Kampioene van die kultivar-spel
Dutoit Agri lewer sowat 170 000 ton vrugte élke jaar. Dis alles langtermyngewasse, soos appels, pere, nektariens, perskes, pruime en kersies. Mnre. Gys en Pieter du Toit vertel hoe hulle dit regkry om aan die voorpunt te bly en die regte kultivars te kies
Hoe bepaal jy wat geplant moet word? het mnr. Gys du Toit, besturende direkteur van Dutoit Agri, ’n rukkie gelede aan ’n Gamaliël in die internasionale appelbedryf gevra.
Dis ’n vraag wat enige vrugteboer kan laat wakker lê, want teen sowat R350 000 om ’n hektaar appelbome te vestig, kan dit ’n boer peperduur te staan kom as hy ’n kultivar kies waarvoor die mark nie ’n smaak het nie, wat nie na wens presteer in sy omgewing nie, of wat nie na behore deur die kultivarklub ontwikkel word nie. Klimaatverandering, nuwe markte met nuwe behoeftes en die rakleeftyd van vrugte is van die redes waarom boere nuwe kultivars sal aanplant – en dis beslis nie maklik om die regte kultivar te kies nie. “Laat ek liewer nie sê wie hierdie mens is nie, maar hy het vir my gesê hy volg ses teeldoelwitte. Ek het dit nogal neergeskryf,” vertel Gys en slaan sy notaboek oop. “Die eerste is dat die kultivar lekker moet eet. Dis die heel belangrikste. Dit help nie jy het ’n produk en dit word nie geëet nie.” Die vrugte moet aantreklik wees, dit moet oor opbergingsvermoë beskik, goeie weerstandbiedendheid hê, ’n mooi oes oplewer en produksie- en hanteringsvriendelik wees.
Gys se broer, Pieter, besturende direkteur van die Dutoit Groep, wil nog ’n punt byvoeg.
“Die kultivar moet onderskeibaar verskillend wees. Wat help dit jy het ’n produk wat net soos die ander lyk?”
Hy neem Pink Lady as ’n voorbeeld van ’n nuwe produk wat uitstaan op die rak. “Dit was die eerste pienk appel. Dit was wonderlik en ’n wenner – die naam en die kleur.”
Dis belangrik dat hierdie nuwe produkte mense se aandag trek – dis waar bemarkers se rol belangrik is. “Jy moet ’n storie koppel aan die produk; daar moet ’n mate van emosie by betrokke wees. Dit gaan ál belangriker word vir ons bedryf,” meen Pieter.
SLUIT VENNOOTSKAPPE
Net soos dit eentonig raak vir mense om elke aand by dieselfde restaurant te gaan eet, verander verbruikers se smaakpatrone vir vrugte en groente voortdurend. Om seker te maak die groep is op hoogte van nuwe kultivars – en dat dit binne hul bereik is – het die maatskappy verskeie vennootskappe met toonaangewende internasionale vrugteondernemings aangegaan. Dit help hulle
om eksklusiewe regte vir gesogte kultivars te bekom.
’n Onlangse voorbeeld is Honey Crisp, wat nou, gemeet aan dollarverkope by die kasregister, die grootste appelkultivar in Amerika is. Dit het verlede jaar 22% van kasregister-verkope van alle appels in Amerika uitgemaak. Die appel, met sy roomkleurige vleis, se selstruktuur verskil van ander appelsoorte, wat dit sappiger maak.
Dutoit Agri is al tien jaar lank in vennootskappe met Pomanjou, die Franse appelonderneming wat die bemarkingsregte vir Honey Crisp besit.
“Ons het die eksklusiewe regte om die Honey Crunch-handelsmerk in Suid-Afrika te kweek en te bemark,” sê Gys.
KIES DIE REGTE KLUBS
Danksy tegnologie sien kultivars deesdae baie vinniger die lig – en meesal binne ’n kultivarklub, wat ’n verskeidenheid modelle volg om plantmateriaal aan die bedryf beskikbaar te stel en vrugte te bemark.
“Al hierdie klubs gaan nie oorleef nie. Ons moet dus nie net ’n kultivar kies wat in ons
gebied aard nie, maar dit moet verkieslik ook aan ’n klub gekoppel wees wat oor tien jaar ’n wennerklub gaan wees,” sê Pieter, wat vroeër vanjaar op Fruits Logistica in Berlyn bykans 30 nuwe klubkultivars getel het.
“Weer eens, Pink Lady is die maatstaf. Dis die grootste klub en dit groei steeds. Daardie groei word egter deur groot bemarkingspogings aangedryf. Daar is appels wat met Pink Lady kan meeding op proepanele en produksiestatistieke, maar dit het nie handelsmerke nie. Die handelsmerke wat gaan wen en die skaalvoordele van Pink Lady gaan bereik en daarmee kan meeding, is dus ’n verskriklike belangrike oorweging. Daar is nie plek vir al dertig nie, daar gaan net drie of vier wenners wees,” sê Pieter.
Dit beteken nie die tyd van tradisionele, oop kultivars is uitgedien nie.
TRADISIONELE KULTIVARS
“Daar is twee verskillende wêrelde. In die wêreld van tradisionele kultivars word Suid-Afrika uit sekere markte gedruk deur plaaslike produksie, aangedryf deur ekonomie, want die ouens lewer goedkoop en die
pryse is laag,” sê Gys. Maar hierdie tradisionele kultivars vaar nog goed in markte soos Afrika, waar Suid-Afrika bykans die helfte van sy appels verkoop.
“Daar is beslis ’n plek vir tradisionele kultivars, maar dis ’n marge-besigheid. Die ou wat daarmee suksesvol is, slaag daarin om die vrugte goedkoop te lewer en te versprei.”
Sowat 60% tot 70% van die 23 000 ha appelaanplantings wat tans in die bedryf staan, is tradisionele kultivars.
“Dit gaan nog lank met ons wees. Spesifiek Afrika, maar ook die Midde-Ooste, hou
van hierdie kultivars. En dan is daar ook markneigings om in ag te neem. As daar tekorte ontstaan aan ander kultivars, moet jy terugval hierop.”
Ja, beaam me. Tanith Freeman, die maatskappy se bestuurder van produkontwikkeling, die werklikheid is dat ou kultivars goedkoper is vir verbruikers.
“Daar sal altyd ekonomiese redes wees waarom mense 1 kg Gala-appels kan bekostig, maar nie 500 g Pink Lady-appels nie.”
In die “ander wêreld” help klubkultivars die internasionale spelers om beter geïntegreer te wees. Supermarkte kan die hele jaar die gesogte kultivars op hul rakke hê omdat die produsenteklub plantmateriaal daarvoor beskikbaar gestel en oor die produksiestreke versprei het.
“Dis ook waar die groei gaan gebeur,” sê Gys. “Dutoit se sterkte is juis daarin dat ons jare gelede al in nuwe kultivars begin belê het. Wanneer die appelbesigheid moeilik raak, sal dit ons kan dra.”
EVALUASIE RAAK BELANGRIKER
Maar, waarsku hy, hoewel die teelproses ál vinniger geskied en nuwe kultivars ál meer gereeld die lig sien as voorheen, kom dit nie sonder ’n skeut probleme nie. En die probleme is nie net aan die markkant nie.
“In die ou dae het dit bitter lank geduur, maar nou raak dit vinniger. Twintig jaar gelede het ons alles (kultivars) gevat wat ons kon, dit deur die stelsels ingebring die land in, geplant en geëvalueer. Dit duur sowat drie jaar om bome te maak vandat jy in evaluasie is. Dan duur dit nog vier of vyf jaar voor jy in volle produksie kom. Maar daardie fase is verby. Die kultivars kom nou so vinnig en ordéntlike evaluasie is noodsaaklik. Jy kan nie hierdie langtermynbeleggings maak en dan kom jy vyf jaar later agter dit was ’n fout nie.”
Gys vertel hulle is juis nou besig om baie hektare boorde oor te ent weens ’n verkeerde besluit. “Weet jy wat kos dit die maatskappy? Dis megafoute! Daardie tyd is verby. Dis nou tyd vir ordentlike evaluasie en om seker te maak jy het die regte kultivars beet.”
KLIMAATSVERANDERING
Soos Gys uitgewys het, is nuwe kultivars nie net daar om in veranderende verbruikersvoorkeure te voorsien nie. Party maak ook die lewe op die plaas makliker.
“Klimaatsverandering is ’n gegewe en dit raak jou op verskillende terreine. In die Wes-Kaap is daar hierdie uiterste omstandighede – dis óf baie droog óf baie nat. Die Wes-Kaap is aan risiko blootgestel en ons moet dit bestuur.”
Hier is dit nie net kultivarkeuses wat belangrik is nie, maar soms is dit selfs nodig om alternatiewe gewasse te oorweeg in ’n poging om die klimaat onder ’n boer se beheer te bring.
Terwyl gewasse, soos neute, avokado’s en bloubessies, tans baie gewild is, het die Dutoit Groep hom op kersies toegespits. Sy handelsmerk Cherry Time was verlede jaar
die derde keer op die winkelrakke.
“Jy gebruik net 6 000 m³ water per hektaar kersies teenoor 9 000 m³ vir appels. Sulke kenmerke raak ’n oorweging wanneer jy nuwe boorde wil vestig of hektare moet uitbrei met jou bestaande water,” sê hy.
Nog iets wat Du Toit Agri in gedagte hou, is die voorkeure van verbruikers in groeiende markte. “Die groei lê op die oomblik in die Ooste en Afrika, en hul behoeftes is beslis anders as in die tradisionele markte. Ons plant byvoorbeeld Nieu-Seelandse appels aan wat hoofsaaklik gemik is op die Oosterse markte. Jazz en Envy is kultivars wat by uitstek gewild is in die Ooste,” sê Gys.