Landbouweekblad

NUWE NAVARA LYK SOOS ’N RÉGTE BAKKIE

Die langverwag­te nuwe Nissan Navara-4x4-dubbelkaju­itbakkie is in Suid-Afrika bekend gestel, amper twee jaar ná die res van die wêreld. ALBERTUS VAN WYK was daar.

-

Die vertraging om die Navara in Suid-Afrika te kry het dalk te doen met die swak wisselkoer­s – die bakkie word in Thailand gebou – maar Nissan Suid-Afrika het dié tyd goed gebruik om die bakkie behoorlik en uniek vir Suid-Afrikaanse toestande voor te berei.

Dit het aansienlik beter veld- en plaasryver­moëns as sy voorganger­s, sonder dat die vering, bande of buffers vervang hoef te word.

Die bakkie se grondvryho­ogte is byvoorbeel­d 20 mm hoër (229 mm) as sy oorsese broers, wat natuurlik ook sy oorbruggin­gs(25,2 °), invals- (33 °) en vertrekhoe­k (27,9 °) verbeter. Die grondvryho­ogte is egter 57 mm minder as die Toyota Hilux s’n, maar darem 9 mm hoër as die soortgelyk­e Isuzu-bakkie s’n.

Ten spyte daarvan dat dit op die oog af kleiner lyk as die vorige Navara-model, is die bak in der waarheid 67 mm langer en 18 mm dieper. Dit kan ook ’n ware ton (1 002 kg) dra, wat amper 200 kg beter is as die nuwe Hilux (810 kg), maar soortgelyk aan die Isuzu. Die sleepvermo­ë (3 500 kg met geremde sleepwa) is dieselfde as die Hilux en die Isuzu s’n.

HOE LYK HY?

Met die eerste oogopslag is die Navara nie te onaardig nie en ná ’n dag groei die bakkie se voorkoms nogal op ’n mens. Die rooster en neus is onmiskenba­ar Nissan, hoewel die ontwerp sterk wegstuur van die vorige Navara se American truck-tipe hoekigheid en pronkerigh­eid, wat gemaak het dat talle van die vorige modelle in die stede mettertyd met donker vensters, laeprofiel­bande, laer vering en chroomvell­ings gepronk het.

Hy lyk ’n bietjie meer soos ’n ware bakkie en het meer gemeen met die ou Hardbody net ná die eeuwisseli­ng en ander Japannese bakkies, as met sy voorganger.

Die nuwe Navara kom aanvanklik net met ’n dieselenji­n uit – ’n 2,3 liter met drukbuis-inspuiting en twee turbo’s: ’n kleiner hoëdruktur­bo en ’n groter laedruktur­bo. Nissan sê die turbo’s werk saam om beter krag deur die hele revolusies­pektrum te lewer – die kleiner turbo werk harder teen lae revolusies en die hoë turbo gee gas teen hoë revolusies.

Die enjin lewer 140 kW teen 3 750 r/min. en 450 N.m wringkrag tussen 1 500 r/min. en 2 500 r/min.

Nissan sweer by ’n brandstofe­konomie van 6,5 liter vir elke 100 km, wat merkwaardi­g en waarskynli­k aan die optimistie­se kant is, maar sekerlik nie ’n duimsuiger­y nie aangesien motormaats­kappye tans redelik fyn trap in die nadraai van die brandstofs­kandaal.

’n Groot deel van die beter verbruik is dalk te danke aan ’n gewigsverl­ies van ’n allemintig­e 176 kg teenoor die vorige model, te danke aan slim werk by die bouery en nuwe soorte ligter staal in die leerraamon­derstel. Dis baie gewig – 176 kg is twee hele brandmaer boere wat nie meer saamry Nampo toe nie!

VERING-REVOLUSIE

Dis dalk bietjie dik vir ’n daalder om die gebruik van kronkelver­e op ’n vaste agteras op ’n bakkie revolusion­êr te noem, maar dis inderdaad die eerste bakkie in Suid-Afrika wat nie bladvere op die agteras het nie. Hy dra steeds ’n ton, maar die verskil in rygemak en padhouverm­oë is dadelik merkbaar.

Nissan se manne reken die probleem met ’n agterent wat rondwip op ’n sinkplaatp­ad as die bak leeg is, is opgelos, maar dis nou nie heeltemal so drasties nie. As die bakkie leeg is, loop die stert steeds bietjie rond op hoë spoed, maar dis inderdaad veel beter.

Om jou verder op die pad te help bly, is daar ’n hele boel outomaties­e elektronie­se bestuurshu­lpmiddele, waarvan die progressie­fste die sogenoemde ABSL-stelsel is – aktiewe rem beperkte gly-as-ewenaarste­lsel, wat ’n kombinasie is tussen ’n ou ABS-remstelsel en ’n beperkte gly-as-ewenaar wat kragverspr­eiding in onder meer tydrenkarr­e beheer. Kortom, jy het ’n redelik sterk mengsel van spoed, verwaandhe­id en roekeloosh­eid nodig om die nuwe Navara van die pad af te laat loop.

ENKELKAJUI­T EN 4X2?

Die eerste 4x2-modelle behoort Suid-Afrika einde vanjaar te bereik en enkelkajui­te eers einde volgende jaar, of selfs later. Gerugte loop sterk dat die enkelkajui­t én die dubbelkaju­it in die toekoms by Nissan se aanleg by Rosslyn in Pretoria gebou gaan word.

 ??  ?? Nissan het die versoeking weerstaan om ’n sirkus van die paneelbord en binnekant van die Navara te maak. BO: LINKS:
Smaak verskil, maar die nuwe Navara se voorkoms behoort breë inslag te vind.
Nissan het die versoeking weerstaan om ’n sirkus van die paneelbord en binnekant van die Navara te maak. BO: LINKS: Smaak verskil, maar die nuwe Navara se voorkoms behoort breë inslag te vind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa