Laer pryse goeie tonikum vir wildbedryf
’n Pionierwildboer en veteraanwildvanger meen die wildbedryf is nou meer deursigtig en bied boonop aan meer boere die geleentheid om in te koop in ’n bedryf wat nog lank nie sy einde gesien het nie.
Hoewel gehaltediere altyd topkopers sal trek, is die buitensporige pryse iets van die verlede. Met meer deelnemers in die bedryf het veilings meer deursigtig geword en is daar minder geleentheid vir ’n klompie groot manne om die mark te manipuleer.
Só sê mnr. Hennie Barnard, wat twintig jaar gelede swartwitpense na die Oos-Kaap gebring het. Hy was ’n Wildboer van die Jaarfinalis in 2012 en boer met wild, Merino’s en Angorabokke op 17 000 ha op Skietfontein, Aberdeen, in die Suidoos-Karoo.
Hy meen in dié stadium van die bedryf se ontwikkeling is die dalende wildpryse goed vir almal.
“Eerstens, die meer realistiese pryse sal dit makliker maak vir boere om in te koop. Nuwe toetreders kan dan die leer klim deur eers met meer bekostigbare diere te begin en op te gradeer namate hul besigheid groei. Wildboerdery moenie net vir die superrykes wees nie. ’n Beginner behoort ’n mooi springbokram vir R6 000 te kan bekom. Só sal meer boere waarde tot hul troppe kan voeg. Buitensporige pryse skrik net beleggers af.”
Hennie wys daarop dat sedert pryse laer is, jagters ook in kleurvariante begin belang stel. “Skielik is dit die geld werd vir ’n trofeejagter om ’n swartrooibokram teen R20 000 te skiet. ’n Boer wat ’n paar seisoene gelede R400 000 vir só ’n bok betaal het, het seker te veel opgedok, maar hy sal nog sy geld maak. Dit sal net langer duur.”
Tot onlangs was wit, swart en koper springbokke die enigste beskikbare kleurvariante – en hulle was baie gewild. Daar is geen rede hoekom swartrooibokke, goue wildebeeste of enige ander gekleurde bok nie ook gewild sal wees nie – mits die prys reg is.
“Dit is natuurlik wildboere se verantwoordelikheid om kleurvariante goed toe te kamp sodat hulle nie met suiwer troppe meng nie,” maan Hennie. “Maar oor die algemeen dink ek dat private beleggers toegelaat moet word om hul boerdery op ekonomiese beginsels te bedryf terwyl die suiwer bewaringsaanspreeklikheid by die parke moet lê. Daar is genoeg grond daarvoor opsygesit.”
Die ander rede waarom hy die sagter mark verwelkom, is dat duur pryse die ou tradisie van biltongjag kan vernietig. Iets is verkeerd as ’n pa nie kan bekostig om saam met sy seun te gaan jag nie.
“Op lang termyn hang die toekoms van wildboerdery van trofee- en biltongjag af. Ons sal albei markte moet behou en uitbrei, want dit is wat die wilde dier waarde gee. En onthou, jagters gaan waar hulle die meeste of die grootstes kan skiet.”
REUSEVRAAG NA BUFFELS
“Op kort termyn kan die laer pryse en droogte nog die mark tot volgende jaar beïnvloed, maar daarná behoort besigheid weer op te tel,” sê Hennie. “Dit lyk of daar ’n onversadigbare vraag is na buffels – en nie noodwendig net vir die groot menere nie. Swartwitpense
gryp ook almal se verbeelding aan.”
Maar vlaktewild, soos koedoes – wat nog baie potensiaal het as spesies – en springbokke en gemsbokke, bly aanloklik vir enige jagter. Daar is ander wildsoorte, waaronder die njala en tsessebe, wat ook nog jagters kan trek. Die bastergemsbok se waarde lê egter eerder nog in sy skaarsheid as sy horings.
KLEIN KAMPIES ‘WÁS NODIG’
Daar is baie kritiek oor die teel van duur wild in klein kampies en Suid Afrika het reeds jagters verloor as gevolg daarvan. Plase in Namibië word gesien as groter en meer natuurlik. Maar die storie het ’n ander kant. “In ’n neutedop: Ons was gedwing om intensief te boer om die skaarswildbedryf aan die gang te kry,” verduidelik Hennie.
“Dit bly moeilik om die ongebalanseerde groenfaksie daarvan te oortuig dat private beleggers nie net die Suid-Afrikaanse wildbedryf gered en uitgebou het nie, maar dat dit ook nou nuwe groeigeleenthede geskep het,” sê hy. “Ons is nou op ’n punt waar ons gehaltewild na Afrika – wat die wildlewe erg verwaarloos het – kan uitvoer sodra die aanvraag ontstaan.”
Maar om daarby uit te kom, het wildtelers geen keuse gehad as om in klein kampies te begin nie. “Toe ons skaars swartwitpense, bastergemsbokke en buffels intensief begin aanhou het, was daar so min van hulle in omloop dat ons nooit hul getalle sou kon opstoot sonder om hulle spesiale aandag te gee nie. In kampies van sowat 30 ha kan mens hulle werklik goed versorg en daar is hul reproduksie net soveel beter en meer konstant as in die natuur.
“Dit was nooit die bedoeling om hulle in klein kampies te laat skiet nie.”
Hennie erken dat ’n mens uiteindelik ’n dier kan teel wat nie so goed vir homself kan sorg of nie so bestand is teen siektes en parasiete nie. Maar Suid-Afrikaanse wildboere het nou kritieke massa bereik wat getalle betref en kan dus na groter kampe en meer ekstensiewe produksiestelsels terugbeweeg.
“Ons moes dus eers deur die kleinkampiefase gaan – daarsonder sou daar min vordering gewees het. Daar is nou miskien 40 000 swartwitpense en 9 000 bastergemsbokke, terwyl hulle net so maklik kon uitgesterf het.”
‘NIKS KUNSMATIGS OOR GROOT HORINGS’
“Die klem op horinglengte behoort nie tot die nadeel van reproduksie te wees nie. Die groot trofeebulle is nie noodwendig die teelbulle nie. Maar ons het nog ver om te gaan voordat ons die trofeerekords ewenaar,” sê Hennie.
“Ons is nie absoluut seker hoe akkuraat metings 100 jaar of meer gelede gedoen is nie, maar behalwe springbokke en koedoes, wat al naby aan die merk is, is die meeste boksoorte nog nie naby aan wat al in die natuur platgetrek is nie.
“In hierdie stadium is daar nog niks kunsmatigs omtrent groot horings nie.”
Volgens Hennie werk telers tans aan metodes om horinggroei vanaf ’n vroeë ouderdom wetenskaplik te bepaal. In die geval van swartwitpense groei die horings van die meeste bulle konstant teen omtrent een duim per maand vir die eerste drie jaar. Daarna neem die tempo drasties af.
“Tyd is belangrik vir die teler,” verduidelik Hennie. Dit duur lank vir ’n dier om ’n trofee te word, veral by groot bokke, soos die eland. Hoe gouer ’n dier se potensiaal dus bekend is, hoe beter is dit uit ’n finansiële oogpunt,
“Histories was die grootste trofeë in Zambië, Angola, Mosambiek en Botswana – wat die grootste reservoir was van swartwitpense en buffels.
“Vandag sukkel professionele jagters om diere van trofeegehalte enige plek in Afrika te kry. Hulle is eenvoudig al uitgeskiet.
“Dit is nie meer lank nie, dan gaan die groot trofeë uit Suid-Afrika kom,” voorspel Hennie.
“Die wêreldrekord vir die Angolese reuse-swartwitpens is 65 duim. Dit was ongelooflik in 1954. Tog is die huidige rekord vir die sub-spesies wat by ons voorkom, ’n rapsie meer as 55 duim, terwyl 50 duim-bulle redelik algemeen geword het. Namibië het op ’n tyd die grootse springbokke gehad, maar het min gedoen om die genetiese samestelling deur seleksie te verbeter. Nou het ons die beste springbokke.”
OOR KRITIEK VAN KLEINVEEBOERE
Beskuldigings dat die wildbedryf tradisionele skaap- en bokboerdery vernietig, is misplaas, meen Hennie.
“Wild is nie noodwendig tot die nadeel van kleinvee nie. Inteendeel, dit het gehelp om plase meer volhoubaar te maak.”
Aanvanklik – ten minste in sommige distrikte – het boere oorgeslaan na wild as gevolg van wegholveediesfstal. Maar baie boere het steeds hul Angoras en Merino’s behou. “Vir my was wild bloot deel van ’n diversifikasiestrategie. Die kilometers lange wildheinings langs die paaie beteken nie dat daar nie meer bokke en skape daarbinne is nie.”
Terwyl dit miskien “reg” klink, is dit nie die beste ding om te doen om al jou binneheinings af te breek wanneer jy na wild oorskakel nie. Wild kan ook, nes vee, van kamp tot kamp verskuif word.
“Met die korrekte belading kan wild in ’n veldbestuurstelsel ligter op die habitat wees as plaasdiere,” sê Hennie.
“Swartwitpense en buffels vaar baie goed op Karooveld, selfs wanneer gras skaars is as hulle tef as byvoeding ontvang. Die tef vervang maar net die gras.”