HANDEL IN DIE TOEKOMS
Dit is moeilik om dit aldag te verstaan. Hoekom Suid-Afrika se rugby so swak geword het, en hierdie byderwetse handel in die toekoms waar geld — soms sommer groot geld — gemaak kan word op grond van wat moontlik in die toekoms kan gebeur. Dat iemand êrens ’n mielie-, sojaboon-, sonneblom- of sorghumoes gaan lewer teen ’n sekere prys op ’n sekere datum, en dat daar op daardie toekomstige vooruitsig geld verhandel kan word. Kompleet met ouens wat jou sal uithelp indien jy nie daardie hoeveelheid mielies teen daardie prys op daardie datum kan lewer nie — natuurlik teen ’n tarief. En dít alles voor daar nog ’n pit in die grond is. Of, soos daar droogweg daarna verwys word, papiermielies.
Ja, boere kan ook papiermielies plant. Daar is boere wat dié uitmergelende dobbelspel aangedurf het en teen wie die mark genadiglik nie gedraai het nie. Maar, bygesê, die een spesifieke boer van wie ek weet wat dit wél probeer het, boer vandag op groot skaal met beeste!
Vir die meeste ander boere bly die probleem steeds dat hulle ’n pit in die grond moet druk en dan moet wag vir daardie plantjie om koppe te stoot — sonder dat iets skeefloop. Soos windskade, kommandowurm of een van die grootste nasionale oeste wat die mielieprys só katswink slaan dat dit by tye tot onder produksiewaarde daal. En dan het jy nog twee, en op plekke drie, klipharde produksiejare agter die rug, met al die meegaande skuld.
Intussen het die ander party eenvoudig ’n teoretiese posisie ingeneem, sy keyboard reggeskuif en begin wag, sonder die nodigheid om te spuit of oor te plant weens windskade.
Ongelukkigheid met dié stand van sake, reg of verkeerd, is aan die broei. Prof. Johan Willemse het dit net ’n paar weke gelede in Landbouweekblad geopper: Die problematiek dat Safex ’n speler én ’n skeidsregter is. Ander brom oor die moontlikheid dat Safex se volumes in al hoe minder hande lê ná die uittog van veral kleiner spekulante, en dat dié aansienlike koopkrag Suid-Afrika se betreklike klein mieliemark moontlik makliker kan swaai. Ander kla weer oor aanvangsmarges wat ál duurder geword het en wat die kleiner spekulant verder afskrik. Dit laat ’n mens wonder hoe Safex sy glans verloor het ná die aanvanklike belofte dat dit boere juis die opsie sou gee om hul oes teen hoë pryse vas te maak.
Op plaasvlak werk die vrye mark ongelukkig nie altyd so lekker nie en word die toekoms altyd verswelg deur die dringendheid van huidige probleme om die oes groot te maak. Só vertel makelaars hoe boere in byvoorbeeld Noordwes, toe hulle in Desember pryse moes vasmaak, met die werklikheid gesit het van ’n witmielieprys vir lewering in Julie wat maar sowat R2 400/ton was. Dit sou boere ’n wins van net R349/ton gegee het nadat die liggingsdifferensiaal van R251/ton en die vaste en veranderlike koste van om en by R1 800/ton afgetrek is. Die boer kon nie die geleentheid gebruik nie, want hy het nie geweet hoeveel, indien enige, mielies hy gaan plant nie. Dis onregverdig om nou, as pryse op die vlak van R1 800/ ton is, daarna terug te verwys en te sê: “Hoekom het jy nie daardie geleentheid benut nie?”
Geen wonder dat min boere hulself teen die huidige lae prys probeer verskans het. Amptelik word ’n syfer van 45% genoem, maar makelaars praat van so min as 5%. Daar moet tog ’n beter manier wees om dinge te doen? — CHRIS BURGESS
Media24 Weeklikse Tydskrifte