Landbouweekblad

Die honde-oppasser

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN HART TOT HART

Dit was moeilik om hom nie raak te sien nie. Hy was tog ’n bietjie anders as die gewone mense wat deur die park gestap het. Sy beste jare was sigbaar verby, daar waar hy rustig met sy vyf honde gewandel het. Elke hond, aan sy eie leiband, het ewe rustig gevolg, so in die trant wat die digter Jan F.E. Celliers van sy osse geskryf het – geduldig, gedienstig, gedweë.

Drie honde het aan sy regterkant en twee aan sy linkerkant geloop. Op ’n dag het my nuuskierig­heid my gedwing om ’n geselsie aan te knoop: “Goeie môre, meneer, ek sien jy loop gereeld met die honde. Is almal joune?” Hy antwoord vriendelik in Afrikaans, maar met ’n sterk Nederlands­e aksent: “Nee, dis nie my honde nie. Dis my bure s’n wat ek so vir ’n wandeling neem. Dis goed vir hulle en dis goed vir my.” Ek vra hom uit oor sy Nederlands­e afkoms en sy verhaal kom toe kortliks hierop neer: Hy woon reeds etlike jare in Suid-Afrika. Sy vrou is oorlede en nou woon hy alleen in sy gerieflike huis. Sy vriende is min en daarom beteken die honde vir hom so baie.

‘Jy weet, die ouderdom kry nie onbeperk uitstel nie.’

“Dit lyk of u ’n mooi verhouding met die honde het,” vervolg ek die gesprek. Hy kyk met deernis na die vyf brakke wat werklik nie een ’n prys op ’n hondeskou sal kry nie. Dit lyk of hulle hom verstaan as hy antwoord: “Ja, ons is lief vir mekaar. Hulle vir my en ek vir hulle.” Ek vra of hulle nie soms baklei nie. “Nee wat, hulle is te ordentlik daarvoor!” antwoord hy, voor hy steeds geduldig, gedienstig, gedweë verder stap.

Later het ek hom weer ontmoet, maar daar was net drie honde oor. En toe, gister, het ek hom met net een hond gesien.

“En waar is jou ander maatjies?” wou ek opreg nuuskierig weet. Sonder glimlag antwoord hy saaklik: “Jy weet, die ouderdom kry nie onbeperk uitstel nie. Hulle is almal weg.”

Hy’t vinnig weggestap. Ek kyk hom agterna terwyl ek besef, só sal dit ook met ons gebeur. Daar is ’n tyd vir elke ding onder die son.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa