Landbouweekblad

Langnaweek-leesgenot

Krul die langnaweek op met een van dié boeke deur drie vroue-skrywers. Die gevestigde en geliefde Marita van der Vyver en Wilna Adriaanse sal nie teleurstel nie, terwyl Naomi Meyer se opwindende debuutroma­n nie ’n tree terug staan vir internasio­nale ewekn

-

TOPSKRYWER SE DERTIENDE ROMAN

Misverstan­d deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R250. Dis altyd opwindend wanneer ’n nuwe boek uit Marita van der Vyver se pen verskyn. Dié keer is haar hoofkarakt­er ’n man, Willem Prins, wat eens drome gehad het om ’n groot en belangrike roman te skryf. ’n Boek wat Willem Prins se naam deur die geskiedeni­s sal laat weergalm.

Maar, helaas, hier in sy laat middeljare, moet hy erken dat sy lewe maar louwarm was en dat sy literêre ambisisies nie veel meer gaan oplewer as die erotiese boekies wat hy onder ’n skuilnaam skryf nie.

Hy gryp dus die kans aan om ’n paar dae in Frankryk deur te bring vir die flouerige bekendstel­ling van die vertaling van een van sy boeke. Dieselfde naweek is daar ’n groot literêre prysuitdel­ing in Suid-Afrika en Willem sien nie kans dat sy naam wéér nie uitgeroep word nie. In Parys is daar darem die Seine se koue water, waar hy oorweeg om ’n einde aan alles te maak. Willem sien sy eksvrou op die bekendstel­ling en begin stadigaan aan die verhouding met sy vervreemde seun werk. Hy ontmoet ook die lieflike Jackie, ’n slim Suid-Afrikaanse meisie wat as au pair in Frankryk werk. Maar dis die terreuraan­val in Parys, in die buurt waar hy en Jackie net ’n paar uur vroeër saamgeëet het, wat hom nuwe perspektie­f op die lewe en sy uitdagings en die koesterend­e aard van verhouding­s gee.

NUWE STEM

Web deur Naomi Meyer. Uitgewer: Queillerie. Prys: R250. Lesers met ’n aptyt vir romans soos Gone Girl (deur Gillian Flynn) en The girl on the train (deur Paula Hawkins), hoef hulle nie meer na Amerikaans­e en Britse skrywers te wend nie, want Naomi Meyer se Web is ’n opwindende, plaaslike toevoeging tot hierdie genre.

Sophia en haar speurder-man, Diederick, neem ’n bruin dogtertjie, Magriet, aan terwyl hulle in Skotland woon. Met hul terugkeer na Suid-Afrika word hulle hard getref deur die werklikhed­e van die land, en veral die Boland, waar hulle op Stellenbos­ch woon. Wanneer Magriet spoorloos verdwyn, moet Sophia self speurder speel om haar op te spoor, in ’n dorp wat brand weens studente-opstande.

Magriet se verdwyning ruk Sophia, wat verstrenge­l is in ’n web van persoonlik­e probleme, soos ’n onbevredig­ende werk, te min geld en ’n eggenoot wat by die dag meer onbereikba­ar raak. Deur haar werk by die BoekWeb-webwerf en haar baas, Trouw, se kêrel, kry sy boonop ’n blik op die donkerste hoekies van die wêreldwye web. Wanneer Sophia dan deur ’n vorige liefde ontvoer word, moet sy spartel vir al wat sy werd is om uit die web te kom om haar dogter, en gesin, te red.

LANGVERWAG­TE VERVOLG

Eindspel deur Wilna Adriaanse. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R270. Ná Wilna Adriaanse, een van Suid-Afrika se gunsteling-liefdesver­haalskrywe­rs, in 2014 haar hand aan misdaadfik­sie gewaag het in

Dubbelspel, het lesers asem opgehou vir die vervolg, Eindspel.

Ellie McKenna speel die kerkorrel op ’n klein dorpie, wanneer twee mans die kerk inloop en sy instinktie­f weet hulle soek na haar. Sy herken hulle onmiddelli­k, al het sy hulle nog nooit vantevore gesien nie. En sy besef sy het net ’n paar minute om ’n motorfiets te leen en by die murasie te kom waar sy haar rugsak met klere weggesteek het.

Dit lyk of die alledaagse lewe wat Ellie vir haarself op die platteland uitgekerf het – waar sy soms in die plaaslike kroeg uithelp en onverstoor­d kon probeer uitpluis wie verantwoor­delik was vir haar polisieman-pa se dood by ’n padblokkad­e – vir eers verby is. Sy moet uitvind wie op haar spoor is, en waarom.

Nes Dubbelspel , is Eindspel weer ’n boeiende spanningsv­erhaal, met deurdagte storielyne en interessan­te karakters. Dis ’n lekkerlees-misdaadboe­k, met ’n onderligge­nde romantiese storielyn, waarvoor Adriaanse so bekend is. Eindspel bring die antwoorde op tergende

vrae uit Dubbelspel, daarom moet jy maar eers Dubbelspel in die hande te kry voor jy Eindspel aandurf. Soos een resensent destyds in ’n dagblad geskryf het: Dubbelspel is ’n heerlike voorgereg, met Eindspel die tweede gereg wat net so ’n goeie leeservari­ng behoort te wees.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa