Benut oulande vir vleisbeeste
Die intenser gebruik van weiding deur bemesting en verbetering moet bekyk word.
Verskeie intensiewe melkboerderye kom in die Suid-Kaap voor, maar vleisbeeste is nie volop nie. Grond is duur en droëlandweidings, wat vir vleisproduksie benut word, is uitgewas deur baie reën. Die gehalte van dié weiding is dus van ’n swakker gehalte.
Mnr. Manie Grobler, spesialislandbouraadgewer by die WesKaapse departement van landbou, het saam met kollegas en die personeel van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se George-kampus ’n studie gedoen oor die lewensvatbaarheid van vleisbeesproduksie in die Suid-Kaap.
Talle nuwe grondeienaars kom van buite die streek. Van dié eenhede is te klein om die infrastruktuur vir melkerye te vestig, maar vleisbeeste is ’n oplossing vir oulande. Hulle kan dié weiding benut en rooivleis van ’n goeie gehalte lewer. Dié weidings moet egter korrek benut en strategies aangevul word.
Die meeste vleisbeesboere in die Suid-Kaap lewer speenkalwers wat op ses tot nege maande aan voerkrale in die noorde van die land bemark word. Dié kalwers behaal laer pryse weens die vervoerkoste oor lang afstande. In die Suid-Kaap is geen noemenswaardige voerkrale nie.
Manie doen gereeld vleisbeesstudies by kommersiële en ontwikkelende boere. Boerderye se doeltreffendheid word gemeet aan koeireproduksie, veral kalfpersentasie en die tussenkalfperiode (TKP). Die speengewig op 205 dae word ook aan die ekonomie van die stelsel gemeet.
’n Gevallestudie is gedoen tussen inheemse kleinraambeeste en saamgestelde grootraamrasse. Die TKP van kleinraamkuddes is ongeveer 350 dae oor ses jaar. Dit is ’n aanduiding van uitstekende koeireproduksie.
Saamgestelde grootraamrasse het in die opname ’n TKP van 400-410 dae getoon. Dit is heelwat beter as die nasionale syfers soos in amptelike publikasies aangeteken is.
Die kleinraamrasse se kuddeprestasie ten opsigte van reproduksie is uitstekend, maar hul speenkalwers behaal swak pryse op veilings weens swakker groei in voerkrale.
’n Oplossing is om kruisteling te gebruik met bulle wat die groeitempo van die speenkalwers kan verbeter. Kruisteling met inheemse bulrasse van mediumraamgrootte en bulle van saamgestelde bulrasse (3/8 Brahman en 5/8 Europees) is op van dié kuddes getoets. Die speenkalfgewig (205 dae) is met 15-25 kg verhoog. Dit is ’n groot verbetering op dié ondernemings se hoeveelheid vleis per hektaar.
Manie se gevolgtrekking is dat hoewel vleisbeesproduksie in die Suid Kaap lae wins per hektaar lewer, kan vleisbeeste tog ’n wins lewer op marginale grond wat nie geskik is vir winsgewender vertakkings nie. Dit kan net bereik word met uitstekende reproduktiewe en speengewigprestasie.