DANKBAAR VIR WAT HULLE HET
Ek lees van megaboere – hulle wat alles op groot skaal doen – en wonder hoe oorleef ons op die min hektare en water tot ons beskikking.
In Landbouweekblad van 5 Mei 2017 lees ek van R25 miljoen vir 59 opkomende boere vir hul speenkalfboerdery (“Land Bank se SEB-miljarde kan kommersiële boere óók help”). En Mthatha se aartappelboere het R3,3 miljoen ontvang waarmee aartappels verbou is teen ’n koste van dubbel die markprys (“Mthatha se aartappelboere mik hoog”). Waarmee gaan hulle die volgende oes plant as die huidige een teen 50% van die produksiekoste verkoop? Weer met ’n bydrae van ’n ontwikkelingskorporasie?
Ek lees van die skade wat die droogte aangerig het aan veral die meer as 20 000 kleinboere in die suikerbedryf en oor die miljoene rande wat aan boorgate bestee is waarvoor daar nie rekenskap gegee kan word
nie. Ek weet hoeveel gate ons geboor het – sommige net stof en ander met ’n dankbare paar duisend liter water. Ons weet waar hulle is. Ons het ná 1994 begin boer toe my man, soos so baie ander, sy werk verloor het. Hy het nie ’n groot pakket gekry nie. Ons het die grond gehad, maar geen infrastruktuur of werktuie nie. Ons het ook die normale natuurrampe gehad, soos droogte en ’n mielie-oes van 300 kg/ha, hael en ongekende ryp wat ’n vrugte-oes feitlik verwoes het. Swak markpryse is ook deel van ons probleme. Ek raak verward. Opkomende boer. Kleinboer. Voorheen bena-
deelde. Bestaansboer. Wat is die definisie van elkeen?
Vroeg vanoggend lê ek wakker en dink oor al dié dinge en wonder watter van bogenoemde beskrywings ons sal pas. Toe besef ek: Nie een nie! Die korrekte beskrywing – geseënde boer – is nie op die lysie nie.
Met dankbare harte kan ons terugkyk op 20 jaar en optimisties vorentoe gaan, al lyk dinge soms donker. ALIDA BLIGNAUT Modimolle