70 JAAR GELEDE
Uit: Die Landbouweekblad, 21 Mei 1947
GEELBEKKE KAN MERINO’S RED
Byna 20 jaar gelede (in die laat 1920’s) het mnr. Fanie Naudé, tans van die plaas Kriegerspoort by Hanover in die Karoo, besef Merinoskaapteling is op die verkeerde pad — en dat hy as Merinoboer ’n ander rigting sal moet inslaan.
Terselfdertyd het mnr. A.J. (Abe) Pepler, skaap-en-woldosent aan die Landboukollege Potchefstroom, ook besef dat ’n ander rigting met die Merino ingeslaan moet word. Hy het navorsingswerk in dié verband begin doen.
Destyds is aangeneem dat die Merino se vel soveel moontlik geplooi moet wees om die meeste moontlike wol te lewer.
Mnre. Naudé en Pepler het albei besef dat die Merinotelers in hul strewe na geplooidheid nie met die natuur rekening hou nie. Dié dwaling het al die probleme met die Merino veroorsaak — onvrugbaarheid, swak bouvorm, vatbaarheid vir brommers, ens.
Mnre. Naudé en Pepler het byeengekom en ’n beleid uitgewerk vir die teel van ’n ultragladdelyf-Merino. Mnr. Naudé, sy broers en drie Van den Heevers, almal van die Karoo, het begin om die ultragladdelywe te teel.
Daar word na die skape verwys as Geelbekke na aanleiding van die plaas Geelbeksfontein in die distrik Richmond waar mnr. Fanie Naudé aanvanklik geboer het.
Dié skape lyk nou, sowat anderhalf dekade later, na die redding van die Merino. Nie een van die probleme wat met Merino’s ondervind word, is by die Geelbekke teenwoordig nie.