Bedryf tel kop op ná lang droogte
DIE huidige suikerriet-oes gaan na verwagting steeds kleiner as normaal wees, maar produksie is op ’n opwaartse kurwe ná drie jaar van droogte.
Mnr. Richard Nicholson, ekonomiese navorsingsbestuurder by Canegrowers, die SA suikerrietkwekersvereniging, sê ’n oes van slegs 16,5 miljoen ton word verwag. Dit is 17% laer as die bedryf se gemiddelde oes van 19,9 miljoen ton per jaar.
“Dit is nietemin ’n toename van 10% in opbrengs teenoor die vorige seisoen se 15,074 miljoen ton. Boere met suikerriet op droëland het ’n goeie herstel beleef weens relatief goeie reën oor die grootste produksiegebied. Besproeiingsboere het egter ’n afname van 30% in opbrengs in die noorde van KwaZulu-Natal en Mpumalanga weens die droogte.
“Die droogte in die produksiegebied is nou verby – vandaar die vooruitsig op ’n toename van 10% in opbrengs.
“Die skade wat die droogte aangerig het, veral vir die meer as 20 000 kleinboere, sal nie in een seisoen ongedaan gemaak word nie.” Die voorsiening van genoeg goeie plantmateriaal is tans regdeur die bedryf ’n knelpunt.
“Die hektare onder suikerriet toon ’n afname die afgelope twee jaar, maar dit is meestal weens die droogte. Daardie hektare sal weens die beter weer hervestig word.
“Plaag- en siektebestryding bly ’n noodsaaklikheid. Nuwe chemiese middels wat die eldana-mot suksesvoller bestry as voorheen, is tot groot voordeel van boere. Dit is veral van toepassing op die kusstreke, waar doeltreffender plaagbestryding beteken dat die groeityd verleng kon word en dus die gehalte van die suikerriet verbeter.”
Die herwinbare waarde, waarvolgens boere vir hul suikerriet vergoed word, het op ’n jaargrondslag met 24% toegeneem. “Die gehalte van die suikerriet verlede seisoen was egter nie baie goed nie en boere kon nie ten volle munt slaan uit die hoër prys nie.”
Die vooruitsig in die huidige seisoen, wat in April begin het, is dat die gehalte van suikerriet beter sal wees mits die weer sy normale patroon volg.
SUIKERBELASTING
Die voorgestelde suikerbelasting is egter vir die bedryf ’n groot probleem. “Daar is steeds geen sekerheid oor die beleid nie en die kwessie is vir nóg ’n jaar uitgestel. Die gebrek aan beleidsekerheid oor die gebruik van suikerriet as ’n hernubare energiebron en dus die potensiaal om die bedryf uit te brei en diversifiseer, is ’n verdere frustrasie,” sê Nicholson.
Verder is die bedryf bekommerd oor die Europese Unie se onlangse besluit om suikerkwotas en ’n vloerprys, wat sedert 2006 suikerproduksie in lidlande beperk, op te hef. Reuters berig Europese boere is gretig om ’n uitvoermark te vestig.
Nicholson sê enige invoer na Suid-Afrika is ’n risiko. Dít selfs nadat die invoertarief, wat volgens ’n verwysingsformule gebaseer op die dollarprys bepaal word, einde Maart op 63,63c/kg vasgestel is weens ’n swakker wêreldprys.
“Hoewel dié tarief die plaaslike mark beskerm, was daar tye wat die tarief nie voldoende was nie en invoer het steeds die land binnegekom. Dit verplaas die plaaslike produk wat dan teen die lae internasionale prys uitgevoer moet word.”
“Daar is baie geleenthede in die suikerrietbedryf, wat insluit die verwerking tot biobrandstof, etanolproduksie, kragopwekking of ander diversifisering, maar wat weens regulatoriese rompslomp onontgin bly.”
‘Die skade wat die droogte aangerig het, veral vir die meer as 20 000 kleinboere, sal nie in een seisoen ongedaan gemaak word nie.’