2017 DALK WEER JAAR VAN DIE LANDBOU
Die bordjies is skielik vir Suid-Afrika se boere verhang. Oor die landbou heen lyk vooruitsigte vir die komende jaar skitterblink vergeleke met toestande ’n jaar gelede.
sien selfs deesdae dat Suid-Afrikaners moeg raak vir die gewraakte ingevoerde pekelhoenders omdat hulle dit nie as waarde vir geld beskou nie.
Só het prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom, op die jongste van sy gewilde landboubemarking-werksessies in Bloemfontein gesê.
Die konsensus was dat daar vir bykans al die belangrikste plaaslike landboubedrywe waarskynlik ’n gunstige twee tot drie jaar voorlê. Die eerste teken van herstel ná die droogte was die speenkalfprys, wat die afgelope weke soos ’n vuurpyl die hoogte in geskiet het. Teen middel Februarie was daar reeds veilings waar R30/kg vir speenkalwers behaal is. In Desember moes boere nog met R20/ kg tevrede wees.
Willemse voorspel dat die speenkalfprys vir die volgende drie tot vier jaar sowat R27/kg tot R30/kg, en soms selfs effens hoër, kan bly.
Hy skryf die skerp prysstygfase in die vleisbeesbedryf nie net aan droogteherstel toe nie, maar ook aan die feit dat Suid-Afrika ál meer vleis uitvoer.
BEESVLEIS MIK NA UITVOERSTATUS
Dit is stadig maar seker besig om die wese van die bedryf te verander. “Ons beesvleisbedryf is besig om ’n uitvoermark te raak. Ons moet bedag wees daarop. Hier is nou geld te maak. Wees wel versigtig vir prysweerstand vanaf verbruikerskant.”
Willemse voorspel teen Desember ’n klas A-beesvleisprys van sowat R45/kg, en wys daarop dat die pryse van die ander twee klasse, B en C, die afgelope tyd nader aan die hoër A-prys geskuif het, ook danksy die groeiende uitvoermark. Teen middel Februarie het dragtige koeie op veilings in die weste reeds teen tussen R18 000 en R22 000 verkoop, en daar word verwag dat teelkoeie en verse vir lank duur gaan bly.
NASPEURBAARHEID DIE NUWE FAKTOR
Willemse wys daarop dat naspeurbaarheid ál stewiger in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf gevestig raak. Nie net is dit belangrik vir uitvoermarkte nie, maar voerkrale en slagplase gebruik dit ook ál meer om vas te stel watter boere se diere beter produseer en meer uitslag.
Hy glo dít behoort ook die brucellose-probleem mettertyd op nasionale skaal te help hokslaan.
Ook varkboere floreer. Dié vleis se prys het in Desember tot R29/kg gespring, en varkboere brei op groot skaal uit. Die ver- wagting is dat die prys op R27/kg sywaarts behoort te begin beweeg, en dan gaan hierdie boerderye se voerwins verder toeneem. Dié bedryf se produktiwiteit is gesond aan die groei. “Party ouens praat al van tot 28 kleintjies per sog.”
MIELIES EN OLIESADE IN OORVLOED
Wat die graanmarkte betref, meen Willemse daar is wel nog potensiaal vir ’n verdere val van sowat R200 tot R300 per ton van die mielieprys en die oliesade in oestyd. Mielies én oliesade behoort groot oeste op te lewer, sê hy. Die enigste risiko om mee rekening te hou, is vroeë ryp.
Hy voorspel ’n mielie-oes van 13,8 miljoen ton, maar meen dié syfer kan selfs tot 14 miljoen ton wees. As dít gebeur, kan dit Suid-Afrika se naasgrootste mielie-oes in die geskiedenis wees – net onder 2014 se 14,982 miljoen ton. Die groot gevaar is dat pryse so laag daal dat dit onder produksiekoste in begin beweeg, en boere in die daaropvolgende jaar nie vir produksiekrediet in aanmerking kom nie. Sy gevoel is dat die Safex-geelmielieprys tot ’n laagtepunt van sowat R1 900 per ton kan daal, en die witmielieprys na ’n onderpunt van tussen R1 600 en R1 800.
Willemse wys daarop dat mielieboere moet besef dit gaan nie meer vir lank ekonomiese sin maak om onder 4 ton per ha te produseer nie. Produksiekoste per hektaar raak eenvoudig te hoog. Sonneblom raak ’n sinvoller alternatief vir sulke lande.
Wat die oliesade betref, voorspel hy ’n gemiddelde sojaboonopbrengs van rondom 2 ton per ha, wat ’n nasionale oes van 1,05 miljoen ton sal lewer.
Hy meen die sojaboonprys behoort vir die grootste deel van die seisoen redelik rondom R5 500 per ton te stabiliseer, hoewel oesdruk hom dalk tot so ver as R4 800 per ton kan afstoot.
Ook die prys van sonneblomsaad het nog potensiaal om sowat R200/ton te val, meen hy.
Vir grondbone word allerweë ’n baie groot oes voorspel.
Die algemene verwagting is dat die koringprys nie onder R4 000/ ton behoort te val nie.
Oor laer pryse in tye van ’n oorvloed produksie sê Willemse in die verlede is baie gedebatteer oor of boere eerder moet mik om minder te produseer om hoër pryse te verseker. Hy is egter nie van hierdie argument oortuig nie. “In die algemeen is ’n laer mielieprys (teenoor verlede jaar se rekordpryse) goed vir almal, veral vir plattelandse ekonomieë.”
—