Kennetjie, wolf-wolf, kop in den hoed, jagterbal, wewenaar – kinderspeletjies het geen einde nie.
Ek het ’n kosbare boek by my oupa Bun geërf: Kinderspeletjies van A tot Z, deur Anna de Jager. Sy het nagenoeg 670 speletjies versamel, georden en alfabeties gerangskik, alles van Aanslaan tot Xharrabee-gly (glo amper soos botterboomry, maar op ’n gladde stuk rots wat met aalwynsap gesmeer is).
Slangetjie, byvoorbeeld, werk só: “Al die kinders vat hande. ’n Groot seun of meisie is die slang se kop, en die slang word ál skraler agtertoe. Die heel kleinste outjie is die punt van die stert.
“Die slang hardloop dan draaie, vinniger en vinniger. Hoe verder ’n mens van die kop verwyder is, hoe doller en moeiliker word dit, veral vir die outjie heel agter, wat sy treë moet rek en letterlik oor die grond sweef. Daardie laaste man het dikwels goeie, rooi vaderlandse sandgrond gevreet, velle verloor en trane gestort. Maar ophou?”
Wilde Perde verloop weer só: “’n Groot seun staan hande viervoet. Die ruiter klim op sy rug en dan begin die woeste gespring. Daar waar jy sit met jou bene vasgeknyp om die perd se maag, gaan dit soms kwaai. Elke bietjie asem word uitgeskud en dit voel of jou tande losgeruk word in jou mond. Selde dat ’n ruiter nie met sy bakkies tussen graspolle beland nie – ‘die graspol gebyt’, was dit genoem.”
Tydens Ruiters Aftrek hardloop dié “perde” nou op twee agterbene met die jokkies op hul rug geabba.
“Die doel is om die teenstander van sy perd af te kry of die perd te laat val. Sake raak opwindend as daar spanne is – ’n hele swetterjoel ruiters pak mekaar en dit ruk en pluk en sleep rond en bont, oorkruis en deurmekaar. ’n Lekker rowwe speletjie.”
Dit is opvallend met hoe min ’n kind hom of haar kan vermaak – tou, stok, gladde klippies, deurgesnyde suurlemoen. Stok in die Modder word met skaduwees gespeel – trap op iemand se kop se skaduwee, en dié moet stokstil staan met bene en hande wyd uitgestrek. Jy kan iemand red deur tussendeur hul bene te kruip.
Dan is daar Paddaspring, “seker een van die moeilikste behendigheids- en kragoefeninge wat die boere geken het.”
“Die speler lê plat op sy maag met sy hande weerskante van hom op die grond gesteun. Met kraginspanning word die hele liggaam van die grond gelig, ook die voete. Hande verlaat ook die grond, en word voor die bors teen mekaar geklap. Die liggaam gaan nie net op nie, maar ook vorentoe. Die gewig word dan weer met die arms opgevang.”
WOLF, WOLF, HOE LAAT IS DIT?
Oupa Bun, ’n kultuurhistorikus, het die boek se voorwoord geskryf. “Hoe maklik vergeet ons die polsende vreugdetjies van gister, is die eerste gewaarwording by die deurblaai. En hoe blywend, byderhand en byderwets het talle van ons tradisionele speletjies nie gebly nie!”
Net so het ek dadelik Hasie-abdoel (ons het dit Krokkedilletjie genoem) en Jennie die Spook raakgelees. Wolf-Wolf moes ons ophou speel nadat Neelsie in blinde paniek ’n melktand teen die klimraam uitgeslaan het om betyds in die den te kom.
“Die evolusie van die speelwyse en die beskrywende naamgewing bied op sigself ’n fassinerende studieveld. Die speellus en -drif sterf nooit, dog vra slegs tyd en ruimte vir nuwe vormgewing.”
Een só vormgewing het veroorsaak dat my boetie destyds met ’n mond vol bloed by die trappe afgestrompel kom. Toe die stukkende lip reggedokter is, erken hy dat hy en sy maats ’n nuwe speletjie uitprobeer het: Blinde Mense in Slaapsakke. Dit het nooit wyd byval gevind nie.
SPEK-EN-BOONTJIES
“In ons kinderspeletjiedae was dit die gebruik om die outjie wat nog te klein of ’n onbehendige of lomp speler was vir ‘spek-enboontjies’ te kies,” skryf oupa Bun.
“Hy of sy kon sodoende vir albei kante speel en het dan weerskante toe ewe min beteken of ewe veel skade aangerig. Die kans om saam te speel het egter vir alles vergoed.”