LANDBOU HET NOU STERK LEIERS NODIG
Dit lyk of Afrikalande suid van die Sahara vanjaar beter ekonomiese groei gaan aanteken, rentekoersdalings kan verwag en sterker geldeenhede kan vertoon. Suid-Afrika en Nigerië, die streek se twee grootste ekonomieë, het tot 2019 egter unieke struikelblok
Onsekerheid heers oor die vooruitsig vir ekonomiese groei in Afrikalande suid van die Sahara. Die verwagting is dat ekonomiese groei van 0,4% verlede jaar tot 2,6% vanjaar kan herstel.
Sekere toonaangewende lande in die streek ervaar egter groot risiko’s wat ekonomiese groei kan beperk. In dié lande, waaronder Suid-Afrika en Nigerië, kan beleids-en politieke onsekerheid na verwagting vanjaar toeneem. Die impak van die toenemende droogtetoestande in Oos-Afrika beperk ook ekonomiese groei vir lande in die streek.
’n Hernude klem op die belegging in infrastruktuur en ’n gepaste monetêre beleid wat tot laer rentekoerse lei, is die grondslag vir die streek se ekonomiese groeiverwagtinge. Die toenemende onsekerheid oor beleids- en politieke risiko in Suid-Afrika kan egter beleggers se aptyt beperk om nou in Suid-Afrika te belê.
MONETÊRE BELEID
Inflasie het skerp gedaal in Zambië en Ghana en dit het daartoe gelei dat dié lande rentekoerse dienooreenkomstig verlaag het. Rentekoerse daal selfs in Mosambiek. Na verwagting sal rentekoerse in hierdie lande vanjaar nog verder kan daal met ’n verslapping in hierdie drie lande se monetêre beleid. Die dreigende droogtetoestande in Oos-Afrika kan daartoe lei dat rentekoerse vir lande in dié streek weens die verwagte toename in inflasie nie verder sal daal nie. In Suid-Afrika word hoër rentekoerse egter verwag.
WISSELKOERS
Die wisselkoers in Afrika suid van die Sahara, uitgesluit Suid-Afrika, het vanjaar tot dusver relatief goed vertoon en geldeenhede het teenoor die Amerikaanse dollar versterk. Dit is net die Suid-Afrikaanse rand wat merkbare verliese teenoor die Amerikaanse dollar aangeteken het. Afrikalande se geldeenhede is egter kwesbaar en die verwagting is dat dié geldeenhede in die komende maande swakker kan presteer.
Hierdie lande se tekorte op die lopende rekening bly groot en hul invoer oorskry hul uitvoer in waarde. Dit sal waarskynlik vir die res van die jaar so bly. Die droogte in Oos-Afrika kan invoer noodsaak, terwyl Suid-Afrika en Nigerië se invoer tot inflasie bydra omdat hul geldeenhede verswak.
Die Federale Reserweraad se monetêre beleid het ’n wesenlike invloed op rentekoersvlakke in Afrikalande suid van die Sahara. Indien die Federale Reserweraad Amerikaanse rentekoerse gaan verhoog, kan dit tot nóg hoër rentekoerse in Afrika suid van die Sahara lei. Dié lande se ekonomieë is ook blootgestel aan onsekerheid in ander wêrelddele.
LEIERSKAP EN LANDBOU
Onderweg na 2019 het Suid-Afrika nou sterk leiers nodig.
Jy neem leiding in jou gesinslewe, op die plaas met jou werk of by die georganiseerde landbou waar jy ander se denke, gedrag en ontwikkeling beïnvloed. Jy bepaal ander se visie vir die landbou – ons toekoms. Bemoedig ander mense deur diensbaarheid en toegewydheid om dieselfde waardes uit te leef. Streef na ’n nalatenskap waarin jou waardes nagevolg word en leiding gee.
Die skrywers Ken Blanchard en Phil Hodge sê goeie leiers leef hul leierskap uit tot verheerliking van hul Skepper. Hulle tree nie in eiebelang op nie en ontwikkel vertroue in hul gesinslede en werknemers. ’n Werkspan of gesin waar vertroue ontbreek, kan nie optimaal funksioneer of doeltreffend en produktief wees nie. Waar sulke leiers die geleentheid het, skep hulle groter vertroue tussen georganiseerde landboustrukture.
Dié eienskappe is ook nodig vir landbouleiers sodat ons die uitdagings tot 2019 die hoof kan bied. Blanchard en Hodge sê leiers wat hulself suksesvol kan lei, kan ’n gesin en werkspan tot hoër hoogtes aanvoer. Hulle vestig ook vertroue in gemeenskapen landboustrukture en neem daar sterk leiding.
Mnr. Jannie De Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê sterk leierskap is minder belangrik wanneer dit goed gaan met die landbou, maar in die toekoms sal leierskap ’n ál groter rol speel.
Wanneer jy met probleme te make kry, moet jy juis leiding neem en nie onttrek nie. Om sterk leiding te neem beteken jy moet inisiatief neem, ’n bietjie harder werk, bereid wees om gekritiseer te word, asook om pyn en ongemak te verduur.
Landbou-organisasies moet meer as ooit hande vat en gesamentlik die landbou se toekomstige probleme oorkom. In moeilike tye soos hierdie moet leiers vir ander ’n visie gee oor hoe ons landboutoekoms kan lyk, dat dit haalbaar is, en dat landbouers se toekoms nie deur die noodlot bepaal sal word terwyl ons op ander sit en wag nie.
Wees toegewyd, staan saam en skep ’n omgewing waarin die klem regtig val op produsente se produksie van voedsel en vesel vir Suid-Afrika.
‘Jy moet inisiatief neem, ’n bietjie harder werk en bereid wees om gekritiseer te word.’