NAMPO SE WAARHEID
Dis die tyd van die jaar om die landbou se temperatuur te meet, daar op die stowwerige Nampo-Oesdag-terrein.
By die werktuiguitstallings vertel die manne dat Suid-Afrika se boere vanjaar darem weer bereid is om die tjekboek oop te maak. Dít ondanks die skade aan mielies in die weste en die vrotsige prys. Vanjaar se aansienlik beter oeste help darem om koppe reg te kry. Met meer as 60 vliegtuie en 30 helikopters wat staanplek tussen die mielielande kry, wil dit op die oppervlak voorkom of die landbou begin kop optel.
By die Nasie in Gesprek-besprekings in die Donkerhoeksaal is die grondkwessie oudergewoonte druk bespreek. Terwyl dieselfde onderwerpe weer deurgetrap word, wonder ’n mens wanneer die dag gaan aanbreek wanneer ons, soos boere elders in die wêreld, weer ons volle aandag aan produksiesake kan gee en die verlammende politiek in die Parlement kan los. Maar ons landbouers se pragmatiese, opbouende gesindheid beïndruk mateloos, en, wragtig, as dit van ons boere afgehang het, was die grondkwessie lankal opgelos, want suksesvolle grondhervormingsmodelle bestaan reeds.
In teenstelling met ons landbouers is die Regering se boodskap terneerdrukkend. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se hart is dalk op die regte plek, maar sy erkenning tydens sy paneelbespreking dat die Regering eenvoudig nie die geld of mannekrag het om grondhervorming te laat werk nie, is verbysterend. Geen wonder hy én sy boere-direkteur-generaal, Mike Mlengana, bepleit vennootskappe met die private sektor nie. En baie boere wil help, minister, maar hoe? Die Regering het homself telkemale bewys as ’n onbetroubare, onbeholpe vennoot wat meer belang stel in politiek as om werklike probleme op te los. Het dit nou verander?
En wat geld betref, wel, kom ons hoor eers waar is daardie R2,5 miljard heen wat die President in sy staatsrede gesê het kwansuis vir droogtehulp bewillig is te midde van die strafste droogte in 100 jaar. Die waarheid is dat niemand weet nie. Daar is bykans nie ’n sent aan die kommersiële landbou bestee nie en dit het ook nie alles aan opkomende en kommunale boere gegaan nie, anders sou al daardie duisende stuks vee nie in die kommunale gebiede gevrek het nie. Dit skree eenvoudig ten hemele.
Die Regering se jare lange verwaarlosing van Suid-Afrika se kommersiële landbou begin nou sy tol eis, met landbouskuld wat op historiese vlakke staan. In die Veesaal loop ek ’n ou vriend raak wat naby Viljoenskroon boer. Die onsekerheid van die grondkwessie knaag aan hom. “Ek’s net moeg om nie te weet wat van een dag tot die volgende gaan gebeur nie. Ek dink daaraan om te verkoop.”
Dis soos ’n skop in die maag. Ag nee wat, sê ek, gaan kry eerder ’n stywe dop in die teetuin (soos die boere die biertent eufemisties noem). Hy glimlag. “Daardie brandewyne is lankal gedrink.”
Voor ek nog oor die skok kan kom, loop ’n ou skoolvriend en sy pêl wat in die prentjiemooi wêreld van die Noordoos-Kaap boer, verby. Die lys van manne wat in sy wêreld hul grond op die mark het, is terneerdrukkend. Niemand is mooi seker wat daaragter sit nie, maar die plase in die skaduwee van die Drakensbergse voorheuwels gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Minister, dit is óók ’n landbouwerklikheid. Is dit nie tyd dat ons daaroor ook praat nie? — CHRIS BURGESS