SKERP VERANDERING
Dit is verstommend hoe vinnig dinge deesdae verander. Net die ander dag nog het die mielieprys vanweë ’n histories groot oes gedaal, en toe, skielik, binne ’n paar dae, begin hy weer styg. Al wat nodig was om dinge taamlik vinnig deurmekaar te krap, was pres. Jacob Zuma wat onbeskaamd daarop aangedring het dat hy aansienlik meer wil vat as wat hy reeds vat. Bankaandele het begin val en binne dae is R80 miljard se waarde uitgewis. Die rand het aansienlik verswak (maar darem nie gedisintegreer nie), terwyl Suid-Afrika se groot staatskuld oornag baie duurder geraak het ná twee taai dwarsklappe van die graderingsagentskappe.
Nou styg die mielieprys weer, en goed geplaaste uitvoerbedrywe, soos die neutbedryf, gaan skep.
Die groter prentjie is egter taamlik mistroostig. Produksiemiddele, wat meestal ingevoer word en reeds ’n lelike hap uit winsmarges vat, gaan nou nóg dieper byt. Wat oorbly, gaan verder deur duurder skuld weggekalwe word. Die landbou se skuldvlak is juis ongemaklik hoog. Die totale landbouskuld het teen einde verlede jaar op R145 miljard gestaan — ’n onrusbarende 34% van landboubates. Dit is ’n las wat duurder, en seker ook moeiliker bekombaar, gaan word wanneer die Reserwebank die rentekoers verhoog in ’n verbete poging om inflasie in toom te hou.
Met Suid-Afrikaanse verbruikers wat boere se produkte moet koop, gaan dit nie veel beter nie. Hulle is onder erge druk en skuldvlakke is besonder hoog. Peilings het bevind tot 77% van Suid-Afrikaners is aan die einde van die maand heeltemal platsak. Hoër rentekoerse gaan lelik onder ons mense maai.
Ongelukkig probeer supermarkte dié trae vraag teëwerk deur die skroewe ál stywer te draai. Onlangs het hulle skandalig geweier om melkkopers se beskeie prysverhoging, waarop boere gereken het om verlede jaar se verliese te probeer verhaal, te aanvaar.
Mense word by die dag kwater. Dit is nou duidelik dat SuidAfrikaners eenvoudig besteel word — van die armes tot die heel rykstes. Neem byvoorbeeld Magda Wierzycka, Suid-Afrika se rykste vrou en baas van die batebestuurder Sygnia. As 13-jarige het sy saam met haar dokterouers uit kommunistiese Pole gevlug toe kos daar begin skaars raak het. Sy weet dus eerstehands hoe sleg dinge kan wees. In ’n onlangse onderhoud met ’n Sondagkoerant het sy nie doekies omgedraai nie: “As dit binne my magte was, het ek eenvoudig vir Zuma gesê: ‘Hoeveel? En loop dan. Hier is amnestie. Hier is ’n enkelbedrag. Los die land nou uit sodat ons die probleme kan begin oplos’.”
Só ’n stelling van korporatiewe Suid-Afrika sou ’n paar maande gelede ondenkbaar gewees het, maar die verset teen ’n plunderende Regering loop nou soos ’n veldbrand. Vergeet maar daarvan om internasionale beleggersvertroue te herwin, want hoe die Regering weer vertroue onder sy eie mense gaan inboesem, weet nugter alleen. Volgens peilings vertrou ’n skamele 15% van SuidAfrikaners nog die Regering, die laagste koers ter wêreld!
Nou ja, as die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye dink dat produsente goedsmoeds gaan hoes vir die inspeksiediens vir landbouprodukte wat hy wil afdwing, maak hy ’n fout. Produsenteorganisasies is op pad hof toe, ’n stap wat ons ten volle ondersteun.
Dinge is aan die verander in Suid-Afrika, maar dit wil voorkom of nie almal dit mooi verstaan nie. — CHRIS BURGESS