Kleinveetjeks in Karoo krimp steeds
’N VROU wat die Karoo en sy mense goed ken, beskryf boere se gemoedstoestand in die voortslepende droogte as erg pessimisties. Sy sê die droogte gee “grys hare, kringe om die oë, slapelose nagte en stilstuipe”.
In groot dele van die suidelike Karoo het boere in drie jaar nog nie ’n ordentlike lammeroes gehad nie. Dit skep ’n groot probleem met die vervanging en die heropbou van kuddes. Angora- en wolboere kla ook oor die ligte vagte van swak gehalte wat tjeks laat krimp, terwyl insetkoste bly styg.
Sommige dele van die Karoo het wél reën gekry, maar nie só dat die damme uitloop en die grond lank genoeg nat bly nie. Eintlik moet dit só reën dat die perde (wat nog oor is) tot by hul knieë insak in die modder vir dié dele van die Karoo om vinnig te herstel.
VOER KOOP
In ’n stadium was die droogte só fel dat selfs die beste boere met velddiere begin voer koop het, maar uiteindelik tou opgegooi het daarmee. Soos een veteraan dit gestel het – ’n man kan nie uit die koöperasie se voerstore boer nie. Net so min as wat jy jou uit die moeilikheid kan voer.
Dit kos maklik R300 om ’n klein bokkie ses maande lank te voer. Dit is meer as wat die bokkie se skeersel van 750 g in daardie tydperk kan inbring.
Óf jy koop jou eie bok terug met voer óf dit vrek. Verkoop is ook buite die kwessie, want niemand koop ’n maer bok nie.
Die droogte kan moontlik die bokhaarbedryf harder tref as die skaapbedryf – bloot omdat ’n groter persentasie van die nasionale kudde in die droogtegeteisterde gebiede voorkom.
Goeie reënval in die tweede helfte van die jaar kan skeersels weer ’n hupstoot gee, maar selfs dan gaan boere sukkel om kuddes op te bou vanweë die Angora se beperkte teeltyd.
Dit maak almal in die bedryf erg bekommerd, want dit lyk asof die situasie net gered kan word indien die laer produksie van bokhaar uiteindelik sal lei tot ’n tekort en skerp prysstygings – veral ten opsigte van kleinbokkie- en jongbokhaar. Boere kla lankal dat kopers hulle nie genoeg betaal vir hul produk nie.
Een troos (soos ’n boer opgemerk het nadat hy gehoor het hoe slimrekenaars en -robotte wêreldwyd mense vervang) is dat ’n robot nie sommer maklik in daardie harde wêreld sal aard nie.
Ekstensiewe veeboere is dus ten minste nog beskerm teen daardie bedreiging.
ÁL MEER VRAE OOR BOORGATE
Dit wil mos so al vir Manie lyk asof hy die kommersiële boere se hulp moet inroep om al die boorgate op te spoor wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye teen miljoene rande met ramphulpgeld gesink is.
Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, het ná maande lange navrae oor die boorgate ’n lys GPS-koördinate gekry oor waar die departement se boorgate behoort te wees, maar steeds is daar meer vrae as antwoorde. In ’n parlementêre antwoord het Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê sy departement het sedert Oktober