Landbouweekblad

Jou houding is wat tel

-

MET wát ’n bemoedigen­de boodskap het die landbou-ekonoom dr. Dirk Strydom van Graan SA nou die dag sy praatjie op Vrystaat Landbou se jongboer-konferensi­e afgesluit.

Dit was pas nadat die kat-op-’n-warm-plaat-Prez ons immer geknelde land toe uiteindeli­k in rommelstat­us gedompel het. Dirk se boodskap aan die jong boere was: Vergeet van die politieke side shows. Kyk na die ekonomiese vraag en aanbod van die landbou, nie dié van die politici nie. Die sommetjies wys die land en die wêreld het sy boere nodig.

Hy het die storie vertel van hoe hy ’n ruk gelede ’n Poolse boer besoek het wat die vyfde geslag op die gesinsplaa­s is. Bykans die hele plaas is onder kweekhuise en dit gaan voor die wind. Gegewe Pole se onstuimige geskiedeni­s was dit vir Dirk nogal eienaardig. Hoe het hul gesin dit reggekry? Maklik, het die boer gesê: Hulle het oor die jare geleer om die bietjie wat hulle kan doen, te doen – én dit goed te doen.

Dirk het twee foto’s gewys van die indrukwekk­ende Warschau, Pole se hoofstad met sy praalargit­ektuur. Die eerste foto was van hoe daar ná die hewige bomskade van die Tweede Wêreldoorl­og net ruïnes van daardie stad oorgebly het. Die tweede was van hoe sy Ou Stad vandag lyk, heeltemal herbou, Gotiese kerke, neoklassie­ke paleise en al – glo met dieselfde bakstene as wat in daardie plat geveegde ruïnes was.

Dirk het ook vertel van ’n ander Europese besoek, aan ’n Switser. Dié het hom vanaf die dak van sy gebou oor ’n sprokiesta­d laat uitkyk en gevra wat sien hy. Vir die Switser het die prentjie ’n storie vertel van min groeigelee­nthede wat nog in Europa oor is. In Suid-Afrika, daarenteen, sien die Europeër nog oneindige geleenthed­e en ruimte vir groei. Maar die Suid-Afrikaners klou vas aan die slegte dinge en gryp nie kanse aan nie, was sy boodskap aan Dirk.

En toe herinner Dirk die jong boere aan ’n aanhaling van daardie eksentriek­e en vasberade karakter Jack Sparrow in die fliek Pirates of the Caribbean: “Die probleem is nie die probleem nie. Die probleem is jou houding teenoor die probleem.”

DIE HOOGSTE LOF VIR SA BOERE!

’n Groep van 136 landboujoe­rnaliste uit 32 lande, saam met sowat 25 van hul Suid-Afrikaanse eweknieë, het pas die Internasio­nale Federasie vir Landboujoe­rnaliste (IFLJ) se kongres in Suid-Afrika bygewoon. Manie se kollegas, wat by die organiseri­ng betrokke was, vertel die buitelande­rs was in vervoering oor die program, besoeke aan Suid-Afrikaanse boere en die land in die algemeen.

Dit was slegs die tweede keer in 40 jaar wat dié internasio­nale kongres in Afrika aangebied is. Die vorige keer was ook in Suid-Afrika in 2004 en toe was dit ook ’n reuse-sukses.

Vanjaar se tema was “Afrika, dit is tyd”. Die mikpunt daarmee was om te toon wat Suid-Afrika – en die res van Afrika – kan doen om die wêreld teen 2040 te help voed. Afrika het die grond en die hulpmiddel­e. Sy inwoners en boere is gretig om by te dra.

Op die vyfdaagse besoek in Gauteng en die WesKaap het die joernalist­e na van Suid-Afrika se toplandbou­kenners geluister en hulle het van die land se suksesvols­te boere – groot én klein – besoek. Dit sluit

in mnr. Vito Rugani, wortelkoni­ng by Tarlton, die Rossgro-groep by Delmas, die Schoeman-boerdery by Groblersda­l, die boerdery van me. Brylyne Chitsunge by Cullinan, Mooigezich­t by De Doorns, Van Loveren by Robertson, Laastedrif by Ceres, die Dutoit Agrigroep, ook by Ceres, en verskeie ander.

Teen die einde van die kongres is Suid-Afrika (en sy landbou) staande toegejuig. Vir die Suid-Afrikaners teenwoordi­g was dit ’n trotse oomblik.

Daar was egter een groot leemte. Amptelike regeringsl­ui het geskitter in hul afwesighei­d. Ondanks uitnodigin­gs en die verduideli­king dat die groep joernalist­e ’n gesamentli­ke gehoor van meer as 20 miljoen belanghebb­endes in die landbou wêreldwyd kan bereik, was daar weinig belangstel­ling. Nou ja, Manie dink dit is nogal hartseer dat ’n klein groepie joernalist­e uit 32 lande binne ses dae die waarde van Suid-Afrikaanse landbou kan raaksien, maar ons politici, staatsdien­s en soms ook die man op straat is geneig om Suid-Afrikaners se landboupre­stasie te gering te skat.

VAN TESOURIE TOT BOERDERY

Met die politieke en ekonomiese gemors waarin die land hom bevind, is dit verbasend dat een van die mense met seker ván die moeilikste werkposisi­es die afgelope jaar of wat, nou sy toevlug neem tot boerdery. Lungisa Fuzile, direkteur-generaal van die Tesourie wat bedank het ná die kabinetsko­mmeling waarin Pravin Gordhan as minister vervang is, gaan hom nou vir eers tot sy boerdery wend.

Die joernalis Ferial Haffajee skryf in die Sondagkoer­ant City

Press dat Fuzile nie net ’n uitstekend­e amptenaar was nie, maar ook ’n geesdrifti­ge boer. Hy is glo bekend as die “Man van Mqanduli” waar sy die familie steeds op kommunale gronde boer. Deesdae het hy ook ’n plaas op Elliot in die Oos-Kaap.

Wat Manie nogal interessan­t vind, is dat Fuzile en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC wat in dieselfde omgewing boer, hulself tot die vrye mark gewend het om hul plase te koop. Só het hulle deel van Landbou

weekblad se statistiek geword wat bevind het dat 17% van alle landbougro­nd groter as 10 ha wat jaarliks in die ope mark verkoop word, deur swart kopers gekoop word.

Dit is nogal ironies dat miljoene mense net duskant Fuzile en Gwede se grensdraad in die voormalige tuisland Transkei nie private eiendom kan bekom nie. Hulle moet steeds onder die heerskappy van Middeleeus­e hoofmanne leef. Nou ja, Fuzile en Gwede het onlangs ’n smakie gekry van hoe dit voel om uitgelewer te wees aan die geite van ’n onverantwo­ordbare hoofman – die keer net in die Uniegebou!

ZOEMPIE TOT ’N VAL

Nuus van elders in die land is dat Pres. Jacob Zuma wel op plekke tot ’n val gekom het, onder meer in die raadsaal van die Wes-Kaapse departemen­t van landbou by Elsenburg. Sy foto (wat langs dié van Helen Zille gehang het) het op ’n personeelv­ergadering van die muur afgeval en aan skerwe gespat. Manie verneem vertroulik dat dit net enkele ure ná Zuma se kabinetsko­mmeling was. Die foto is toe maar agter ’n podium in die hoek van die raadsaal neergesit, tussen die glasskerwe en gebreekte raam. ’n Mens wil amper sê: Rommelstat­us.

Darryl Jacobs, assistentd­irekteur-generaal, hou voet by stuk dat dit net toevallig was en dat almal verbaas was toe Zuma (se foto) tot so ’n dawerend val gekom het.

Die ander foto’s hoog teen die muur (insluitend dié van Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthed­e in die Wes-Kaap, en adjunkpres­ident Cyril Ramaphosa) het ongestoord bly hang.

Manie het sy digterlike talent afgestof en met die volgende verwerking van die kinderrymp­ie na vore gekom: Zoempie Kedoempie hang teen die muur. Zoempie se heerskappy was van korte duur. Want talle van sy gabbas. En dié met beter agendas. Was nie langer lus om na sy bakkies te tuur.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa