Landbouweekblad

TREK SÓ IN EEN RIGTING

-

Die aandeelhou­ers van die Agri Dwalasamew­erkingspro­jek se raad aan ander wat dit oorweeg om saam in ’n boerderyon­derneming betrokke te raak, is om seker te maak hulle het dieselfde visie. “As jul visie en drome nie dieselfde is nie, gaan julle in verskillen­de rigtings trek.”

Hulle heg ook hoë waarde aan goeie kommunikas­ie tussen aandeelhou­ers as ’n manier om konflik uit te skakel. Me. Margaret Engel sê mense moet bereid wees om na ander te luister as hulle raad gee. “Moenie altyd alle raad probeer gee nie.”

Mnr. Kosie van Zyl sê dit is ook belangrik om te luister na die mense wat jy gekies het om jou te bestuur. “Dis waar baie van die projekte swaarkry . . . hulle vertrou nie die bestuur nie.” Die span sê ook mense moenie te gou moed opgee nie. “As iets nie werk nie, moenie ophou probeer nie. Jy moet ook leer om die goeie én slegte jare te aanvaar.”

Volgens mnr. Gavin Jaars moet mense ook nie bang wees om foute reg te maak nie. En aan watter vereistes moet ’n mentor voldoen? Gavin sê as iemand mense wil mentor, moet hulle kyk of sý besigheid goed is.

Kosie sê die mentor moet ook ’n suksesvoll­e boer wees. “Kyk na sy finansiële state.” Vir mnr. Harry Leners is dit belangrik dat ’n mentor met hulle kommunikee­r en raad gee. “Hy moet soggens vroeg opstaan en saans laat gaan slaap.” Kosie stem saam dat ’n mentor toegewyd moet wees. “Die ding wat nie agterweë gelaat moet word nie, is administra­sie. Dis van kritieke belang.”

Op die ou end is dit darem nie net werk nie, daar moet ook saamgekuie­r word. Hulle sal dikwels ná uitvaltyd op ’n Vrydag of op dae met swaar reën hul geld saamgooi en vleis braai.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa