Individu laat boerdery slaag
Is ons te behep met begrippe, soos megaboere en skaalvoordele? Spits jou eerder toe op die individu en kyk hoe ’n doeltreffende bestuurder die skaalvoordeel kan laat kwyn.
Die konsep van ’n ekonomiese eenheid word dikwels binne ’n landboukonteks sonder verduideliking gebruik – asook die begrippe kommersiële, opkomende en bestaansboere. Die begrip “ekonomiese eenheid” verg immers nie verduideliking nie, want almal wéét dat die grootte van ekonomiese eenhede mettertyd toeneem as gevolg van die kosteknyptang; dat daar minder as 35 000 kommersiële boere oor is en dat hierdie getal jaarliks krimp; en dat nagenoeg 2 miljoen huishoudings van die landbou afhanklik is vir die produksie van bykomende voedsel en inkomste.
Hoewel hierdie stellings breedweg korrek is, moet die onderliggende aannames wat hulle onderskraag, krities beoordeel word omdat hulle ons terughou binne die gronden landboubeleiddebat.
SKAALVOORDELE NIE UITGEMAAKTE SAAK
Die afname in die getal kommersiële boere en die toename in plaasgrootte word dikwels aan die bestaan van skaalvoordele in die landbou toegeskryf. Hierdie geneigdheid tot groter eenhede spruit daaruit dat produksiekoste afneem met ’n toename in grootte. Dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word. Eerstens behels die gebruik van onverdeelbare insette, soos stropers en trekkers, ’n groot aanvanklike uitgawe. Gevolglik neem die koste per hektaar af namate hul benutting toeneem. Die afname geskied totdat die betrokke werktuig se kapasiteit bereik word, waarna ’n bykomende eenheid aangeskaf moet word.
Tweedens, vir toegang tot krediet kan groter boere tipies meer kollateraal aanbied en groter hoeveelhede skuld per transaksie opneem, met die gevolg dat dit die koste per geleende rand verlaag.
Derdens kan die grootte van ’n sekondêre verwerkingsaanleg op die plaas die optimale grootte van die plaas bepaal.
Vierdens kan landboubeleid wetend of onwetend groter boerderye bevoordeel vanweë die koste om aansoek te doen om staatshulp, arbeids- of ander regulerende wetgewing, wat ’n beduidende administrasiekoste tot gevolg het. Beleid kan ook nie altyd verseker dat kleiner boere toegang het tot noodsaaklike dienste, soos versekering of krediet, wat die mark nie normaalweg vir hulle sal aanbied nie vanweë die koste of risiko.
Hoewel hierdie faktore tipies in landbou-ekonomiese handboeke aangeraak word, is die bestaan van skaalvoordele – en by implikasie norme vir ekonomiese eenhede of kommersiële boere – nie ’n uitgemaakte saak nie. Inteendeel, die meeste studies wys dat die boerderyskaal neutraal (tot negatief) is as die mark of landboubeleid nie bevooroordeeld is teen kleiner eenhede nie.
Verder is in verskeie studies al bevind dat kleiner boerderye doeltreffender is wat uitset per eenheidsoppervlakte betref. Dink maar aan die hoeweboerdery waar elke krieseltjie grond deur die hele jaar benut word om met alles van groente tot hoenders te boer.
Internasionaal woed hierdie debat al etlike dekades lank en geen uitsluitsel is in sig nie. Suid-Afrikaanse navorsers het ook al hul bydrae gelewer.
‘PLAASGROOTTE BEPAAL DEUR BESTUURDER SE VERMOË’
Een daarvan is die studie deur dr. Johan van Zyl en medewerkers, wat bevind het dat die bestaan van skaalvoordele verdwyn wanneer die vermoë van die bestuurder in ag geneem word*. Met ander woorde plaasgrootte word bepaal deur die vermoë van die bestuurder en nie deur die hektare onder produksie, getal vee of ander kostevoordele nie. Daaruit volg die logiese gevolgtrekking dat die konsep van ’n ekonomiese eenheid aan die vermoë van die individu gekoppel moet word, en nie aan die een of ander arbitrêre streeksnorm nie.
Uiteraard is dit moeilik om die vermoë van ’n individu te meet, maar gelukkig help ekonome met die beginsel van geleentheidskoste, die koste of voordeel wat spruit vanuit die keuse van een stap bo die alternatiewe opsie. Byvoorbeeld, as jy besluit om Saterdagmiddag eerder rugby te kyk as om na jou siek (blou) bul om te sien en dit as gevolg daarvan vrek, dan is die geleentheidskoste van daardie wedstryd R25 000 (gelukkig is hulle nie te duur nie).
Vanuit hierdie perspektief kan ’n mens aanvoer ’n ekonomiese eenheid stel ’n boer in staat om hom- of haarself te vergoed vir die geleentheidskoste van sy of haar tyd. Anders gestel, as boer X ’n inkomste deur boerdery kan verdien wat gelyk of beter is as wat hy of sy in die res van die ekonomie sou kon verdien, dan bedryf hy of sy ’n ekonomiese eenheid en is dus ’n kommersiële boer.
Hierdie begrip help onder meer om te verduidelik hoekom boerderye so groot word: Vermoënde individue presteer so goed in die res van die ekonomie of die opbrengs per eenheidsoppervlakte is so klein dat slegs baie groot eenhede sommige individue voldoende kan vergoed. Maar binne die konteks van
grondhervorming word ’n implisiete definisie van ’n kommersiële boer of ekonomiese eenheid gebruik met die gevolg dat projekte daarvolgens beplan of onsuksesvolle projekte daarvolgens veroordeel word.
FOKUS EERDER OP DIE INDIVIDU
Dit sal veel sinvoller wees om die beheptheid met mega- of kommersiële boerderye te laat vaar en die klem op die individu te laat val. Pleks daarvan om voorskriftelik te wees, moet ons onsself afvra hoe ons die individu in staat kan stel om hom- of haarself deur boerdery te kan vergoed vir die geleentheidskoste van hul tyd. Dit sal slegs volg uit die daarstelling van skaalneutrale beleid, beleggings en voorligting. Só ’n benadering sal die net veel wyer gooi, paternalistiese of bevooroordeelde beleid voorkom en op lang termyn verseker dat ons die volgende generasie van “kommersiële” boere vestig. *BRON: Sartorius von Bach, H.J., Koch, B.H. & Van
Zyl, J. 1992. Relating Perceptions and Associated Economic Criteria to Economic Survival in Commercial Dryland Farming in South Africa. Agrekon. 31(4):210–215.