Afrika onbeperk
’n Suid-Afrikaanse egpaar, drs. Hendrik en Melissa Alberts, het hul suksesvolle praktyke in Kanada gesluit om hul lonende familieboerdery naby Hazyview te bedryf. Hulle ontwikkel ook honderde hektare makadamias in Mosambiek.
Drs. Hendrik en Melissa Alberts het ná 12 jaar in Kanada sowat ’n jaar en ’n half gelede die deure van hul suksesvolle buitelandse praktyke gesluit en teruggetrek na hul geboorteland Suid-Afrika. Hier boer hulle nou met makadamias in vennootskap met Hendrik se suster, Della, en haar man, mnr. Francois Badenhorst, in die Kosmos-omgewing naby Hazyview.
Hul besluit om die oënskynlike veiligheid en stabiliteit van die eerste wêreld vir die plaaslewe in Suid-Afrika te verruil was tweeledig: Francois en Della het die familieboerdery wat hul pa, mnr. Basie Alberts begin het, só geweldig laat groei dat hulle Hendrik en Melissa se hulp nodig gehad het om die sukses vol te hou. Tweedens het Hendrik gemeen daar is ’n beter toekoms vir sy twee dogters, Della en Beulah, in Suid-Afrika.
“Ons het elke jaar vir ’n maand tot ses weke uit Kanada kom kuier en was deurentyd op die hoogte met wat in Suid-Afrika aangaan. Ondanks baie uitdagings in die land dink ek die lewensgehalte en die geleenthede vir ons kinders is hier baie meer en beter as in enige eerstewêreldland, óók Kanada.”
Hendrik sê die sake-omgewing in Kanada bestaan hoofsaaklik uit groot maatskappye met min ruimte vir private ondernemings. “Dit neem baie geleenthede vir individuele entrepreneurskap weg by jong mense. As jy nie daar in die mediese bedryf werk nie, voer jy eintlik maar ’n sukkelbestaan.”
MEER AS MAKADAMIAS
Hendrik en Melissa woon nou op die plaas waar hy grootgeword het en waar hy die beginsels van boerdery geleer het toe hy as kind sy aan sy saam met sy pa gewerk het. Hy is lief vir hierdie plaas; dit gaan oor baie meer
as net lonende makadamiaboorde. Vir hom en Francois is die bewaring van groot stukke inheemse bos tussen Selde-so se boorde baie belangrik. Hendrik is ’n entoesiastiese voëlkyker en die bos huisves talle besonderse soorte, selfs die skaars bosloerie. Boonop help die stroke inheemse plantegroei met die bestuur van stinkbesies, die makadamiaboer se grootste vyand.
Die natuurlike bos bied buffersones tussen boorde waar die stinkbesies toegang het tot hul natuurlike kos sodat hulle nie op makadamiabome en neute parasiteer nie. “Die bekamping van stinkbesies is seker die aspek waaroor die makadamiabedryf die dringendste navorsing nodig het,” sê Hendrik. Hy vind ’n gekombineerde aksieplan werk die beste. “Jy moet jou boorde skoon hou en al jou ou neute, droë takke en sulke goed optel.”
Hy sê bome moet gesond en goed gevoed en gehidreer wees om natuurlike weerstand te kan bied. ’n Boom moet ook só gesnoei word dat dit nie te dig en te hoog is nie. “Stinkbesies sit graag hoog in die bome.”
Hendrik probeer ook om soveel moontlik vlermuise, stinkbesies se natuurlike vyande, na sy boorde te lok. Hulle plaas vlermuiskaste op verskillende plekke en pas die vlermuise wat in ’n grot op die plaas woon, soos goud op. Wanneer dit nodig raak om chemiese middels in te span om stinkgoggas te bekamp, wend Hendrik en sy vennote ’n daadwerklike poging aan om middels te kry wat nie vir die vlermuise ’n bedreiging inhou nie. Voorbeelde daarvan is Cyperfos 500 E.C. (reg.no. L7606, Wet 36 van 1947) van Nulandis en Pyrinex 250 CS (reg.no. L6515) van Amama SA.
