Hoë dragtigheidsyfer deur droogte behou
Met goeie beplanning, passie en deursettingsvermoë het me. Heidi Oestlund van Namibië haar Bonsmarastoetery opgebou tot ’n veelbekroonde vlak.
Danksy haarfyn seleksie vir vrugbaarheid kon die bekroonde Bonsmarakudde van me. Heidi Oestlund van Gobabis in Namibië ’n dragtigheidsyfer van byna 100% deur die afgelope droogte handhaaf. Nadat haar man, Sven-Erick, in 1992 oorlede is, het Heidi besluit om met die boerdery aan te gaan. Hul kinders, Silke en Helge, was toe nog op skool.
Sy het haar in 2001 as ’n Bonsmarateler geregistreer en die stoeterynaam Helku Familietrust gekies. “Aangesien ons al sedert 1976 net Bonsmarabulle gebruik het om ons koeie te dek, kon ek die stoetery uit my eie basiskoeie opbou. Ek het tot dusver net een vroulike dier, JRB 97/0106, ’n dragtige vers, gekoop,” sê sy.
Die kudde bestaan normaalweg uit 200 koeie, maar weens die droogte die afgelope drie jaar moes sy hulle selektief verminder deur al die 2016-bulletjies op speenouderdom en die dragtige 2016-verse te verkoop.
GOEIE KALFPERSENTASIE
Die kudde se gemiddelde tussenkalfperiode (TKP) is 371 dae, die ouderdom met eerste kalf (OEK) is 29 maande en die reproduk- sie-indeks (RPI) is 112. Die kudde het in 2016 Vleissentraal/SA Stamboek se Elitegoue eerbewys ontvang.
Heidi behaal winter en somer ’n dragtigheidsyfer van 98% en het dit selfs gedurende die droogte gehandhaaf, danksy streng seleksie vir vrugbaarheid.
Verse word op 16-18 maande gepaar omdat hulle dan sterk genoeg is. Eerstekalfkoeie slaan baie min oor. Verse wat nie die eerste keer dragtig word nie, word uitgeskot.
DIE ELITEKOEI
Heidi het die Elitekoei, HOB 06/0121, self geteel. Haar pa is AEJ 02/0016, die eerste Nosa-Bonsmarabul wat na Namibië ingevoer is. Baie van sy vroulike nageslag het Elite-eerbewyse ontvang. Sy het ook die Elitekoei se ma, HOB 03/0052, wat in 2014 ’n Elite- goue eerbewys ontvang het, self geteel. Heidi het sedert 2013 reeds 28 Elite- goue eerbewyse ontvang. “Ek selekteer streng vir gehardheid en ’n mediumraamgrootte. Die beeste moet gemaklik in ons wêreld kan stap. Aangesien ons koeie so goed presteer en genoeg melk het, lewer hulle stewige kalwers wat goed groei,” sê sy.
GRASBOER
Aangesien sy nie net ’n beesboer is nie, maar ook ’n grasboer in ekstensiewe omstandighede, pas sy chemiese ontbossing met handtoediening en soms met ’n vliegtuig toe. Dit het bygedra tot ’n verbetering in die digtheid van die veldgrasse, wat die drakrag verhoog.
Die helfte van die plaas het ’n seskampstelsel en die ander helfte ’n vierkampstelsel. In die reëntyd word die kampe tweeweekliks gewissel en in die winter vierweekliks. Elke veepos se krale bedien vier kampe sodat die beeste maklik van een kamp na ’n ander gejaag kan word.
“Periodieke droogtes het my geleer om die doel van die stoetery aan te pas. Bulle word vanaf speenouderdom streng geselekteer en net die bestes haal die finale keuring.”
Daarom het sy altyd ’n groot aantal speenkalwers om te bemark, wat koste verlaag en ’n vinniger omset lewer. Suid-Afrikaanse voerkrale koop die meeste kalwers. Aanteelverse is goed in aanvraag en behaal goeie pryse vanaf die plaas.
OU KOEIE UITGESKOT
Weens droogtes word koeie op tien jaar verkoop nadat hulle gekalf het, aangesien hul produksie dan meestal afneem en hulle gedurende swaar tye met byvoeding gehelp moet word, wat onlonend is.