TOEKOMS VAN PLATTELAND IN MEGABOERE SE HANDE
Die landbou is besig om te verander. Tegnologie stel boere in staat om al hoe meer te doen met minder. Die gevolg daarvan is dat die plattelandse leefstyl in die toekoms onder groot druk gaan kom. Megaboere kan egter mense laat terugkeer platteland toe indien hulle die toekoms slim benader.
Megaboerdery het ontstaan uit die noodsaaklikheid om op groot skaal te boer ten einde te oorleef (skaalekonomie). Suid-Afrika se omstandighede is tans nie gunstig vir die landbou nie en die klein en middelslagboere verloor by die dag die geveg. Die megaboer besef dat groei noodsaaklik is om te oorleef en koop dus die kleiner boere uit. Die klein boere word dus nie vervang met nuwe, klein boere nie, maar word opgeneem deur die megaboere.
Hoe groter die boerdery, hoe beter kan die megaboer onderhandel om beter pryse te kry vir die aankoop van produkte wat hy benodig, sowel as vir die produkte wat hy verkoop. Dit is iets wat die kleinboer nie kan doen nie.
DIE TOEKOMS
Die probleem in Suid-Afrika is dat politieke agendas die toekoms sal bepaal, hoewel die ekonomie op ’n vryemarkstelsel berus. Grondhervorming en grondplafonne gaan dit al hoe moeiliker maak vir die megaboer om uit te brei, en uitbreiding is noodsaaklik om ekonomies te kan boer. Die oomblik as ’n megaboer grond moet afstaan, veral as dit nie teen vergoeding is nie, is hy skielik in dieselfde situasie as die meeste klein boere net voor hulle verkoop.
Die megaboere het ook ’n paar keuses om te maak wat hul eie toekoms sal bepaal. Die logiese gevolg van ’n onderneming wat te groot raak, is om die formaat van eienaarskap te verander. Die boerdery kan dus van private eienaarskap oorgaan na ’n maatskappy met aandeelhouding. Hierdie aandele kan die boerdery ’n groot kapitaalinspuiting gee wat gebruik kan word om verder uit te brei. Indien grondplafonne ingestel word, is die kans goed dat boere op die verwerking van produkte sal konsentreer om waarde te skep.
HERBEVOLKING VAN DIE PLATTELAND
Die ontvolking van die platteland is regstreeks gekoppel aan die verlies aan geleenthede. Mense gaan na die stede op soek na werk en beter inkomste. Indien megaboere besluit om verwerking op die platteland te begin doen, hetsy op die plaas of op die naaste dorp, gaan daar skielik meer werksgeleenthede wees, wat kan lei tot die herbevolking van die platteland. So ’n verwerkingsaanleg vereis ook verskillende vaardighede wat strek van algemene werkers en skoonmakers tot by mense wat masjiene in stand moet hou, administratiewe personeel, bestuurders en bemarkers.
Die oomblik as daar meer sulke poste aangebied word, is daar meer geld in omloop op die plattelandse dorpie en stimuleer dit weer groei vir plaaslike ondernemings. Dit alles dra daartoe by dat die platteland skielik aantrekliker gaan word as die stede waar daar tans in elk geval te min werk is.
Daar is ook heelwat ander geleenthede wat om so ’n onderneming bestaan, soos om die afvalprodukte te verwyder of te verwerk, dienste aan die personeel aan te bied of selfs sekerheidsverwante geleenthede.
Megaboere moet bogenoemde nie beskou as hul verantwoordelikheid nie, maar eerder as ’n geleentheid. Die verandering van eienaarskap na ’n maatskappy gaan dit dalk makliker maak om eerder te kyk na swart bemagtiging deur aandeelhouding pleks van om grond af te staan in ’n grondhervormingstransaksie wat die bedryfskant van die onderneming kan knou of selfs tot stilstand bring. Die herbevolking van die platteland bring baie voordele vir die megaboer, en
die gemeenskap kan help om sy risiko te verminder.
Net soos wat megaboere besef het dat oorlewing en groei gekoppel is aan uitbreiding, is dit nou tyd om nuut te kyk na die landbou. In die toekoms gaan die eienaarskap van grond dalk nie gekoppel wees aan die eienaarskap van die onderneming nie. Die maatskappy het ook die geleentheid om te diversifiseer, wat moontlik tot ’n verhoging in winste en volhoubaarheid kan lei – iets wat die klein boere nie gaan hê nie. J.S. VAN DER MERWE