Moeilike winter lê voor
Melkboere wat gehoop het vanjaar gaan danksy dalende voerpryse en hoër plaashekpryse ’n beter jaar wees, moet hulself nou staal teen verbruikers se swakker koopkrag en die mag van die kleinhandel.
Dié tyd van die jaar is dit gebruiklik dat melkkopers hul boere se melkprys voor die winter verhoog. Begin Maart moes Woodlands Dairy in die Oos-Kaap egter sy beoogde verhoging van 40c/liter terugtrek nadat die kleinhandel geweier het om só ’n verhoging aan verbruikers deur te gee.
Boere elders hou nou asem op om te sien wat ander melkkopers gaan doen.
In Woodlands se omgewing trek boere swaar weens die droogte.
In die noorde het somerreën geval, maar boere ervaar finansiële druk weens ’n jaar of langer se grootskaalse en duur voeraankope. Nou het hulle ook te kampe met ’n toename in siektes en ’n gevolglike daling in produksie.
VERLIESE ’NET TE GROOT’
’n Boer van Noordwes wat ter wille van sy verhouding met sy koper anoniem wou bly, sê dié koper het reeds ’n beoogde winterverhoging teruggetrek. Die boer het op ’n 30c-verhoging gehoop.
Nadat hy drie droë jare oorleef het en veral verlede jaar ten duurste voer moes koop, oorweeg hy dit nou om die deure van sy melkstal te sluit as hy nie ’n winterverhoging kry nie. “Dit is nie dat ons wíl ophou nie – ons het ses jaar gelede baie in die melkery belê.”
Die verliese wat hy verlede jaar weens voerpryse gely het, was egter net té groot. “Voerpryse het ’n bietjie gedaal, maar nog nie voldoende nie.”
Mielies wat hy vroeg in Maart gekoop het, het teen R2 500/ton by hom aangekom. “En dit gaan nie voor Junie beter gaan nie.”
In ’n poging om sy verliese te beperk, het hy reeds sy melkkudde van 930 koeie tot 500 koeie verminder.
Hy is nie die enigste in sy omgewing wat sukkel nie. Van sy studiegroep se 22 lede is daar nou net 7 oor. Hy sê die groot kwessie met die neiging van al hoe minder binnelandse melkboere teenoor groeiende getalle aan die kus, is dat laasgenoemde ver van die groot mark in Gauteng is.
SIEKTES
Asof binnelandse melkboere nog nie genoeg hoofbrekens het nie, het die welkome reën ook ’n onwelkome styging in die voorkoms van siektes gebring. ’n Veearts wat melkbeeskuddes in die noordelike provinsies besoek en weens beroepsredes nie geïdentifiseer wil word nie, sê ná die moeilike finansiële tyd waardeur dié boere is, “gaan die erosieeffek van hoofsaaklik knopvelsiekte, maar ook vrotpootjie, baie melkboere knak”.
“Die hoë reënval met gepaardgaande modderstres het (reeds) ’n groot ongunstige invloed op lakterende koeie gehad.”
Volgens die veearts, wat self ook ’n melkboer in Mpumalanga is, kom knopvelsiekte gewoonlik in jaarsiklusse voor. Weens die vorige jare se droogte was die voorkoms van die siekte laag en is koeie se immuniteit nooit voldoende uitgedaag nie. Vanjaar was die voorkoms skielik baie hoër.
“Kuddes in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga het vanjaar die ergste knopvelsiektebesmetting in minstens die afgelope 15 jaar beleef. In party kuddes is tot 80% van die diere aangetas. Van kalwers wat nog melk gevoer word tot volwasse koeie is besmet.”
Volgens hom vra baie kudde-eienaars hoekom die voorkoms van die siekte ondanks die gebruik van entstowwe só erg is. Dit word reeds ondersoek.
Knopvelsiekte het ’n ernstige uitwerking op koeie se produktiwiteit, wat tot ’n skerp daling in melkproduksie lei. Koeie se liggaamskondisie versleg, vrektes kom voor en reproduksie word geknou.
“Die nadelige nagevolge van knopvelsiekte gaan vir nóg ’n laktasie gevoel word,” sê hy.
Die behandeling van lakterende koeie is duur, veral waar middels gebruik word wat nie melkonttrekking noodsaak nie. Ander middels wat wel in die melk uitgeskei word, beteken dat melk vir minstens vyf dae onttrek moet word.
Die veearts sê vrotpootjie is ook vanjaar ’n groot probleem. Die beweeglikheid van ’n melkkoei met seer pote word belemmer, wat veroorsaak dat sy nie genoeg tyd by die voerkrip bestee nie en dus te min vreet.
“Haar produksie daal onmiddellik, sy verloor gewig en die behandelingskoste verhoog.”
MARK VIR PRODUKTE
Terwyl boere uitsien na hoër winterpryse, moet melkverwerkers hul produkte egter nou in ’n traer mark verkoop.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro), sê syfers toon die verkope van sekere suiwelprodukte het in die tweede helfte van verlede jaar gedaal. Dit was nadat pryse in die eerste ses maande van verlede jaar vinnig gestyg het in reaksie op dalende produksie weens die droogte.
Die verkope van nege soorte produkte word gemonitor. Ses daarvan se verkope was in die tweede halfjaar laer as in die ooreenstemmende tyd in 2015 ( TABEL 1 ). Vars melk en langlewemelk is onder die produkte waarvan die verkope gedaal het. “Laasgenoemde is ’n baie belangrike marksein, want sowat 50% van onverwerkte melk wat in Suid-Afrika gelewer word, word vir vars melk en langlewemelk gebruik,” sê Alwyn.
“Die verswakking in die vraag na suiwelprodukte toon dat Suid-Afrika se swak eko-
nomiese groei, wat reeds vroeër die kleinhandelverkope van ander voedselprodukte beperk het, ook die kleinhandelverkope van suiwelprodukte afdruk.”
INVOER
Die kleinhandelaars het Woodlands nou glo gedreig dat hulle eerder langlewemelk sal invoer as om groot prysverhogings aan verbruikers deur te gee. In 2015 is groot hoeveelhede langlewemelk tot boere se bittere ontsteltenis ondanks ’n plaaslike ooraanbod uit Pole ingevoer.
Volgens Alwyn was 2015 se laer uitvoer en hoër invoer ’n gevolg van drastiese dalings in internasionale produkpryse. Verlede jaar was invoer én uitvoer laer as in 2015.
Mnr. Lex Gutsche, uitvoerende hoof van Woodlands, het in Maart, voor die verswakking van die rand, gesê dit is tans goedkoop om langlewemelk in te voer, wat afwaartse druk op plaaslike pryse plaas. Die ingevoerde langlewemelk verteenwoordig volgens hom egter slegs sowat 1% tot 2% van die totale melkproduksie in Suid-Afrika en sowat 3% van plaaslik langlewemelkproduksie.
Volgens die MPO is dubbel soveel suiwelprodukte in ton in Januarie vanjaar ingevoer vergeleke met Januarie verlede jaar, wat veral langlewemelk en melkpoeier behels het.
Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, sê egter ’n mens kan nie sommer uit dié enkele maand gevolgtrekkings maak nie. Uitvoer was toe steeds hoër as invoer.
Alwyn sê van April verlede jaar tot Januarie vanjaar het internasionale pryse met 51,4% gestyg. ’n Mens sou hieruit kon aflei dat die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf waarskynlik vanjaar minder aan buitelandse mededinging blootgestel sal word, maar die wisselkoers kan ’n rol speel.
AANPASSINGS, STRUIKELBLOKKE
Alwyn sê die suiwelbedryf moet dikwels en vinnig aanpas om in pas te bly met die vraag na suiwelprodukte. “Dié aanpassings is veeleisend en bring mee dat minder mededingende ondernemings in die primêre en sekondêre bedryf kwyn, en die meer mededingende ondernemings groei.”
Die bedryf slaag volgens hom wel in ’n groot mate daarin om struikelblokke te oorkom. Hoewel die produksie van onverwerkte melk verlede jaar 1,4% laer was as in 2015, sê hy in die afgelope nege jaar het produksie jaarliks met gemiddeld 2,2% gegroei.
Alwyn sê ook in Suid-Afrika is skommelinge in die prys van onverwerkte melk en suiwelprodukte kleiner as in byvoorbeeld die Europese Unie.
Chris sê melkboere was veral in die afgelope twee jaar onder aansienlike finansiële druk.
Afgesien van die hoër risiko van siektes is produksietoestande vanjaar in die algemeen beter as verlede jaar, danksy reën, besproeiingsbeperkings wat binnekort opgehef kan word en voerpryse wat begin daal het.
Vir produksie om te groei, is ’n gunstige melk-tot-voerprysverhouding egter nodig. Die gemiddelde prys wat boere in Februarie ontvang het, was R4,70/liter, terwyl die MPO bereken hulle moes toe minstens R5,50/liter gekry het om winsgewend en volhoubaar te kan boer.
Kraamwinkel sê produksie sal na verwagting in die tweede helfte van vanjaar styg, soos wat altyd in die lente gebeur, en vanjaar veral danksy verwagte laer voerpryse.
Die suiwelbedryf sal volgens hom dan ’n balans moet vind omdat die verwagte voortgesette swak ekonomiese groei ook ’n swakker vraag na suiwelprodukte veroorsaak.