­slaafde verdwaal en raak op die treinspoor aan die slaap. Sy broer gaan soek hom. Terwyl hy nader stap, sien hy ’n trein aankom. Wat gaan die broer doen?

Gaan hy, omdat hy sy broer liefhet, hom nie in sy slaap steur nie? Nee, beslis nie. Dis hier waar die liefde hardhandig te werk gaan deur die bedwelmde van die spoor af te ruk. Klink dit nie meer na liefde wat daadwerkli­k omgee nie? ’n Pa wat sy kind so liefhet dat jy hom nooit wil teengaan nie, maar altyd net swyg, kan seker wees hy maak sy kind vir die verderf groot.

Met ’n kerk behoort dit nie anders te wees nie, maar hy moet optree met die wysheid wat van Bo kom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa