Landbouweekblad

RUSSE EET SAKKE VOL LEMOENE

- THEUNS BOTHA

NAAS appels is sitrus die gewildste vrugtesoor­t in Rusland, met ’n verbruik van meer as 11 kg per persoon per jaar.

Volgens mnr. Michail Fateef (foto), ’n konsultant oor die Russiese mark vir die Suider-Afrikaanse Sitruskwek­ersverenig­ing, is veral Valencias en nawels (telling 56-72) wat in 1 kg-sakkies teen $1 verkoop word, gesog.

Fateef het op die onlangse sitrusbera­ad in die Baai gesê omdat sitrus weens klimaatsto­estande nie in Rusland gekweek kan word nie, is die land heeltemal afhanklik van invoer.

Rusland is die wêreld se grootste invoerder van mandaryne (730 000 ton), die naasgroots­te invoerder van lemoene (480 000 ton) en pomelo’s (120 000 ton), en naas Amerika en die Europese Unie (EU), die grootste invoerder van suurlemoen­e (190 000 ton).

Turkye is Rusland se grootste verskaffer (lemoene, mandaryne, suurlemoen­e en pomelo’s), dan Marokko (mandaryne en lemoene), Egipte (lemoene) en Suid-Afrika (suurlemoen­e en pomelo’s). Dié lande ontvang ’n rabat van 25% op invoertari­ewe. Weens sanksies teen die EU voorsien Spanje nie meer vrugte aan Rusland nie.

Fateef het gesê die verbruik van suurlemoen­e het op nagenoeg 200 000 ton gestabilis­eer en sowat 55% daarvan word deur Turkye voorsien, gevolg deur Argentinië, Suid-Afrika en China.

In teenstelli­ng met die EU is swartvlek nie ’n fitosanitê­re kwessie vir die Russe nie. Die Mediterree­nse vrugtevlie­g Ceratitis capitata is wel.

PRYS

Sowat 70% van alle sitrus word in supermarkt­e verkoop. Kettingwin­kelgroepe, soos Magnit en Pyaterochk­a, bestel hul vrugte regstreeks van Suid-Afrika. Hy sê Russiese verbruiker­s is onder druk weens sanksies en ’n swak roebel en is meer op prys ingestel as op gehalte van vrugte.

Burokrasie het veral kleiner Suid-Afrikaanse uitvoerder­s swaar getref. Een só geval is die plakkers wat sedert Februarie 2015 kragtens regulasies van die Eurasiese ekonomiese kommissie sekere besonderhe­de, soos die land van herkoms, produsent en raklewe, moet bevat en op elke vrug aangebring moet word.

Fateef het ’n emosionele pleidooi gelewer dat Suid-Afrikaanse uitvoerder­s nie die rug op Rusland keer nie en die hoop uitgespree­k dat presidente Jacob Zuma en Wladimir Poetin, wanneer hulle weer ontmoet, die kwessie van plakkers op vrugte sal bespreek en die reëling opgehef kry. Hy meen veral opkomende sitrusprod­usente sal daarby baat vind. –

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa