UIT DIE TEELKAMP NA DIE JAGVELD
Laer veilingspryse beteken wildboere moet elders kyk om hul somme te laat klop. JASPER RAATS berig.
“ONS het vir ’n lang ruk ’n goeie tyd beleef, maar dis nou verby.” Dít was mnr. Barry York, die bekende gouewildebeesteler van die Golden Breeders, se opsomming van wildpryse by sy stalletjie tydens die onlangse Wildbedryf SA-kongres in Limpopo.
“Daar is nog uitskieters, maar dit is net die topteeldiere,” sê hy. Die res van die wild se pryse het tot hul kommersiële waarde gedaal, en kleurvariante, soos gouewildebeeste en swart rooibokke, gaan nou hul plek op die plaas teen jagwaarde moet verdien.
“Ja, hulle het redelik dramaties uit die bus geval,” sê mnr. Ernst Janovsky, tot onlangs hoof van Absa Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid. Hy het drie jaar gelede onder kwaai kritiek deurgeloop omdat hy gewaarsku het dat pryse waarteen kleurvariante verhandel het, nie volhoubaar was nie. Nou waarsku hy dat sommige diere se pryse nog nie hul laagtepunt bereik het nie.
WILD WORD BOERDERY
Janovsky sien dit egter as ’n gunstige ontwikkeling. “Die bedryf keer uiteindelik terug na realistiese pryse vir wild. Kopers werk met ’n biltongjagprys in die agterkop en dit is hoe dit hoort. Wild word nou ’n boerdery, nes enige ander boerdery.”
Hy sê by wild moet ’n teeldier se prys op dieselfde beginsels as ander vee s’n bereken word. ’n Stoetkoei of -ooi is omtrent vier keer soveel werd as ’n gewone kommersiële dier van daardie diersoort.
Kopers maak deesdae dié som by wildveilings. Mnr. Brandon Leer, een van Suid-Afrika se bekendste wild afslaers, meen die toekoms van ’n volhoubare wildbedryf is in daardie som opgesluit. “As jy nou swart rooibokke gaan aankoop teen R20 000 stuk en jy laat hulle deur buitelandse jagters jag teen $3 000, dan is dit ’n baie veilige belegging. As jy ’n buffelkoei koop teen R300 000 en jy laat jag haar bulkalwers teen R100 000 stuk as hulle volwasse is, dan maak daardie som steeds baie sin,” sê Leer.
VERSADIG
Leer sê daar is telers wat nou moedeloos is omdat wild waarvoor hulle duur betaal het, nou net ’n deeltjie van hul aankoopprys werd is. Toe die wildbedryf in sy bloeifase was, het ’n mens ’n swartwitpensvers vir R100 000 op ’n veiling gekoop. Die volgende jaar was sy R200 000 werd en haar verskalf van R100 000 tot R200 000 werd. Die volgende jaar was daardie selfde koei sommer van R300 000 tot R400 000 werd.
“Dit was ongelooflike somme en talle nuwe telers het tot die wildbedryf toegetree, maar nou is die mark versadig,” sê hy.
Die hoë waarde van hierdie diere het dit die moeite werd gemaak om hulle deur die droogte van verlede jaar te voer. Leer wys egter daarop dat die geld wat boere aan voer bestee het, andersins vir die aankoop van wild sou gaan. “As elke wildboer R1 miljoen aan voer bestee het, is dit honderde miljoene rande uit die mark uit,” verduidelik hy.
Noudat die wild danksy goeie voer en versorging deur die moeilike tye bly aanteel het, oorskry die aanbod eenvoudig die vraag. Leer sê wildboere gaan steeds goeie geld vir hul wild verdien. Dié wat aanvanklik diere ten duurste aangekoop het, gaan nou net langer moet boer om hul insetkoste te verhaal – een jagter op ’n slag vir kommersiële bokke.
KOMMERSIËLE WAARDE
In 2015 het gemiddelde elandbulle maklik R15 000 stuk op veilings van Vleissentraal gehaal. Vanjaar verkoop soortgelyke bulle vir nagenoeg R8 000. Alledaagse koedoekoeie is gemiddeld teen R6 000 verkoop, vanjaar is die gemiddelde prys R3 500. Njalabulle het in 2015 maklik R45 000 stuk gehaal en verkoop vanjaar teen omtrent R15 000. Die prys van njala-ooie het van omtrent R27 000 tot R14 000 verlangsaam.
Janovsky wys daarop dat rooibokooie in ’n stadium teen R13 000 stuk verhandel het toe telers desperaat op soek was na vroulike diere om kleurvariante mee te teel. Nou haal rooibokooie maar R1 000 tot R2 000 stuk.
‘Sodra die mark versadig en pryse verlangsaam, klim daardie besigheidsmanne uit en verkoop hulle hul diere.’
“Die dae wat die kleurmark die pryse van gewone diersoorte optrek, is verby.”
Hy verwag dat pryse nog verder gaan daal. “Swartwitpense haal nog ongeveer R180 000 stuk. Ons berekeninge is dat hulle uiteindelik omtrent R80 000 vir ’n vroulike dier werd gaan wees. Rooibokke gaan weer by R1 000 tot R1 200 en swart rooibokke by R8 000 vassteek,” sê Janovsky.
Hy sê buffels se pryse hou beter, maar sal ook bietjie afplat as die ander wild se pryse verlangsaam. Buffels se voordeel lê daarin dat Suid-Afrika tans een van die min plekke op aarde is waar ’n mens nog kan buffels jag.
Leer haal min of meer dieselfde syfers aan oor prysneigings op veilings. “Dit bly ’n goeie bedryf, en as mens op jou skaars wildsoorte na die prys per eenheid kyk, is dit steeds beter as ander vee.”
BOU NOU ’N JAGMARK
Leer sê soos met alle bedrywe wat ’n bloeifase deurgaan, het baie sakelui en spekulante tot die wildbedryf toegetree toe dit goed gegaan het. “Ons het dieselfde by verskillende beesrasse gesien, die Bonsmaras, Borane en tans die Wagyus. Sodra die mark versadig word en pryse verlangsaam, klim daardie sakelui uit en verkoop hulle hul diere.”
Hy sê uiteindelik gaan die ware wildboere oorbly en hulle gaan steeds ’n gesonde, dog meer realistiese bedryf hê.
Janovsky stem saam. “Die geheim vir volhoubaarheid in die wildbedryf is nie om kampe te span en te teel nie. Jy moet jou wild kan oes en die plek waar jy dit oes, is in die jagveld.
“So as jy nie in jaggeriewe vir jagters en in die oesmasjien van jou wild belê nie, werk jy jouself in ’n hoek vas.”
Mnr. Lood Bester van Wildswinkel glo ook daar lê baie potensiaal in Suid-Afrika se jagmark. Hy noem dat biltongjagpakkette by ’n onlangse jagveiling bo verwagting gepresteer het, terwyl trofeejagte nie na verwagting gepresteer het nie.