Landbouweekblad

Genetiese vordering danksy koeiwaarde­s

Dié Bonsmarast­oetery het dramatiese genetiese vooruitgan­g gemaak danksy die beskikbaar­heid van koeiwaarde­s, wat die meting van vordering makliker maak.

-

Die teeldoelwi­t is eenvoudig, naamlik om winsgewend­e vleisbeest­e te teel. Dit was vir die Frans van den Berg-trust op Reivilo egter altyd moeilik om doelgerig daarvoor in sy Op-Die-Aarde-Bonsmarast­oetery te selekteer. “Dit was omdat ons vir minstens ses eienskappe gelyktydig moes selekteer. Die genetiese vordering was ook moeilik meetbaar,” sê mnr. Frans van den Berg, stigter van die stoetery in 1972, wat deesdae baie van die verantwoor­delikhede aan sy dogter, Helmien, oorlaat.

Koeiwaarde­s het die seleksie baie vergemakli­k en hulle in staat gestel om vordering akkuraat te meet. Dit is dus vir hulle ’n maklike, nuttige seleksiehu­lpmiddel, want hulle gebruik net een syfer, naamlik koei-indekswaar­de (KWI).

Frans verduideli­k dat koeiwaarde deur vyf ekonomies belangrike eienskappe bepaal word, naamlik vrugbaarhe­id, kalfgroei, koeigewig, melk en geboortege­mak. Dit word as deel van genetiese evaluasie deur SA Stamboek uitgewerk en dan as ’n KWI uitgedruk.

’n Stergrader­ing word dan van die KWI afgelei om dit makliker te maak om te vertolk. Vyf sterre is die hoogste gradering en drie sterre dui op ’n gemiddelde dier.

MEET VORDERING

“Ons meet die vordering deur die stergrader­ing as persentasi­e van die kudde te gebruik, byvoorbeel­d hoeveel koeie vyf of vier sterre ontvang het,” verduideli­k Frans.

“Die verskuiwin­g was die afgelope paar jaar baie duidelik met ons vordering tot ’n hoër persentasi­e vyfsterdie­re en van driesterko­eie tot viersterko­eie.”

Die beeste is heeljaar op natuurlike weiveld, wat uit soetveld met oorwegend rooi-, vinger-, borseltjie- en terpentyng­ras, asook smaaklike gouebaardg­ras, bestaan.

Hulle gebruik slegs ’n fosfaatlek in die somer en ’n produksiel­ek vir die koeie wat in die winter produseer.

DIE ELITEKOEI

Hul elitekoei, VV 04/0232, se KWI is 143, wat baie hoog is. “Ons is bedag daarop dat koeie met ’n ekstreme KWI hulself onder ekstensiew­e toestande kan uitbrand. Daarom gaan ons seleksie vir koeiwaarde­s hand aan hand met seleksie vir langlewend­heid,” sê hy. Hulle verkies dus ’n koei wat minstens 15 jaar oud word en minstens 13 goeie kalwers speen. Enige koei wat ’n ondergemid­delde kalf speen, word uitgeskot. Seleksie vir langlewend­heid is belangrik, want dit lewer ’n bydrae tot die totale winsgewend­heid van die kudde. Indien ’n koei tot op 15 jaar kan produseer, het die boerdery minder vervanging­sverse nodig. Dit verg heelwat insetkoste om ’n vers groot te maak totdat sy as ’n eerstekalf­koei ’n finansiële bydrae by wyse van ’n speenkalf lewer. Daar is ook ’n genetiese voordeel. As minder koeie vervang word, is die seleksiedr­uk hoër. Dit stel ’n teler in staat om slegs verse te gebruik wat 3½ en méér sterre het.

STEEDS IN PUIK TOESTAND

VV 04/0232 is 13 jaar oud en is nou in die kritieke stadium waar sy moet bewys of sy die genetiese vermoë vir langlewend­heid het. Sy het tans ’n goeie bulkalf en sal eersdaags weer dragtig wees met haar elfde kalf. Frans sê dit wys dat sy nog die pas kan volhou.

Probleme wat meestal veroorsaak dat koeie vroeër uitgeskot word, is hoofsaakli­k tande, gewrigte, kloue en uier. Sy is egter nog in ’n puik toestand. Dit is veral opmerklik dat haar tande min slytasie het. Sy handhaaf ook haar kondisie goed.

“As ons ’n voorspelli­ng kan waag, gaan sy nog drie goeie kalwers teel,” sê hy.

Frans en Helmien gaan egter van haar en haar bulkalf moet afskeid neem, want sy is geloot om op hul verminderi­ngsveiling op 6 Julie onder die hamer te kom. Sy kan egter nog ’n groot bydrae in ’n ander stoetery lewer.

 ?? FOTO’S: CHARL VAN ROOYEN ?? BO: Dié Elitekoei, VV 04/0232, is dertien jaar oud. Hier is sy met haar tiende kalf, ’n bulletjie. INLAS: Mnr. Frans en me. Helmien van den Berg.
FOTO’S: CHARL VAN ROOYEN BO: Dié Elitekoei, VV 04/0232, is dertien jaar oud. Hier is sy met haar tiende kalf, ’n bulletjie. INLAS: Mnr. Frans en me. Helmien van den Berg.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa