Aanpasbaarheid laat soja gedy
Om sojabone in Suid-Afrika te verbou, moet unieke probleme die hoof gebied word. Geen ander land het so baie hektare met gewasproduksie op hoogtes hoër as 1 200 m bo seevlak nie.
Die grootste sojaproduserende lande, Amerika, Brasilië en Argentinië, se praktyke vir die verbouing van sojabone kan nie klakkeloos in die SuidAfrikaanse konteks toegepas word nie. Tog kan baie by dié lande geleer word.
As SuidAfrikaanse boere ’n winsgewende sojaboonoes wil afhaal, moet hulle bestaande tegnologie en bestuursvaardighede aanpas by hul spesifieke plaaslike toestande. ’n Begrip van die fisiologie en biologie van die sojaboonplant is belangrik om SuidAfrikaanse produksiepraktyke doeltreffend aan te pas.
Die regte kombinasie van bestuursinstrumente sal die kans op ’n hoër opbrengs verhoog.
Die tempo van die ontwikkeling van plante vir enige kultivar is verwant aan die temperatuur. Daarom sal die tydperk tussen stadiums wissel namate die temperatuur wissel. Die sojaboon is ’n kortdagplant en genotipes verskil ten opsigte van hul fotoperiode vir blominduksie.
Sojabone wat teen hoë digthede aangeplant is, is geneig om hoër te groei en minder takke, peule en sade per plant te lewer vergeleke met sojabone wat teen lae digthede aangeplant is. Hoëdigtheidsojabone maak ook peule hoër van die grond af.
Die onbepaalde groeiwyse word gekenmerk deur ’n voortsetting van vegetatiewe groei nadat blom begin het. In die bepaalde groeiwyse eindig die meeste van die plant se vegetatiewe groei voordat dit begin blom.
Groeitempo is verwant aan die onderskepping van sonstraling. Om 95% van die sonstraling te kan opvang, benodig ’n sojaboonplant ’n blaaroppervlakteindeks van 4. Dit beteken 4 m2 blaaroppervlakte is vir elke vierkante meter van die grond nodig. Die plantstruktuur, plantbevolking en rywydte beïnvloed dié waarde. Hoe beter die omgewing is, hoe hoër sal die plante groei (meer biomassa).
OPBRENGS
Die bepalende faktore van opbengspotensiaal is sonstraling, temperatuur en genotipe. Die haalbare opbrengs word bepaal deur die beperkende faktore, wat water en voedingstowwe insluit. Die verminderingsfaktore, soos onkruid, insekte en siektes, beinvloed die werklike opbrengs.
Die belangrikste parameters van opbrengs is potensiaal en stabiliteit. Die omgewing het ’n sterk invloed op die opbrengspotensiaal, wat ’n genetiese eienskap is. Korter volwassenheidsgroepe het ’n hoër opbrengspotensiaal, maar vereis beter omgewingstoestande in die kritieke periode (Baigorri, 1997). Opbrengsstabiliteit is verwant aan die lengte van die groeisiklus. Kultivars van langer volwassenheidgroepe is dus stabieler (Baigorri, 1997).
Die grootste moontlike aantal nodes per vierkante meter is ’n vereiste om die kans op ’n hoë opbrengs te kry. ’n Groot aantal peule per node sal vorm as groeitoestande gunstig is, dus ’n groot aantal peule per node en sade per peul. Uiteindelik sal die aantal sade per vierkante meter die grootste impak op opbrengs hê.
Om die verhouding tussen die verskillende omgewingstoestande en opbrengs te verstaan, kan die plantdatum as ’n omgewingsaanwyser aanvaar word. Die optimale plantdatum is gelyk aan ’n goeie omgewing en ’n vroeë of laat plantdatum is gelyk aan ’n swakker omgewing.
Sojabone is ’n veeleisende gewas wat stikstof betref. Die vereistes is ongeveer 70 kg stikstof per ton graan wat gelewer word. Om ’n opbrengs van 3 t/ha te behaal, moet 210 kg stikstof (gelykstaande aan 450 kg ureum) beskikbaar gestel word.
Die goeie nuus is dat biologie se stikstofbinding op ’n kostedoeltreffende manier die meeste van die stikstof aan die gewas kan verskaf. Gekonsentreerde entstowwe van ’n hoë gehalte is die maklikste manier om stikstof te verskaf.
KULTIVARKEUSE
Die gehalte van die omgewing is ’n belangrike faktor in die keuse van kultivars, asook wanneer om te plant. Evalueer dit deur die ontleding van die watersituasie, temperatuur en sonstraling, bewerkingstelsel, grond, wortelontwikkeling, wortelkapasiteit en biotiese faktore.
Besluit op ’n plantdatum sodat die kritieke periode (R4 tot R6) die beste groeitoestande moontlik geniet. Die groeisiklus en plantdatum is deurslaggewend (Andrade et al, 2000). Plaaslike inligting oor die kultivar se gedrag kom nou in gedrang. Fenologiekaarte is belangrik om die regte besluite te neem.
Die finale besluit moet ’n omvattende evaluering van die sikluslengte, groeiwyse (bepaalde of onbepaalde), opbrengspotensiaal en stabiliteit, reaksie op verskillende plantdatums, gesondheid, omvalrisiko en saadgehalte insluit.
Oorweeg ook die ruimtelike plantverspreiding. Onthou, korter groeiers vereis ’n hoër bevolking, beter verspreiding, ’n omgewing van ’n hoë gehalte en beter bekamping van insekte, siektes en onkruid. Kort groeiers is minder geneig om om te val en reageer beter op hoë vrugbaarheid en watervoorsiening.
Aanpasbaarheid en buigsaamheid in verskillende groeitoestande is van die voordele om sojabone te verbou. Boere trek wêreldwyd voordeel uit dié eienskappe om opbrengs en winsgewendheid te verhoog. Al manier om opbrengste in die toekoms te verhoog, is om die bestaande kennis en ervaring by SuidAfrikaanse toestande aan te pas.
Mnr. Alejandro Lehmann is ’n agronomiese ingenieur aan die Universiteit van Buenos Aires in Argentinië.