En so praat God met ons – nie net deur Sy Woord nie, maar ook deur die natuur.
As ’n mens jou oë oophou en jou daarop instel om waar te neem wat rondom jou gebeur, sal jy dikwels verwonderd staan oor talle wonders van God waarmee hy jou verras. Ek praat nie van groot, opspraakwekkende dinge nie, maar van die talle klein wondertjies wat meermale ongesiens verbygaan.
My jongste kniebuiging van bewondering vir die werke van die groot Wonderwerker het ek beleef terwyl ek op pad was om my buurman te gaan besoek. Dis ’n geplaveide paadjie wat ek dikwels loop, ’n paar meter van waar ons vir tye bly.
Tussen die keiharde plaveistene moes ’n saadjie geval het en daar, waar weinig meer as ’n bietjie onvrugbare sementvulsel is, het hierdie saadjie ontkiem en ’n plantjie gevorm wat nou die allermooiste blommetjies dra. Dis haas onmoontlik om daar verby te stap en nie te sien wat daar aan die gebeur is nie. Dis juis hier waar ek die behoefte voel om uit te roep: “Hoe groot is U! Hoe groot is U!”
Niemand kan verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie kleine wonderwerk nie, niemand het daar grond of bemesting voorsien nie, niemand stort daar ’n bietjie water nie . . . Niemand nie? Dit kan tog nie waar wees nie. Iemand moes iets gedoen het om die haas onmoontlike moontlik te maak. Ek dink ek weet wie dit is. Die groot Wonderwerker het stilletjies, terwyl niemand dit gesien het nie, daar ’n saadjie gelos en in daardie piepklein saadjie, wat jy skaars met ’n vergrootglas kan sien, is daar ’n hele program van Goddelike moontlikhede ingebou. En rondom dit was daar die bemesting van genade op genade. Wie sê dis nie ’n wonderwerk nie?
En waar daar ’n wonderwerk is, moet daar ook ’n Wonderwerker wees – dis tog logies. Niks kan mos nie uit niks iets tot stand bring nie!
En so praat God met ons – nie net deur Sy Woord nie, maar ook deur die natuur.
Wil jy dit ontken? Kom stap saam met my, dan wys ek jou.