GAPING IN DIE RYE
Omdat die makadamia-boorde op Selde-so betreklik jonk is en daar oor die laaste paar jaar baie nuwe boorde gevestig is, is dit vir Hendrik belangrik om sy kontantvloei gesond te hou terwyl hy wag dat al sy makadamiabome in produksie kom.
Terwyl baie makadamiakwekers gemmer, piesangs en selfs koffiebome tussen hul jong boompies plant, vind Hendrik grenadellas werk vir hom die beste. Die grenadellaplant dra binne ses maande nadat dit geplant is. ’n Goeie inkomste kan vir die eerste twee jaar nadat ’n makadamiaboord gevestig is, met uitvoergrenadellas verdien word.
Die makadamiaboorde se rye is 7 m tot 8 m wyd. Hendrik plant die grenadellas in die middel van hierdie rye en lei dit op teen priële waardeur hy soveel moontlik van die rywydte benut. Wat grenadellaverbouing betref, is sy plante wat tussen die makadamias staan, net teen halfspasiëring aangeplant. Die draadstrukture tussen die makadamiabome bemoeilik soms die bestuur van die makadamiaboompies. “Ons gebruik klein trekkers om onder die priële in te kom.”
Van Januarie tot Augustus oes Hendrik 15 tot 20 ton grenadellas per hektaar wat hy na Europa uitvoer.
Die grenadellas is nogal vatbaar vir swamme en het ’n beperkte leeftyd, daarom haal Hendrik die grenadellapriële ná twee jaar uit sy boorde uit. In die derde jaar dra sy makadamiaboompies reeds hul eerste neute en hoewel sulke jong boompies se oes nog nie noemenswaardig is nie, lewer hulle al ’n bydrae tot die boerdery se inkomste.
OES EN DROOG
Die oudste boorde op Selde-so is nou sewe jaar oud en sal dus eers volgende jaar hul volle produksievermoë bereik. Die twee kultivars wat daar geplant is, Beaumont en A4, presteer albei reeds goed en elkeen hou sy eie voor- en nadele in. Die kultivar A4 lewer byvoorbeeld minder tonne per hektaar, maar kraak meer neut uit as Beaumonts. Aan die ander kant werk die hormoon etafon goed op Beaumont en laat dit al die neute in ’n baie kort tydjie van die bome afval; die oestyd kan dus maklik bestuur word. Hendrik spuit
etafon in die eerste week van April en die werkers beweeg dan van die derde week af in die boorde in en begin neute optel. Die oestyd strek gewoonlik oor ses weke.
Hulle is in uitvoervennootskap met die Green Farms Nut-maatskappy, wat die neute deur middelgangers na China en die Midde-Ooste uitvoer.
Hendrik verwag om volgende jaar omtrent 4 ton per hektaar van sy volwasse boorde te oes, wat dan agt jaar oud is. Van drie jaar af lewer die bome elke jaar ’n bietjie beter oeste na gelang van hul ouderdom.
Direk ná die oes word die bome gesnoei. “Aggressief snoei is die bakermat van enige boomboerdery,” sê Hendrik. Jong bome word regdeur die jaar gesnoei soos nodig.
Die boorde word so bestuur dat bome nie hoër as 80% van die rywydte groei nie. Dit word op ’n hoogte van omtrent 6 m afgesny. Die hout wat afgesny word, word fyngekap en onder die bome gegooi, waar dit help om grondvog te bewaar terwyl dit kompos word.
Selde-so se neute word vanjaar vir die laaste keer teen die omgewingstemperatuur gedroog. ’n Nuwe droogstelsel word eersdaags in werking gestel. As die stelsel geïnstalleer en die skuur se dak swart geverf is, kos dit nie weer ’n sent nie. Die son verskaf die energie.
Mnr. Dorran Bungay van Agri-Safari het die stelsel ontwerp wat warm lug uit die boonste 30 cm onder die skuur se dak onttrek en gebruik om die temperatuur van ’n hittekas vol geventileerde stene waarin die neute gedroog word bokant 28 °C te hou. Die hitte wat in dié stene vasgevang is, sorg dat daar selfs in die aand, wanneer dit koeler is buite, genoeg warm lug deur die neutkaste sirkuleer sodat die droogproses voortgaan.
