DRIEFASE-LEKPROGRAM VERLAAG VOERKOSTE
Voerkoste is die veeboer se grootste uitgawe, maar ’n selektiewe driefase-lekprogram kan die doeltreffendheid van voeding verbeter. Die lekaanvulling se vertrekpunt is die gehalte van die veldweiding en produksiestadium van die vee.
Mnr. Hendrik van Pletzen, tegniese bestuurder van Voermol, sê diere vreet doeltreffender as wat ’n mens dink. Volgens proewe neem die inname van proteïen deur beeste vanaf natuurlike weiding in die somer toe tot 12%13%, maar in die winter is dit so laag as 3%-4% in baie suur gebiede omdat die energiewaarde dan laag is.
Veldweiding se gehalte verskil van gebied tot gebied, ook tussen die winter en die somer en selfs tussen jare. “Hoe meer die veld se gehalte in die winter soos dié in die somer lyk, hoe minder lek is nodig.” Die doel van die driefase-lekprogram is om te verseker die koeie se kondisie en voedingstatus is in kritieke stadiums van die produksietyd voldoende sodat hulle weer dragtig kan raak. Dit moet ook kostedoeltreffend wees. Fase 1 is in die somer om minerale en spoorelemente te voorsien, veral fosfaat. Die grond se voedingstatus bepaal die weiding se voedingstatus, veral fosfaat (wat belangrik is vir die omskakeling van weiding-energie na bruikbare energie, die verbetering van weidinginname en mikrobiese aktiwiteit, die ontwikkeling van die ongebore kalf, melkproduksie en vrugbaarheid). Spoorelemente is ook belangrik, veral sink, koper, mangaan en seleen, wat ’n rol in vrugbaarheid speel.
Fase 2 is in die winter om proteïen aan te vul. Die regte lek stimuleer weidinginname, wat die goedkoopste bron van kos is.
Fase 3 is ’n produksielek laat in die winter sodat koeie nadat hulle gekalf het hul kondisie weer aanvaarbaar kan kry en hulle weer dragtig kan raak.
“Die goue draad met al die jare se besoeke aan die benoemdes en wenners van Beesboer en Skaapboer van die Jaar is dat suksesvolle boere met hoogs vrugbare kuddes onverbiddelik vir aanpasbaarheid selekteer,” sê Hendrik. “Daar is geen sentiment nie en ’n vers, eerstekalfkoei of koei wat nie ’n kalf speen nie, word uitgeskot. Die gemiddelde speenpersentasie van die 200 boere wat sover deelgeneem het, is 86, maar die beste syfers is 95 en hoër”.
– CHARL VAN ROOYEN