LUKRAKE LAPPIES GROND BAAT NIEMAND
BEGUNSTIGDES van grondhervorming sal wéér tweede kom as grondplafonne vir landbougrond ingestel word, meen mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsinligting by Agbiz.
Die wetsontwerp op die regulering van grondbesit, wat perke op plaasgroottes voorskryf en buitelanders se besit van landbougrond met ’n langtermynhuurstelsel vervang, is tot 17 Mei oop vir openbare kommentaar.
Boshoff sê die staat wil basies met die wetsontwerp self bepaal hoeveel hektaar grond ’n groot, medium- en kleinboer mag besit en die eienaar dwing om enige oorskot grond aan die staat beskikbaar te stel vir herverdeling. “Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n eerbare idee dat die staat van die rykes gaan vat en aan die armes gaan gee. Maar as ’n mens eers begin dink aan die praktiese gevolge van hierdie wetsontwerp, besef jy dat die begunstigdes van grondhervorming weer aan die kortste end gaan trek.”
Hy sê met grondplafonne sal die staat opgeskeep sit met lappies grond wat lukraak oor ’n streek of ’n distrik versprei is.
ONDUIDELIK
In dié stadium is daar geen aanduiding op watter groottes die grondplafonne gestel sal word nie. Dit is dus onmoontlik om te bepaal hoeveel grondeienaars in ’n sekere gebied ’n deel van hul plaas sal moet verkoop en watter proporsie van hul grond.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het vroeer genoem die perk vir ’n klein kommersiële plaas sal 1 000 hektaar wees, 2 500 hektaar vir ’n mediumgroot kommersiële plaas en 5 000 hektaar vir ’n groot kommersiële plaas. ’n Perk van 12 000 hektaar sou vir bosbou-, wild- en hernubare-energie-plase daargestel word. Oorskotgrond tussen hierdie kategorieë sal onteien en herverdeel word.
Boshoff meen só ’n manier om grond te selekteer, is ouderwets en neem nie die behoeftes van die begunstigdes in ag nie.
Daar is geen versekering dat die afgesnyde stukke grond bewerkbaar sal wees of toegang tot water, paaie of munisipale dienste sal hê wat noodsaaklik vir boerdery is nie.
“Verder, terwyl die hoofeiendom ’n ekonomies lewensvatbare eenheid kan wees, is daar geen versekering dat die grond wat as ‘oorskot’ gesien word, ’n lewensvatbare eenheid op sigself sal wees nie.”
PRODUKSIEMIDDELE
Boshoff wys verder daarop dat Suid-Afrikaanse boere weens hul afhanklikheid van ingevoerde kunsmis en landbouchemiese middels en weens die onstabiele wisselkoers dikwels meer vir produksiemiddele betaal as hul internasionale mededingers. Een manier om steeds mededingend te bly, is om die skaal van die boerdery te verhoog.
’n Begunstigde wat ’n klein stukkie oorskotgrond kry om op te boer, sal steeds moet meeding in die wêreldekonomie, maar sal nie die geleentheid hê om voordeel te trek uit skaalekonomie nie. Só ’n situasie kan hulle tot mislukking doem.
Boshoff meen begunstigdes kan meer baat vind as die sowat R2,5 miljard wat jaarliks vir grondhervorming geoormerk word, eerder gebruik word om bestaande landbou-ondernemings vir die begunstigdes aan te koop.
‘Daar is geen versekering dat die afgesnyde stukke grond bewerkbaar sal wees nie.’