SÓ SOEK JY NUWE MARKTE
Mededingers, tariewe en vereistes oor voedselveiligheid en etikette is van die kwessies wat uitvoerders van sitrus en tafeldruiwe deeglik moet oorweeg om uitvoer suksesvol uit te brei.
VERLEDE jaar is sitrusvrugte ter waarde van sowat 1,67 miljard Amerikaanse dollar en tafeldruiwe ter waarde van sowat $435 miljoen uitgevoer.
Uitvoer van dié twee bedrywe het die afgelope vier jaar met onderskeidelik 7% en 2% gegroei, skryf me. Willemien Viljoen (foto), ’n navorser verbonde aan die Tralac-sentrum vir handelsreg in Stellenbosch.
Die bedrywe is vir Suid-Afrika belangrik ten opsigte van uitvoer en werkgeleenthede en het die potensiaal om verder te groei.
Die meeste van die uitvoer gaan nog na tradisionele markte in die Europese Unie en Brittanje, maar die hoeveelhede wat na die Asiatiese en Midde-Oosterse markte gaan, toon groei, sê sy.
Plaaslike produsente en uitvoerders kyk volgens haar na moontlike uitbreidingsgeleenthede in Rusland – in 2015 die wêreld se grootste sitrusinvoerder – asook Kanada, Portugal en Bulgarye.
Van die omstandighede in dié lande wat volgens haar by enige uitbreidingsplanne in ag geneem moet word, is dat Rusland in geheel ’n inkrimping in marktoestande gehad het.
Sy lemoeninvoer het byvoorbeeld van 2012 tot verlede jaar met 11% gedaal en sy tafeldruifinvoer met 23%.
Daarteenoor styg Kanada se vraag na veral tafeldruiwe en suurlemoene.
Hoewel Suid-Afrika se uitvoer van tafeldruiwe na Kanada in dieselfde vier jaar met 67% gestyg het, was sy aandeel in Kanada se totale tafeldruifinvoer verlede jaar slegs 3,76%.
Portugal is eintlik deel van Suid-Afrika se tradisionele markte, maar die afgelope vier jaar het Suid-Afrika se uitvoer van lemoene, suurlemoene en pomelo’s soontoe beduidend gestyg, sê Viljoen.
Bulgarye was nog nooit vir Suid-Afrika ’n groot uitvoerbestemming nie, waarskynlik weens die grootte van die mark.
STRUIKELBLOKKE
Viljoen lig verskeie struikelblokke uit wat produsente in ag moet neem om in dié lande uit te brei.
Suid-Afrika se mededingers is dikwels nader geleë, wat die relatiewe koste van produksie en die mededingendheid van Suid-Afrikaanse produkte raak. Op die Russiese mark vir lemoene ding Suid-Afrika byvoorbeeld toenemend met Egipte mee.
Baie van Suid-Afrika se bestaande mededingers se vrugte is in dieselfde seisoen beskikbaar. Suid-Afrika moet dus ’n mededingende voordeel vind bo lande soos Chili en Peru, hetsy deur hoë gehalte teen ’n lae prys, nismarkte of gedifferensieerde produkte, soos alternatiewe kultivars, of om die tydsberekening van die aanbod te verander.
Tariewe en voorkeurtoegang kan ’n rol speel. Op al die markte, behalwe Kanada se sitrusmark, word ’n vlak van tariewe op Suid-Afrikaanse produkte gehef. Dit is oorwegend laag, minder as 10%, maar kan prysmededingendheid nadelig raak.
Die koste van sanitêre en fitosanitêre vereistes, voedselgesondheid en -veiligheidsvereistes, en streng etiket- en verpakkingsvereistes moet in ag geneem word.
Verder waarsku Viljoen dat die veranderende globale handelsomgewing, soos Brexit en Amerika wat meer inwaarts gekeer raak, beteken enige uitbreidingsof penetrasieplanne moet dinamies en aanpasbaar wees.
–