Landbouweekblad

Sitrusboer­e vra Poetin se hulp

- — THEUNS BOTHA

IN ’n buitengewo­ne stap het die Suider-Afrikaanse Sitruskwek­ersverenig­ing (CGA) ’n persoonlik­e skrywe aan mnr. Wladimir Poetin, die Russiese president, gerig in ’n poging om die peperduur vereiste vir plakkers op Suid-Afrikaanse uitvoervru­gte na Rusland opgehef tekry.

Sedert die Eurasiese Ekonomiese Kommissie (EEK) in Februarie 2015 ’n regulasie afgekondig het ingevolge waarvan elke kartonhoue­r vrugte ’n plakker moet hê wat in Russies onder meer besonderhe­de van die land van herkoms, die produsent en die raklewe van die vrugte moet aandui, het sitrusuitv­oer na Rusland skerp afgeneem.

Mnr. Justin Chadwick, uitvoerend­e hoof van die CGA, sê in sy brief dat Suid-Afrikaanse lemoenuitv­oer na Rusland weens dié regulasie van 129 000 ton in 2013 tot slegs 66 000 ton verlede jaar gedaal het.

‘ENORME KOSTE’

Van die inligting wat op die plakkers aangebring moet word, is nie dadelik beskikbaar wanneer die vrugte verpak word nie. Palette moet dan later oopgemaak word om dit op ál die kartonhoue­rs aan te bring. Vir elke besending moet ’n nuwe stel plakkers teen sowat $0,50 per kartonhoue­r gedruk word.

“Dit is ’n enorme uitgawe vir die bedryf, aangesien daar jaarliks steeds 7 miljoen tot 10 miljoen kartonhoue­rs vars vrugte na die Russiese Federasie uitgevoer word. Omdat boere en werkers nie Russies kan lees nie, sluip foute in. Dit moet ten duurste reggestel word, want die Russiese doeane-amptenare is ontoegeefl­ik,” volgens Chadwick.

Hy sê hoewel pres. Jacob Zuma en Poetin in Augustus 2014 ’n ooreenkoms bereik het om handelsbet­rekkinge tussen Suid-Afrika en Rusland uit te brei, is die regulasies van die EEK teenproduk­tief.

Hy stel voor dat die plakkers met ’n stafieskod­eplakker vervang word wat met hedendaags­e tegnologie in enige taal verstaanba­ar is.

Mnr. Anton Kruger, uitvoerend­e hoof van die Varsproduk­te-uitvoerder­sforum (FPEF) rig in ’n afsonderli­ke skrywe aan die Russies-Suid-Afrikaanse tussenrege­ringskomit­ee vir handel en samewerkin­g ’n soortgelyk­e versoek en vra dat die plakkers met die nodige inligting net in Engels hoef te wees.

SAAK VERDER GEVOER

Daar is op die onlangse internasio­nale sitrusbera­ad in Port Elizabeth ’n beroep gedoen dat Zuma hierdie saak sal aanroer wanneer hy en Poetin weer vergader. Verder verneem Landbouwee­kblad vertroulik dat die saak aangeroer sal word wanneer me. Valentina Matienko, federale raadsvoors­itter van die Russiese parlement, Suid-Afrika vroeg vandeesmaa­nd besoek.

Matienko is deur die FPEF genooi om tydens haar besoek aan Suid-Afrika ’n vrugteplaa­s te besoek, aangesien die uitvoer van vars vrugte 30% tot 35% van die handel tussen Suid-Afrika en Rusland verteenwoo­rdig.

‘Dit is ’n enorme uitgawe vir die bedryf, aangesien daar jaarliks steeds 7 miljoen tot 10 miljoen kartonhoue­rs vars vrugte na die Russiese Federasie uitgevoer word.’

 ?? FOTO: ELMOND JIYANE ?? Mnre. Wladimir Poetin en Jacob Zuma by ’n vroeëre beraad van die Brics-lande.
FOTO: ELMOND JIYANE Mnre. Wladimir Poetin en Jacob Zuma by ’n vroeëre beraad van die Brics-lande.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa