Hooimaak kombineer wetenskap met kuns
Die maak van goeie hooi is ’n kunsvorm wat met die wetenskap gekombineer word. Die boer moet alles reg doen om hooi met ’n hoë voedingswaarde te kweek. Dan moet hy dit korrek insamel en bewaar sodat die voedingswaarde nie afneem nie. Hier is kennersraad.
Die waarde van ’n josefsbeleid waarvolgens hooi in die vet jare opgeberg word sodat die vee tydens die maer jare genoeg kos het, is weer in elke veeboer se gedagtes nadat die afgelope uitmergelende droogte boere laat noustrop trek en diere in groot dele van die land gevrek het.
Ongelukkig is sommige mense se geheue kort. Hulle vergeet van die droogtes en dink net aan vanjaar. Dit is egter juis die tyd om weer te begin hooimaak en opberg – ’n gebruik wat al in die Bybelse tyd ontstaan het. Mnr. Hennie du Toit, vee-en-weidingkundige van die landboubesigheid NWK, het gesê die boer het die keuse om sy hooi van veldgrasse te maak of hy kan voergewasse plant. Wat ook al sy keuse is, die vraag is of almal weet wat om te doen sodat hulle voer van ’n hoë gehalte kweek.
Daar is verskillende doelwitte met die maak van hooi, naamlik as droogtevoeding wanneer die gras aan die vee gevoer word sodat hulle ’n droogte kan oorleef, as kontantgewas om te verkoop, as deel van ’n rantsoen in veevoeding, as seisoenale voedingsbron om die gate in voervloeibeplanning toe te stop of as ’n strategiese reserwe in die vorm van ’n voerbank vir onvoorspelbare noodgevalle (nie net droogtes nie, maar ook byvoorbeeld veldbrande).
“Die ou boere het slegs ’n aanvoeling gehad van wanneer hooi reg is om gebaal te word. Daardie gevoel kan egter nie gemeet word nie. Die hooimaakproses is ’n kunsvorm wat wetenskaplik toegepas moet word.”
FAKTORE WAT GEHALTE RAAK
Hooi se gehalte word deur verskeie faktore beïnvloed, naamlik tydsberekening, die stadium
van volwassenheid, hantering, onkruid, die snystadium, die soort gras wat verbou word en bemesting, het Hennie gesê.
Tydsberekening. Die gras moet in die regte groeistadium afgesny word wanneer die gehalte op sy hoogste is. Gehalte is beter as hoeveelheid. Daarom moet die boer die gras meer gereeld sny. Hy moet ook die weer dophou, want as die gras natreën nadat dit gesny is, daal die gehalte. Die hooi kan selfs muf. Stadium van volwassenheid. Die beste tyd om te sny, is in die vegetatiewe stadium voor saadvorming. Die gras bevat dan baie stysel, suiker, proteïene en minerale en verteer maklik. In dié stadium bevat die hooi die meeste blare en min stingels en saad. Hantering tydens sny, hark en baal. Die
hooi moet so gou moontlik in sonnige weer droog word en gebaal word sodra die voginhoud enigiets van 15% tot 18% gedaal het. Hoe langer dit duur om droog te word, hoe meer voedingstowwe gaan verlore. Dit kan dan ook gouer muf. “Sny die land gras dus so vinnig moontlik, laat dit vinnig droog word, hark dit in windrye en baal dit dadelik,” is Hennie se raad.
Onkruid en vreemde materiaal. Onkruid het ’n swak voerwaarde en verlaag die hooi se gehalte as dit saam met die hooigewas afgesny en gebaal word. Sommige onkruid is giftig. Die baalmasjien kan ook vullis optel, wat die waarde verlaag.
Soorte gras vir hooi. Grasse wat op droëland verbou word, lewer gewoonlik die beste hooi. Lusern word gewoonlik onder besproeiing verbou en is die peulplant wat die beste hooi kan lewer.
Daaglikse sny. Dit is beter om in die middag te sny, want dan is ’n grasplant se energiewaarde hoër.
Bemesting. Bemesting van die gras verhoog die proteïeninhoud en verteerbaarheid, verbeter die wortelstelsel en lewer beter diereprestasie.
EVALUEER GEREELD
Hennie het gesê dit is belangrik om die hooi se gehalte gereeld visueel te evalueer. Só kan die boer ag slaan op die volwassenheid (min stingels en baie blare), toestand (min stof en geen muf), kleur en geur (helder groen met ’n soet, vars reuk), hittebeskadiging (te nat gebaal) en vreemde materiaal (geen onkruide, vullis en stokke). Gras wat té nat gebaal is, kan soveel hitte opbou dat dit aan die brand slaan.
Boere kan sekere stappe doen om verliese aan droëmateriaal en gehalte te beperk, soos om eerder te baal nadat die dou reeds verdamp het. Aan die ander kant is die hooi se energieinhoud in die middag op sy hoogste.
Hark die hooi ook so min moontlik om ’n verlies aan blare te voorkom. “Hoe meer jy hark, hoe meer blare val af.”
BEPERK VERLIESE SÓ
Verskillende tipe verliese kan ontstaan. Daar is respirasieverliese van 2% tot 6% as die hooi vinnig droog word, terwyl hooi wat stadig droog word, verliese van meer as 15% kan hê. Reënweer veroorsaak verliese van tot 20% in voedingstowwe terwyl die nat hooi op die land bly lê.
Verliese kom verder tydens die baal van die hooi voor as die hooi te droog is.
Opbergingsverliese gebeur wanneer die bale nie kompak genoeg is nie. Baal dit eerder styf en dig. Pak die bale netjies en ver kieslik net in een laag as dit buite opgeberg word. Bale wat onderdak opgeberg word, behou hul gehalte baie lank.
Pak die bale op skoon, goed gedreineerde grond en ver van damme en kanale om hoë humiditeit vry te spring. Beheer grasse, wat ’n skuilplek vir rotte is. Moenie die bale onder bome opberg nie, want vallende takke en voëls kan toegedraaide bale beskadig.
Beperk verliese tydens die voer van die hooi aan diere met tot 30% deur die bale in hooirakke te plaas. Plaas net genoeg voer vir die dag uit.
TOEDRAAI VAN HOOI
Bale wat buite opgeberg word, behoort eers met plastiek toegedraai te word. Werktuie is daarvoor beskikbaar, byvoorbeeld die McHale Fusion 3.
Gebruik goeie plastiek wat teen ultravioletstrale bestand is vir goeie bewaring en die afvloei van reënwater. Dit moet kan rek om die bale styf toe te draai.
Hennie het gesê hooimaak is duur en verg baie tyd. Daarom moet boere ál hierdie stappe die eerste keer reg doen ter wille van hooi van ’n hoë gehalte en goeie diereprestasie.