Landbouweekblad

DIE WAARHEID SAL SEËVIER

- Riebeek-Wes

Ek was pas in gesprek met ’n vriend van my wat in die SuidKaap boer. Volgens hom is die Strandveld net so droog en onsmaaklik warm soos wat dit in die Swartland is. Tans is hulle besig om die deel van sy gars-oes waarvoor hy nie ’n kwota gehad het nie, te verkorrel en in sy melkkoeie se rantsoen in te werk.

Dit laat my toe dink aan Graan SA se jaarvergad­ering wat begin Februarie op Moorreesbu­rg gehou is. Nadat ons die probleme van die koringbedr­yf – insluitend die liggingsdi­fferensiaa­l – op die tafel gesit het, kon ons luister na ’n spreker van die Suid-Afrikaanse instituut vir garsteling (Sabbi), wat probeer het om garsverbou­ing as alternatie­f vir koringverb­ouing in die Swartland te propageer.

Voor ek my kon kry, sê ek toe hardop: “Ek hoop die mense wat wil gars saai, het ’n melkery vir die deel van die garsoes wat nie moutgars is nie.”

Ná ’n paar sekondes van stilte moes ons toe hoor dat die mark vir moutgars strek tot bo in die noorde, maar presies waar in die noorde het ek nou vergeet.

Al wat ek kan onthou, is dat my pa altyd gesê het hy saai nie gars nie, want dit beland in jou koringsaad en dan sukkel jy om die gars van die koringsaad te skei. Ek moet egter sê dit was iewers in die dae van 1957 tot 1960 toe oom Mighiel Mostert met sy Newsaad-saadskoonm­aakmasjien­tjie in die Swartland rondgetrek het om boere se koringsaad skoon te maak. Vandag het die tegnologie só gevorder dat iets soos om gars uit koringsaad te haal, nie meer ’n probleem is nie.

Ná afloop van die vergaderin­g is ek huistoe. Al wat ek onthou, is Hennie Visser se uiteensitt­ing oor die wins van koringboer­e teenoor dié van meulenaars en die ander betrokkene­s in die koringwaar­deketting.

Terwyl ek die verloop van die vergaderin­g met my vrou bespreek, lui my telefoon. Dit is ’n boer van Piketberg. “Oom Alwyn, gaan jy na die koringinda­ba op Elsenburg volgende week?”

Ek antwoord: “Ek sal sien, hoekom?”

Toe sê hy: “Ek wil jou vra om nie by Hennie Visser te sit nie.” “Hoekom nie?” vra ek. “Omdat die mense jou haat, Oom, en ek is bang hulle haat later vir Hennie ook.”

“Ou vriend,” sê ek toe, “ek steur my min aan wat mense van my sê, want in die Bybel staan geskryf: ‘Vir die waarheid sal jy gehaat word,’ en ek belowe jou, as ek Elsenburg toe gaan, sal ek sorg dat die waarheid ook op dié geleenthei­d ingedra word.” ALWYN DIPPENAAR

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa