Spanwerk, aanpasbaarheid troef enige hekkie
Jy sal die vierdegeslag-Merinoboer Julian Southey nooit onkant betrap nie. Met spanwerk, die vermoë om oplossings in andersins benoude situasies te soek en volhoubare veldbestuur kon hy die droogte ore aansit en as Skaapboer van die Jaar bekroon word.
Volhoubare veldbestuur en die vermoë om aanpasbaar te wees. Dít was mnr. Julian Southey, ’n vierdegeslag-Merinoboer en 2016 se Nasionale Skaapboer van die Jaar, se gróót redding tydens die afgelope droogte. ’n Onverskrokke houding het ook gehelp dat die boerdery nie eens deur ’n slenkdalkrisis in 2010 gekniehalter kon word nie, wat 80% van hul herfslammers uitgewis het.
“Ons het ons lammers sedert die vorige uitbreking in 1974 teen slenkdalkoors ingeënt, en toe ná 2003 gedink ons kan maar ophou. Dit was ’n duur les.”
Pleks van paniekerig reageer, het dié planmaker eerder grensverskuiwende immunisasieprogramme met behulp van ’n veearts op Grootfontein ontwikkel. Hulle het ook ’n versnelde lamtyd ingestel om die agterstand in te haal.
Julian se familie boer al sedert 1860 met Merino’s op die plaas Manor Holme van 6 500 ha tussen Middelburg en Steynsburg in die Karoo. Hy en sy vrou, Trish, woon in die statige ou plaashuis wat in dieselfde era gebou is.
Hul seuns, Rob en Stuart, boer saam op die buurplase Lucernedale (1 400 ha) en Southfield (1 500 ha). “Ons boer as ’n span, saam met ons vroue en personeel wat almal ’n kernrol in die sukses van ons boerdery speel,” sê Julian.
“Spanwerk en wedersydse respek is sleutelwoorde in my woordeskat en dié prys is eweneens almal van ons se gesamentlike beloning.”
AS EEN ONDERNEMING BESTUUR
Die Southey-boerdery bestaan onder meer uit sowat 1 000 stoetooie en ongeveer 3 000 kommersiële ooie, wat wol van gemiddeld 19,8 mikron met ’n skoonwolopbrengs van 70% lewer. Hulle skeer elke agt maande ge- middeld 3,5 kg onverwerkte wol per ooi, en 1,5 kg per agt maande oue lam.
As deel van hul onderneming het die Southeys 200 Sussexkoeie en 215 ha weiding wat deur die Gariepdamskema met water uit die Oranjerivier besproei word.
Hulle kweek voer vir hul skape, wat wei op ’n kombinasie van omvattende veldweiding, somerweiding (soos langswenkgras, kropaargras en lusern), winterweiding (soos raaigras en hawer), asook hooi. Die Southeys verbou ook mielies onder besproeiing vir eie gebruik en vir die mark.
Hulle het 140 ha onder spilpunte, 25 ha onder treklyn, en die res is vloedbesproeiing wat met lasertegnologie gelykgemaak is. Dit benut sowat 30% minder water as tradisionele vloedbesproeiing.
“Ons bedryf ons boerderye as een onderneming, maar ek, Rob en Stuart boer elkeen op ons eie plaas sodat ons onafhanklik kan wees; iets wat noodsaaklik is in ’n familieboerdery,” sê Julian. “Een van ons jare lange personeellede, mnr. George Nongena (74), het ná sy aftrede teruggekom om die plaas Ridgewater, wat ons huur, te bestuur.”
HOU TRED MET VERANDERINGS
Julian sê deur saam met Rob en Stuart te boer maak hy seker hy hou tred met veranderings, volg nuwe benaderings en stel nuwe stelsels in. “Jy moet aanpasbaar wees en tred hou met verandering as jy aan veranderende maatskaplike en ekonomiese behoeftes wil voldoen.
“Ons eer die nalatenskap van my oupagrootjie, W.R. Southey, wat Manor Holme en ons Merino’s gevestig het.”
“Die vroeëgeslagboere was baie kundig oor die praktiese bestuur van lewende hawe, maar het hulself egter as veeboere beskou en nie as vee- én veldboere nie. Dus het die Karoo oorbewei geraak.
“Ons weet deesdae meer van volhoubare veldbestuur en hoe gevoelig die Karoo is.
‘Ons glo in ’n holistiese veldbestuurmodel en beoefen ’n veelkampstelsel waar diere vir kort tye wei.’
Dit is ons verantwoordelikheid om meer volhoubare weidingspraktyke met ’n bewustheid van biodiversiteit toe te pas.”
Sedert sy voorgeslag se dae het die Merino-ras wêreldwyd ook verskeie veranderings ondergaan. “Net in die afgelope 35 jaar het Merinoboere die ‘moderne Merino’ ontwikkel as vandag se beste dubbeldoelwol-en-vleisras. Toe ek saam met my pa, Bob, kom boer het, het ons net op wol klem gelê en dit was ook ons kerninkomste. Ons sou 6 kg tot 7 kg wol per ooi per jaar skeer, en 85% tot 95% van die lammers speen. Vandag skeer ons 5 kg en speen 120% tot 130%, en ons kerninkomste kom uit wol én lammers.”
TOEPASSING VIR SLUISBEHEER
Nog ’n voorbeeld van ontwikkeling en vernuwing is die sluis-toepassing (app) wat Vanderkloof Tegnologie ontwikkel het. “Ons kry water uit die Gariepdam via die Oranje-Visrivier-besproeiingskema. Die toepassing, wat deur die internet werk, monitor die besproeiingsvloei na sewe boere in die kanaal (24 km lank), en ons kan die sluishek na gelang van ons behoeftes op ’n afstand oop- en toemaak,” sê Rob.
“’n Heeltydse waterfiskaal het altyd hierdie taak verrig, en ná haar aftrede moes ek 12 km ry, soms in die middel van die nag, om die sluis oop of toe te maak.
Danksy hierdie nuwe sluis-toepassing kan die water beter en deursigtiger bestuur word, en kan al sewe boere die besproeiingswater se vloei heeltyd op hul slimfone of rekenaars dophou.”
HOLISTIESE VELDBESTUUR
Rob se tegniese kundigheid ewenaar Stuart se veeteeltvermoëns; hy het ’n skerp oog vir die uitsoek van diere en kombineer dit met sy klem op volhoubare veldbestuur.
Hy verduidelik: “Ons glo in ’n holistiese veldbestuurmodel en beoefen ’n veelkampstelsel waar diere vir kort tye wei. Groter troppe van sowat 400 skape bly dan korter tye in ’n kamp; van ’n week in die groeityd tot langer in die dormante seisoen. Beestroppe van sowat 40 diere elk kom ruim ná die skape die kamp op en wei ook net ’n kort tydjie.”
Die doel is om die beter grasse te laat herstel deur dit nie ’n paar keer per seisoen te laat bewei nie; iets wat dit verswak tot op die punt waar dit heeltemal uitgedun is.
“Ons lamkampe is kleiner, teen 75 ha tot 100 ha, maar ons algemene veekampe is nog heeltemal te groot, teen 250 ha tot 300 ha en meer. Dís iets waaraan ons wil werk, want ons sien reeds die voordele van die stelsel waarvolgens goeie grassoorte weer begin groei, soos Themeda triandra (rooigras) en die Digitaria-soorte (vingergras) in kampe waar Eragrostis -en Aristida-soorte, asook Karoobossies dominant is.”
BEHOU NATUUR SE BALANS
Gif en slagysters word nie gebruik nie, want die Southeys glo in die “balans van die natuur”. “Ons glo ook nie elke jakkals moet doodgemaak word nie. Dié benadering het nie gewerk nie. Ons moes af en toe ’n spesifieke probleemdier uitskakel, maar andersins het ons Anatoliese herdershonde gebruik, wat heel suksesvol was, en ons patrolleer gereeld die lamkampe.
“Kampe wat deeglik gemonitor word en behoorlik omhein is, is noodsaaklik om lamverliese te verminder.”
PRODUKSIEBESTUUR
Wat die produksiebestuur van hul stoet- en kommersiële troppe betref, laat die Southeys hul ooie een keer per jaar dek en lê klem op tweelinge.
Dié word in twee troppe verdeel, waarvan die een gedek word vir lammers in die lente en die ander een vir lammers in die herfs. Hoewel die gemiddelde jaarlikse reënval op lang termyn slegs 350 mm is, kan hulle die weiding heeljaar met water uit die Oranjerivier besproei, iets wat hul skaapproduksie merkbaar verhoog.
“Tydens droogtes of droë tye, voor die ooie gepaar word en net voor lamtyd, kry die ooie sowat 300 g Voermol Maxiwol (reg.no. V15415, Wet 36 van 1947) per dag.
“In goeie reënsiklusse het ons nie aanvullings nodig nie,” sê Julian.
Rob sê hulle gee al die standaarddoserings en -inentings, veral in die lamtyd. Hulle het egter die doserings in die volwasse troppe verminder om die diere se natuurlike immuniteit te verhoog. “Ons eksperimenteer ook met korter rotasies op besproeide weiding om die lewensiklusse van parasiete te troef.
GROOT GENETIESE POEL
Manor Holme bied in Februarie en Maart ramme per afspraak op die plaas aan, en weer in September en Oktober. Hulle bied ook elke Januarie ramme op die Oos-Kaapse Merinoklub se veiling aan, en is lid van dié groep sedert dit sowat 15 jaar gelede gestig is.
Saam met Manor Holme se stoetonderneming bedryf Stuart ’n groepteelstoetery vir ’n groep van 11 Merinoboere uit die distrik Middelburg op sy plaas. Dit is om seker te maak hulle het toegang tot ’n groot genetiese poel. “Dit staan bekend as die Renosterberg-groepteelskema en is al 15 jaar lank aan die gang. My pa was een van die stigterslede,” sê Stuart.
“Elkeen van die aanvanklike 13 boere het sowat 25 uitgesoekte teelooie uit hul troppe verskaf om ’n kernteelgroep te skep van 325 ooie wat deur die groep se topramme gedek word. (Elke boer het gemiddeld 1 000 ooie in sy eie teelkudde gehad.)
“Ek teel dan die ramnageslag vir die skema, en elke lid kan drie ramme uitsoek, en ’n vloerprys vir twee van hulle betaal. Om voortgesette genetiese verbetering te verseker dra elke boer ook vier van sy beste vervangingsooie by in ruil vir die derde ram.” Benewens dit en hul ramverkope word sowat 4 000 skape per jaar van Manor Holme verkoop – ’n kombinasie van ou ooie, hamel-, ram- en stoorlammers (van dié lammers voer hulle in hul eie voerkraal), asook oorskot-tweetand-ooie. Hulle probeer dan om die seisoen se pryshoogtepunte vroeg in Desember (Kersfees), Julie/Augustus (middel winter) en Februarie/Maart (Paasfees) te haal.
“Ons plaaslike agente – BKB, CMW en David Lord Livestock – hou ons op die hoogte van markte en pryse. Ons glo in die bou van volhoubare verhoudings, en dit geld ook mnr. Danie Lombard (BKB), ons stoetadviseur, wat al ’n lang pad saam met ons stap, sê Julian.