VOORDEEL VIR ALMAL
Hoewel hulle nie meer heeltyds as dokters praktiseer nie, is en bly Hendrik en Melissa dokters. Daarom het Hendrik ’n spreekkamer op die plaas ingerig waar vinnig hulp verleen kan word. Dit is veral die werksmag van 60 heeltydse en 30 tydelike werkers wat in die oestyd bykom om te help, wat by die dokter op die plaas baat vind.
Baie van die werkers woon op die plaas, terwyl ander verkies om in die nabygeleë nedersettings, soos Nkambeni en Nyongani, rondom Hazyview te woon. “Ons probeer twee of meer lede in ’n gesin in diens neem, waarvoor die huishoudelike inkomste dan groter is as wanneer net ’n man of ’n vrou werk,” sê Hendrik. Hy sê dat hulle deur bonusstelsels en bouprogramme streef om hul werkers te help om vir hulself huise te bou. Dit sorg dat werkers eendag met waardigheid in hul eie huise kan aftree sonder om van staatsalmoesse afhanklik te wees.
’n Deel van die boerdery se opheffingsplanne is ook ’n 50% dividendereg wat aan werkers oorgedra word. Dit is benewens hul salarisse en ander voordele.
GELEENTHEDE IN GRONDHERVORMING
“Ek is nie bekommerd oor grondhervorming nie,” sê Hendrik. “Daar is geleenthede in elke uitdaging en ’n mens moenie grondhervorming as ’n hindernis sien nie. Jy moet die geleenthede identifiseer en kyk watter voordele vir jouself en die mense wat jy bemagtig daarin kan wees.”
Dit is ’n uitgangspunt waarby Hendriken Francois-hulle al baie baat gevind het. Een voorbeeld is ’n projek by Kaapschehoop waar 100 ha by die Shamile-gemeenskap gehuur word. “Die samewerking met die eienaars is uitstekend,” sê Hendrik. “Ons het ’n 20 jaar-huurkontrak en verbou makadamias, terwyl ons lede van die gemeenskap in diens neem en oplei.”
Hendrik raai boere aan om hul oë oop te hou vir sulke geleenthede. “Daar is altyd plase wat jy kan terughuur en saam met gemeenskappe ontwikkel. Ons het nog net baat gevind by sulke ooreenkomste.”
NEUTE VIR AFRIKA
Hendrik se geloof in ’n toekoms vir hom en sy gesin in boerdery strek wyer as Suid-Afrika. “Ek is uiters optimisties oor die res van Afrika. Ons het sowat vyf jaar gelede in Mosambiek uitgebrei en ons het ’n aansienlike makadamia-aanplanting daar in Chimoio.
Hendrik en Francois het saam met drie ander vennote al 170 ha daar aangeplant en is besig om nog etlike honderde hektare in Mosambiek te vestig.
Saam met die Green Farms Nut-maatskappy van Witrivier is die groep vennote besig om ’n onthulsingsaanleg, droog- en opbergingsgerief in Chimoya te skep en sodra die volume neute wat in die streek geoes word, dit toelaat, sal hulle ook ’n neutkrakery oprig.
Hendrik sê tot daar ’n neutkrakery is, sal van die neute wat hulle in Mosambiek produseer na Suid-Afrika uitgevoer word. ’n Deel daarvan sal regstreeks deur die Beira-hawe na oorsese bestemmings gestuur word.
Hy sê ’n ander boer in die omgewing onderhandel tans met die Mosambiekse regering vir ’n doeanekantoor by die Chimoio-lughawe. “Wanneer dit gebeur, kan ons neute per lugvrag van Mosambiek af verskeep,” sê hy.
Hy glo die makadamiabedryf het ’n blink toekoms, nie net in Suid-Afrika nie, maar in subtropiese produksiestreke oor die wêreld heen.